Dag 47

Dag Dag 47. Donderdag 6 Maart

Die krag is af as ons opstaan maar ons gasbottels is gou uit om die gebruiklike koppie koffie te kan geniet. Soms proe die koffie op die primuskop anders as die elektriese ketel, dalk ook maar my verbeelding. Ons verneem dat die krag storie ʼn redelike landwye affêre is en groot dele van die land het loadshedding.

Ons verkeer rustig by die kamp en gaan maak later ʼn draai by die wassery om lakens en handdoeke te was. Die aankoopielysie is opgestel en ons ry Stilbaai toe vir die aankope by Spar. Dis nie moeilik om vanaand se spyskaart uit te werk, as die lekker lamtjops op die winkelrak uitgestal lê nie. Ons ry verder na Stilbaai Oos en gaan ry ʼn draai deur die karavaanpark. Kan amper nie glo dis dieselfde plek wat elke Desember uit sy nate bars nie, nie ʼn enkele kamper in sig nie, verlate.  Moet darem byvoeg, dis buite seisoen en ook nog nie naweek nie.

Die middagslapie terug by die kamp is net die regte medisyne, hoewel ek meer gelê en dink het aan Swaer Kobus se mense, Anna, die kinders, familie en vriende, my gebede trek vêr.

Ons gaan stap langs die see en geniet die omgewing, dis ʼn mooi stuk van die kus hierdie met die baai hier reg voor die karavaanpark. Terwyl ons stap kyk ek en Anton na lekker plekke om more dalk ʼn lyntjie te kom nat maak. Ons steek redelik vroeg al die vuur aan en sit sommer net rustig en kuier met bure wat kort-kort ʼn draai maak en nog stories kom deel. Die potbrood het mooi gerys en moet nog net kleur kry en deurbak. Tyd is aan ons kant en die tjoppies word stadig oor die regte hitte lekker crispy gebraai, soos Moeksie en Magda daarvan hou.

As ons opskep moet ek vir buurman Willie ook aan die potbrood laat proe, ons skerts al heel middag oor die brood bak en vat ʼn paar lekker dik snye met appelkooskonfyt oor. Alles voel net so perfek, die weer, vriende, lekker kos, sommer net alles. As Willie kom dankie sê vir die brood ʼn tydjie later is dit die koekies en biltong in die bord wat hy terugbring wat my weer laat terugdink, dit is mos ʼn ding waaraan die oumense geglo het, moet altyd die bord weer “vol” teruggee. Nog ʼn mooi dag word afgesluit.

Leave a reply