Dag 45

Dag 45. Dinsdag 4 Maart

Vandag het ons ʼn afspraak met die bekende grot, so groot dat ʼn ossewa in hom kon draai en net behoorlik besigtig kan word as dit laagwater is. Na die koffie en shower is ons op pad, nie ver nie en mens kan amper soontoe stap, sowat twee km van die kampplek af maar ons ry en geniet die laaste paar honderd meter wat 4×4 vereis as gevolg van die los sand tot bo by die parkeerterrein by die uitkykpunt. Dis ʼn entjie se afklim van die parkeerterrein om by die see uit te kom. Dis laagwater en die rotsbanke is mooi oop. Ons stap versigtig op die gladde rotsbanke na die voorpunt vanwaar jy die grot van die see se kant af kan inkyk. Na ʼn paar foto’s loop ons weer terug en ontdek waar die ingang na die agterkant van die grot is, ʼn redelike klein opening waarheen jy gebukkend moet loop en waardeur jy klim en dan, die opening wat gaap na die see se kant toe wat jou begroet as jy deur is.

Dis nog mooier as die foto’s wat ek al gesien het, moet die emosie wees as jy hier agter sit en deur die gapende grot se mond oor die see uitkyk, dis asemrowend. Die grot is diep na agter maar die water kom redelik ver in middel deur na die agterkant met loopvlakke aan die kante tot naby die bek van die grot teen die see. Ons gaan sit eers op die rotse naby die water en kan nie ophou foto’s neem nie, dis mooi. Daar is nog twee ander pare besoeker saam met ons in die grot en dit gee die geleentheid om foto’s te neem sonder dat daar heeltyd mense in die foto verskyn, net die opening en die see. Die een of twee kere wat daar wel mense in die mond van die grot naby die seekant staan, verwelkom jy dit want dit gee dimensie aan die grootheid van die grot.  Dis hier waar ek besef ek sal maar moet begin spaar om daardie droom te koop, die wyehoek lens wat ek lankal oor dink.

Dis Anton wat oor die klippe klouter om nader aan die water te kom, ʼn klein kransduif het in die water beland en probeer uitkom as die golwe elke keer sy pogings kortwiek en hom net dieper die water insleep, buite bereik van Anton se helpende hande. Die minute tik verby en jy kan sien die duifie se kragte is min, hy het ophou fladder en dryf nou net op die water. Ons voel magteloos en moet toekyk hoe die see hom ʼn paar keer omdop en teen die rotse spoel tot die beweginglose voël, kop onder die water, by die mond van die grot, die oop see ingetrek word. Mens voel jy het hom versaak, voel amper of jy ʼn mens hier voor jou sien verdrink het terwyl jy magteloos toekyk, wonder of dit ons skuld is, het ons hom kom pla dat hy probeer uitvlieg en in die water beland het, maar dis die lewe en die verloop van die natuur. Soms kan nie anders nie as net te kyk, te wonder en ʼn gevoel van dankbaarheid en genade jou oorspoel dat jy die toeskouer en nie die deelnemer is nie.

Ons spandeer redelik tyd in die grot en klim en klouter van hoek tot kant om foto’s van alle moontlike hoeke af te kan neem. Dit smaak my dis die laaste foto’s wat ek ooit gaan neem want ek kan nie ophou nie, moet elke oomblik vaslê.

Met die opklimslag terug na die parkeerterrein loop ons in nig Meeu en haar seun Dielies, sy vrou en kind vas. Hy werk in Kanada en het vir sy ma kom kuier. Ons groet vlugtig en gesels ʼn paar woorde. Het hom laas gesien toe hy nog ʼn tjokkertjie was.

Dis net na drie en ons ry hotel toe en gaan dring ʼn melkskommel op die stoep. Die wind is rustig en dis ʼn mooi  uitsig hier van die stoep af. Voel of mens die hele dag net hier kan sit en chill met so uitsig. Ek en Anton merk dat daar beweging is by die hawe en sê vir die vrouens hulle moet die Hilux terugry kamp toe, ons sal kom. Ons stap hawe toe en sien die skuit waar hulle die laaste Geelsterte aflaai, dis mooi visse, amper net soos ons gister in Struisbaai gesien het. Ons vra of hulle nie een wil verkoop nie en wil eers nie aanvaar toe ons gesê word dat hulle alles klaar verkoop het.

Moedeloos vat ons die pad terug kamp toe maar net verby die hotel besluit ons ons het te maklik die antwoord aanvaar, draai in ons spore om en stap terug. Al die vis is reeds in groot kratte gepak en die skipper en ʼn netjies geklede man staan en gesels. Ons staan nader en vra ons of ons nie net een vis kan koop nie, waarop die netjies geklede man vra, watter een wil julle hê. Ons vra nie prys nie en kies ʼn redelike een, een wat padkos ook sal verskaf. Een van die manne maak hom vir ons skoon en vlek hom, soos ek daarvan hou. Die paar rand wat ons betaal sal maak dat ek elke dag my kos hier sal kom koop, vars en goedkoop. Die pad terug kamp toe is kort van die opgewondenheid in ons om so lekker vars vis te kon kry. Die vuur word aangesteek en Moeksie moet die sousie regkry. Die sonnetjie is nog nie onder nie en die weer is mooi, reg vir visbraai. Die stoele word uitgesit en ʼn wyntjie vul die glase as ons rustig raak en die middag verder geniet. As die kole reg is, skuif ek en Anton elkeen ʼn voetstoeltjie nader aan die braaier, net ʼn lekker hoogte om die rooster dop te hou en te draai. Die Geelstert is te groot en ons kry net een helfte in die rooster, vanaand sal ons twee keer moet braai, maar ek is vol energie, veral as ek die sousie (botter, knoffel en appelkooskonfyt gesmelt in ʼn bakkie) oor die vis druip en dit in die kole drup en die geur vul die lug. Vanaand kuier ek besonder lekker, moet die uitsien na die varsgebraaide Geelstert wees.

Die eerste helfte, genoeg vir ten minste ses mense, is gaar en ons skep slaai, ʼn broodjie en die vars vis. Die ander helfte van die Geelstert is stadig besig op die kole as ons onsself soos vrate gedra en vinnig die eerste helfte van die vis opvreet. Die woorde en geluide tydens die ete sê vir my dit was ʼn sukses, die varsheid van die vis en die sousie het mooi gepaar, ʼn wenresep. Ons is redelik versadig as die ander helfte gaar is en ons is bly daar is ontbyt of dalk padkos oor. Die besluit is geneem, ons gaan more weer aanry.

Kon nie vir ʼn mooier dag gevra het nie.

Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Ut elit tellus, luctus nec ullamcorper mattis, pulvinar dapibus leo.

Leave a reply