Dag 50

Dag 50. Sondag 9 Maart

Ek en Moeksie is voor ses op en drink ons koffie terwyl dit liggies reën. Gelukkig het ek twee van die tent se kante opgeslaan, doen dit gewoonlik as ons langer staan, om koelte te gee en die wind en reën weg te keer. Ons pak ons klere,

Ons groet vir Anton en Magda en vat die 440 km terug na Langebaan. Die pad van Swellendam deur Worcester en Piketberg is nuut vir ons en ons geniet die roete. Die sowat 40 km grondpad is die kortste roete na Moorreesburg van Gouda se kant af en gelukkig het ons die Hilux wat die uitgeryde pad goed vat. Ons ry deur Hopefield en aanskou die 37 wind turbines op die windplaas wat gesamentlik 66 MW krag opwek, genoeg vir sowat dertig duisend huishoudings.

Daar is gereël dat ons die kinders en die familie wat reeds daar is, by Boesmanland Plaaskombuis, naby Club Mykanos ontmoet vir middagete. Die Restaurant is bekend met ʼn mooi uitsig oor die see. Ons ontmoet van die familie en kuier lekker saam met Anna en Jan Hendrik en Michelle. Ek het vir ons slaapplek bespreek by Oliphantskop gastehuis en gaan boek in na ete. Ons pak af en ry later na Drift Wood Restaurant voor op die strand waar Jan Hendrik en Michelle by ons aansluit. Hulle gemoed is goed en meeste van die reëlings vir more se diens is afgehandel.

Dis net voor sononder as ons terug is by ons kamer. Marlene, ʼn jarelange en baie goeie vriendin van Anna slaap in die kamer langs ons en ons ken haar van vorige kuiers in Johannesburg. Ons kuier lekker en Jan Hendrik bring vir my die klere wat hy vir my moes saambring uit Johannesburg. Dis nog redelik vroeg as ek en Moeksie in die bed lê en Big Mamma en daarna The Client op die TV kyk. Die matras is OK en ons raak aan die slaap na ʼn vol dag.

Leave a reply