Dag 51

Dag 51. Maandag 10 Maart

Dis na sewe as ons opstaan en buite by die tafeltjie sit en koffie drink. Moeksie het gister op pad hierheen een van haar breinaalde laat val en kon hom nie kry nie. Sy stap terug bakkie toe om net weer te gaan soek en is BAIE gelukkig toe sy hom langs die bakkie optel. Moes uitgeval het toe ons gister hier gestop en sy uitgeklim het.  Ons stort, trek aan en ry na die Weskus Mall, Moeksie soek ʼn spieël en skoene. Ons koop ʼn Take Away ontbyt by die Wimpy en ry na Jacobsbaai. Dit was swaer Kobus se gunsteling plek en die gedenkdiens word in die Weskusplek Restaurant gehou met sy mooi uitsig oor die baai. Dis regtig ʼn mooi plekkie die, het al vinnig hier deur Jacobsbaai gery jare gelede. Die tafels in die Restaurant is keurig gedek en versier. Jan Hendrik doen die verwelkomings en bedankings waarna skoonseun Johan ʼn paar gedeeltes uit die Bybel voorlees en enkele gedagtes met ons deel. Michelle, Liesel en Jacobus lewer elkeen ʼn baie mooi huldeblyk aan hulle pa. Dis vir my en Moeksie ʼn baie spesiale manier waarop die gesin en familie afskeid geneem het van ʼn geliefde en ek dink by myself, sal ook van so-iets kon hou.

Ons eet en kuier na die verrigtinge en groet almal. Ek staan vir oulaas en staar oor die baai, Jacobsbaai, en besef dat die naam nooit weer dieselfde sal wees nie, het na vandag ʼn ander betekenis gekry. Ons moet nog eers Paarl toe ry om goed daar te gaan aflaai wat Ben en Antoinette by ons agtergelaat het toe hulle in Kleinmond saam kom kamp het. Dis net na een as ons die 560 km pad via die Paarl terug na Jongensfontein aanpak. Ons ry goed en kom net na sewe by ons kamp aan. Dit was die hele pad maar redelik bewolk van die Kaap af tot hier.

Anton en Magda staan met oop arms as ons daar aankom, BAIE bly ons is veilig terug. Dadelik begin hulle vertel van die KAAP VAN STORMS wat hulle die afgelope twee aande moes trotseer. Dit was erg, so erg dat hulle op ʼn stadium daaraan gedink het om my tent af te slaan, maar het net kort-kort kom loer of alles nog staan en niks deur die stormwind geskeur is nie. Die wind het die reën by hulle tent ingewaai en hulle matras het nat geword, soveel so dat hulle dit op ʼn stadium sterk oorweeg het om by ʼn gastehuis te gaan inboek en te wag tot die storm oor is. Gelukkig, soos ek al genoem het, ek slaan ALTYD op vir wind en reën en het ek gelukkig geen skade gekry nie, nogtans dankbaar dat hulle ʼn ogie kon hou.

Die vuurtjie brand reeds en ons vang eers op oor die afgelope paar dae se gebeure. Dis hartseer om so daaroor te dink maar dit waarvoor ons gewag het het gebeur en ons kan more verder toer. Na ete pak ons van die los goedjies in die Hilux en waentjie en gaan kruip in.

Leave a reply