Dag 46

Dag 46. Woensdag 5 Maart

Ons is redelik vroeg wakker en begin so tussen die koffie kamp afslaan en oppak. Ons het beplan om net 149 km vandag te ry, Stilbaai se kant toe, maar nie voor ons lekker Geelstert op broodjies geniet het nie.  Die Geelstert proe amper lekkerder as gisteraand en ek is bly ons het ʼn grote gekoop, anders het ons nie left overs gehad nie.

Die grondpad is redelik goed en ons vorder mooi. Kort-kort kom dit oor die radio – kyk daardie valkie op die paal, daar is ʼn kraanvoël – en ons is gelukkig genoeg om twee volwasse kraanvoëls met twee jonges sommer hier teen die pad te kon sien. Hulle is mos redelik volop in hierdie kontrei.

Ons stop eers by die Trading Post Restaurant en winkel en geniet ʼn koeldrankie voor ons verder ry tot by Malgas, waar ons met een van die min werkende ponte oor die Breërivier moet kom. Die pont is aan die oorkant van die rivier besig om voertuie te laai en ons het ʼn tydjie om te verken voor ons gelaai gaan word. Daar is ʼn leë erf met ʼn netjiese grasperk langs die huis hier agter ons, waar mense om ʼn tafeltjie sit en kuier en ek stap nader om te verneem of hulle kampers toelaat, lyk rustig om hier naby die rivier te ontspan. Die vriendelik vrou sê ek is nie die eerste persoon wat kom aanklop nie, maar hulle laat ongelukkig nie mense toe om te kamp nie.

Die pont is die enigste handgedrewe pont in Suid Afrika en is reeds in 1860 begin. Malgas was daardie dae ʼn belangrike handelspos vir skepe wat met die Breërivier van die see af ingevaar het om voorraad van die Kaap af kom aflaai het wat bestem was vir Swellendam en die omgewing. Die huidige pont is reeds vanaf 1914 in bedryf met deurlopende opgraderings wat al aangebring is oor die jare. Die pont word net tussen sonop en sononder bedryf, so jy moet seker maak jy is betyds as jy hier wil oor. Ek en Moeksie was al hier oor, jare gelede toe die kinders nog klein was. Hulle het dit geniet om ook hand by te sit met die trek van die pont oor die rivier.

Oor die rivier ry ons verder en gaan besoek eers Witsand. Die miljoene slakke oral teen die plaasdraad verstom my, selfs die stamme van die struike oral in die veld is oortrek met die skulpies wat op sommige plekke in trosse saamgepak is. Interessante verskynsel.

Die melkskommel by die Anchorage Beach Restaurant voor op die strand is lekker. Van hier het jy ʼn mooi uitsig oor die riviermond in die rigting van Kaap Infanta aan die oorkant. Hier het ek al mooi Grunters uitgehaal en GROOT Kabeljoue sien uitkom. Die wind het so erg gewaai toe ons een Desember hier kom vakansie hou het dat ons die plek herdoop het na Windsand, was wel ʼn baie lekker vakansie.

Ons vat die eerste grondpad van hier af regs uit in die rigting van Vermaaklikheid en Jongensfontein. Dis nog ongerepte wêreld hierdie en ons geniet die rit na Stilbaai. Ons besluit om by Jongensfontein te gaan kamp opslaan, al baie gehoor van die plek maar was nog nie hier nie. Dis toe ons, net voor jy Stilbaai inry, regs oor die brug draai oor die Goukou rivier wat Stilbaai Wes en Oos van mekaar skei, dat ek en Moeksie weer gesels oor ons Oujaarskamp ʼn paar jaar gelede hier in die oop stuk veld net links van die pad.

