Dag 48

Dag 48. Vrydag 7 Maart

Ek en Moeksie is opgewonde as ons opstaan en gesels oor Armand, ons kleinseun, wat vandag een jaar oud word. Sou graag daar in Johannesburg wou wees om hom te bederf maar dinge werk nou nie so uit nie. Ek gooi sommer meer suiker as gewoonlik in my koffie en drink die soetigheid op my kleinseun, oupa se oogappel, ons eerste en enigste kleinkind. Glo daar sal later jare nog wees, maar hy is NOU die een.

Ons stort lekker en besluit om te gaan Gin proe by die bekende distilleerder Inverroche, net buite Stilbaai. Al baie van hulle gehoor maar nog nie daar gewees of hulle produk geproe nie, nie dat ek ʼn groot Gin mens is nie. Moeksie geniet nogal nou en dan haar G&T. Ons word hartlik ontvang en word gevra om net ʼn rukkie te wag in die ontvangslokaal, iemand sal nou na ons kom omsien. Die jong man stel homself voor en hy sal ons deur die aanleg vergesel en ʼn proe-sessie aanbied. Hy is die seun van die eienaar, het aan die Universiteit van Stellenbosch sy graad verwerf en nog altyd ʼn belangstelling en liefde gehad om met veral fynbos as kruie vir smaak in drank te eksperimenteer. Dis ʼn redelike klein maar BAIE netjiese opset hierdie en ons word in die fynste besonderhede vertel van al die prosesse en dinge, die ryk geskiedenis aan die plek en van die prosesse, van die begin tot by die eindproduk, veral die fynbos wat die hoof bestanddeel is in die verkryging van die spesifieke en besondere smake van elk van hulle produkte. Ons is aangenaam verras en kon nie sonder ʼn bottel of twee daar wegstap nie. Koop vandag nog vir die bederf nou en dan vir Moeksie een om te geniet, rêrig besonders.

Ons is weer vroegmiddag terug by die kamp en Moeksie en Magda maak Tuna toebroodjies, koffie en tee en ons stap weer af na die grasdakkie voor by die see. Hier proe alles net beter, of sal ek sê anders. Ons kry die nuus dat daar Maandag ʼn gedenkdiens vir swaer Kobus gehou sal word in Jacobsbaai. Ek en Moeksie sal Sondag Langebaan toe ry en weer Maandag na die diens terugry. Anton sê hy en Magda sal hier vir ons wag.

Later gaan ek en Anton aas koop by die Seesig Supermark en besluit om ons vernuf te gaan toets, het nie die visstokke verniet saamgery nie en wie weet, dalk eet ons vars vir vanaand. Moeksie en Magda bly by die kamp, Moeksie wil die skinkbordlappies waarmee sy besig is klaarmaak en Magda het ook naaldwerk wat moet vorder.

Ook maar goed ons is nie afhanklik van die see vir kos vir vanaand nie want ek en Anton kom leë hande terug. Dis mos maar hoe die see (en die bos) werk, soms gee hy en soms hou hy terug, nie dat ons twee die gesoutste vissermanne is nie, maar dis altyd lekker om ʼn lyntjie in die water te gooi. Ons stap na die restaurant net langs die kampterrein en gaan koop ʼn lekker draairoomys wat ons so loop en eet al langs die see.

Ons is net betyds terug om te sien hoe die mense saamdrom om die waterkanaal wat deur die kampterrein loop. Een van die manne van die omgewing is besig om die palings in die kanaal te voer, ʼn bakkie hoender lewertjies. Hulle kom van oral onder en tussen die klippe uit, kleintjies en grotes, as die man ʼn stukkie lewer in sy hand onder die water hou, kom hulle om dit uit sy hand te kom eet. Daar is twee of drie GROTES wat hy heeltyd moet vryf en wegwys as hulle om sy voete kom rondswem op soek na nog lewertjies, anders kry die ander niks. Hy noem van hulle op die naam, ken hulle al goed oor al die tyd wat hy na hulle omsien. ʼn Lekker ervaring om dit te kon aanskou.

Daar kom ʼn hele aantal kampers die middag in wat vir die naweek hier kom ontspan en die kamp is redelik vol. Die vuur knetter lekker as ons seker maak daar sal genoeg kole wees. Vanaand braai Anton lekker hoender en Magda het ʼn groot slaai voorberei. Ons gesels tot laataand oor die dag se ervaringe en die bure gesels lekker saam. Nog ʼn volmaakte dag.

Leave a reply