Dag 49

Dag 49. Saterdag 8 Maart

Ons lê bietjie in vanoggend, is lankal wakker maar geniet dit om te lê en na die see te luister en hier-en-daar die mense se stemme wat praat oor die dag se planne. Ons drink koffie en begin regmaak vir die ontbyt, vanoggend is ek lis vir die full monty, spek, eiers, wors, tamatie, kaas, roosterbrood en oorskiet hoender van gisteraand en jogurt met muesli vir die wat wil. As ek opskep lyk dit of ek weke laas kos gehad het, maar alles lyk so lekker. Die mmmmm klanke vertel dat almal dit geniet, beter as wat enige hotel kan voorsit.

Na skottelgoed ry ons weer Stilbaai Oos toe tot by die Preekstoel waar ons ʼn ent op die strand gaan loop. Ons loer by ʼn paar winkeltjies in op pad terug kamp toe en koop ook nog aas, moet net weer gaan kyk of die vis dalk intussen honger geword het nie. Ek en Anton ry in die rigting van Nuwebaai waar ons versigtig op die rotse ons gereedskap uitsit. Daar is ʼn paar ander manne wat ook lyne gooi, maar dis net kleintjies wat uitkom. Die paar vissies wat ons uithaal gaan dadelik terug water toe, maar eers na die opdrag dat hulle die oumas en oupas moet stuur om te kom eet. Hierdie is lekker ontspanning en kopskoonmaaktyd vir my, stok in die hand en gesels met die see, maar net ʼn visserman sal dit verstaan.

Na ʼn paar ure kry ons vir Moeksie en Magda soos ons hulle gelos het, lekker ontspanne op hulle stoele met breiwerk in die hand. Hulle sê die breiwerk is vir hulle soos visvang vir ons, baie goeie terapie, maar hulle kan darem iets wys na hulle terapiesessie, nie soos ons wat leë hande terugkom nie.

Daar is vanmiddag rugby en ek en Anton stap na die Drie Pikkewyne Restaurant om ons spanne te gaan ondersteun, hy ʼn Blou Bul en ek ʼn Lion. Die Bulle speel eerste en daarna die Lions en ons kuier lekker saam met die ander mense wat ook kom ondersteuning gee.

Die sonnetjie is al laag as ons terugstap kamp toe. Vanaand is dit steak en braaibroodjies, my alombekende antwoord as daar vir my gevra word waarvoor is ek lis om te braai. Dis oudergewoonte en almal kuier saam om die vuur. Moeksie is bang ons kry skeurbuik en maak ʼn slaai om saam met die braaivleis te geniet. Ek beplan ons roete vir more – van hier af terug Langebaan toe vir die gedenkdiens en besluit om Swellendam, Robertson, Worcester en Piketberg om te ry na Langebaan.

Die windjie stoot sterk en dwing ons om redelik vroeg te gaan inkruip.

Leave a reply