Dit was 31 Desember en ons was redelik vroeg al hier op Stilbaai om plek vir die aand te kom soek, maar vergeefs, als is volbespreek en net toe ons uitry, hier by die brug, merk ons die karton boks by die hek na die oop stuk veld waarop staan “Kamp R20 per persoon”. Daar is geen ander kampers nie, net ʼn kar of twee wat eenkant in die veld staan en ʼn man wat naby die ablusie op ʼn stoel langs sy motor sit. Ons ry in en vra die man of ons maar hier kan kamp vir die aand. Is julle seker julle wil hier kamp, vra hy. Dis Oujaar en hier gaan vanaand ʼn moerse party wees, honderde studente gaan die plek betrek en hier party hou tot more in die vroeë oggend ure. Ons sal nie kan slaap nie. Ek en Moeks is nie bang nie en aanvaar die offer om ons waentjie naby die ingangshek teen die draad op te slaan. Soos die dag gevorder het, het die motors begin inry, almal vol jongmense, meeste studente van Stellenbosch. Daar het ook ʼn koswaentjie of twee ingekom en langs ons kom opslaan, take aways vir wanneer die jongklomp honger raak. Die een waentjie leen my kragopwekker en ons kan gratis rib-rolls en hamburgers eet, net soveel ons wil en hulle was rêrig lekker. Daardie aand was hier ʼn MOERSE party en as die studente ons vra of hulle kan help as ons deur die terrein stap, spot ek en sê dat ek net my dogter kom soek, wys hulle dan  waar ons kamp en die ongeloof en verbasing is sigbaar as hulle die waentjie en die gazebo sien staan. Al die duisende studente en jongmense hier was karkampers, sommer net so langs die karre op komberse geslaap, die paar wat wel geslaap het. Die volgende oggend het menige student by ons wou kom koffie koop, gedink die gazebo is ook ʼn stalletjie. Ons het lekker gesels oor ʼn “gratis” koppie koffie met heelwat babbelleerders. Dit was ʼn onvergeetlike Oujaar daardie jaar hier op Stilbaai.

Ons boek in by Jongensfontein karavaanpark en ek is aangenaam verras met die netheid van die terrein asook die hoeveelheid kampers, lyk na ʼn gewilde plek. Met swaer Kobus heeltyd in ons gedagtes, besluit ons om vir minstens drie dae hier te kamp in afwagting van ʼn oproep wat enige dag kan kom, moeilik om daaraan te dink.

Dis lekker sonskyn weer en drukkend met die hoë humiditeit as ons opslaan, nie baie bome hier op die gras waar ons opslaan nie en die sweet tap my af. As die kamp staan, pak ons broodjies en koue vleise en stap see se kant toe, waar daar ʼn paar gras afdakkies met bankies en tafeltjie is. Die windjie is stil en die koelte van die grasdak bied ʼn lekker lafenis as jy hier langs die see sit en die uitsig waardeer.

 Ons gaan ontmoet die mense wat naby ons kamp en almal wil hoor as ons ons storie begin vertel. Kampers werk mos so, jy gaan maak kennis met die mense en deel stories. Ons raak sommer gou groot pelle met Fred en Elmarie oorkant ons. Magda en Moeksie is besig met breiwerk as ek en Anton Seesig Supermark net bo die kampterrein toe stap om hout te gaan koop en die nabye omgewing te  verken.

My selfoon lui en ek kan die hartseer hoor aan seun Jan Hendrik se stem, skoonpa is oorlede. Hulle sal ons op hoogte hou van begrafnisreëlings. Die eerste gedagtes wat deur my kop gaan is die gevoel van vrede en dankbaarheid dat ons by hulle kon kuier ʼn paar dae tevore en hom kon sien, soos my eie pa wat ook op 5 Maart in 1995 oorlede is die Sondag middag nadat hy by ons geëet het en Pretoria toe is na my broer toe, waar hy later daardie middag oorlede is. Die lewe is kort en kosbaar en ek moet dankbaar lewe vir die genade wat ek in oorvloed geniet.

Dis vanaand weer Anton en Magda se voorreg om kos te maak en almal stem vir spagball, op een voorwaarde voeg ek by, dat ons wel ʼn vuurtjie eenkant mag aansteek vir die geselligheid. Buurman Willie-hulle kom ook oor en ons kuier lekker om die vuurtjie. Dis ʼn rustige kampplek ten spyte van die hoeveelheid mense en die geselsery en laggies in die agtergrond klink gesellig.

Die windjie het effe opgesteek as ons bed toe gaan, net genoeg om af te koel en maklik aan die slaap te raak met die branders wat breek as musiek uit die vêrte.

Leave a reply