Dag 52

Dag 52. Dinsdag 11 Maart

Dis bewolk as ons opstaan en ons koffie geniet. Nadat ons afgeslaan het geniet ons eers weer ʼn koffie saam met cup-cakes voor ons pad vat. Ons het nog nie finaal besluit waar ons vanaand gaan kamp nie, weet net ons moet Mosselbaai se kant toe. Ons ry tot net buite Stilbaai en draai op die eerste grondpad af na regs. Ek het hierdie grondpad al langs die kus na Gouritsmond baie jare terug gery en wil vir Anton-hulle die mooi natuurskoon wys. Ons ry verby Melkhoutfontein, Driefontein en Ystervarkfontein tot in die Rein’s Coastal Natuur Reservaat. Ons is ʼn paar keer met paadjies af see se kant toe, net om weer – met groot moeite – te moes omdraai want dis ʼn doodlooppad. Die tweespoor paadjie waarop ons ry dra nie baie verkeer nie en ons is deur ʼn paar plaashekke. Voor ons is ʼn draad gespan reg oor die pad en ons moet omdraai, sal ʼn paar kilometer moet terugry tot by die paadjie wat reg draai, weg van die see af.

Ons kom eindelik naby Gouritsmond en wil nie tyd mors nie, skep net vars lug en ry verder, wil gaan koffie drink by Die Punt in Mosselbaai. Ons is so 20 km verder toe my selfoon lui. Dis seun Stefan, daar is by ons huis ingebreek. Hulle het die voorhek se ysters af gesaag, die veiligheidsdeur en die voordeur oop gebreek en so ingekom. Dis maar redelik deurmekaar maar die TV is weg, die kluis in die kamer is uit die muur geruk en weg en daar lê ʼn klomp goed, onder andere juwele, op ons bed. Lyk of hulle gepla was en weg is sonder om die goed op die bed in die duvet kon toevou en saamvat. Dis ʼn baie mistige dag in Roodepoort en niemand het iets gesien nie, nie eens die wag so twee huise van my hek af wat ʼn ander ou se huis beskerm nie, die mis is te dig. Self die hond, Jess die Boerboel, het in haar hok agter die huis gelê en nie eens geblaf nie.

Ek is so geskok dat ek aflui en eers tot verhaal wil kom voor ek vir Stefan terugbel. Ons bly in ʼn gebroke wêreld, ek raak seer hier diep binne my en bid vir kalmte en wysheid, ek gaan dit nodig kry. Ek gee hom die nommer van die versekering en vra dat hy dit moet rapporteer en ook ʼn saak by die polisie moet gaan oopmaak. Hy moet ʼn wag reël en mense kry om die voorhek en veiligheidshek reg te maak. Ek sal hom later bel as ons in Mosselbaai is en net probeer vasstel wat als weg is. Die oorblywende 30 km pad tot op Mosselbaai werk my brein oortyd, skok en teleurstelling, ongeloof, woede, weet nie wat nog nie, ietwat deurmekaar. Dalk is dit die einde van ons toer. Al die moontlike vrae flits deur my kop maar ek het al geleer, moet nie antwoorde soek nie, konsentreer op die oplossings, weet dis makliker gesê as gedoen.

Ons ry Mosselbaai binne, bekend aan ons deur al die jare wat ons tot na 1995, met pa Jan se dood, hier kom vakansie hou het. Ons kinders het ons aandeel in Schweizer-Hof verkoop en ʼn vakansiehuis op Tergniet gekoop. Anton en Magda ken ook hierdie wêreld, het al baie op Hartenbos en hier vakansie gehou. By Die Punt is ons verbaas om te sien dat die kampterrein vol is, almal pensioenarisse wat kom ontspan hier by die see. Ons stap by die restaurant in en daar is heelwat mense. Ons het skaars gaan sit toe die kelner vra of ons wyn of koeldrank wil hê saam met die ete. Sy wys na die Buffet en sê ons kan onsself gaan help. Verbaas kyk ons mekaar aan, wat is nou aan die gang. Sy sê dis middagete vir pensioenarisse, R50 per kop en sluit nagereg en koffie ook in. Ons is mos pensioenarisse en geniet die aanbod. Anton weet nie rêrig wat om te sê as ek hom vertel van die inbraak nie. Is die toer nou klaar, gaan julle terug, wil hy weet.

So tussen die ete deur bel ek weer huis toe. Ek gaan met Stefan deur die huis, lyk of dit net die TV en kluis is van die groot goed wat weg is. Kan nie rêrig vasstel van die juwele en ander kleiner items nie. My pistool, twee Kruger Rande en moontlik 2 horlosies van Moeksie was in die kluis, een van hulle nogal waardevol en sentimenteel, ʼn erfstuk. Klink nie of die hele huis ge-ransack is nie. Ek besluit om nie die toer hier te stop nie, Stefan sal die goed by die huis kan hanteer en reël. Ek laat hom ʼn lysie maak van die items wat ek vermoed gesteel kan wees, gee vir hom waardes en vra hy moet dit as “voorlopig” op die verklaring sit. Die vuurwapen wat saam met die kluis weg is is die belangrikste. Hy sal my op hoogte hou soos die goed vorder.

Die ete hier by die Punt is ʼn groot verassing en bederf. Oor ete besluit ons om deur te ry tot op Buffelsbaai en daar te gaan kamp, nog sowat 110 km. Die 120 km van Jongensfontein tot hier het stadig gegaan met al die omdraai en grondpad wat ons gery het, eerder soos ʼn paar honderd kilometer gevoel, maar dit was ook lekker. Dit reën liggies as ons pad vat en die windjie roer. Ons is op die N2 en is net voor drie in Buffelsbaai.

Ons het al ʼn paar Desember vakansie hier kom kamp saam met vriend Martin-hulle, kinders was nog op skool. Was my nog nie beskore om op een van die staanplekke reg voor op die see oor ʼn Desember te kom kamp nie. Daar is reeds ʼn paar karavane voor maar daar is genoeg staanplekke oop vir ons om van te kies, reg voor op die see. Daar is rêrig min plekke in ons land waar jy so naby aan die see kan kamp, baie naby, met ʼn ongelooflike uitsig oor die baai in die rigting van Brenton-On-Sea. Dis redelik bewolk en hier is nie bome nie so ons slaan die gazebo op vir as dit dalk kom reën of as die son ons more wil uitbraai. Daar is ʼn ligte windjie wat waai maar pla nie as ons buite op die stoele sit en die uitsig geniet nie.

Ons vuurtjie hier voor ons brand lekker en ek dink terug aan die aande wat die rokies reg na bo getrek het as ons by vriende hier voor kom braai het. Sulke windstil aande is skaars, baie skaars en jy moet hulle geniet. Hier het die wind ons al deurmekaar gewaai, al ʼn paar rowwe dae hier beleef wat jy moet vaskap en goeie stormtoue oorgooi. Vanaand is die uitsig na Brenton se kant toe effens belemmer deur die dynserigheid op die see, maar dit bly mooi. Hier het ons al ʼn paar keer die volmaan sien opkom soos ʼn rooi bal oor die heuwels by Brenton-On-Sea en jy sy weerkaatsing regoor die baai kon sien, werklik ʼn sprokies prentjie.

Die vleis smaak hier ook anders, moet die kos wees wat die skape hier eet, of dalk net omdat Anton dit so lekker gebraai het, hier voor op die see. Ons kuier lekker om die vuur na ete, maar ek is stil vanaand, verwerk nog die inbraak. Stefan kon alles laat regmaak maar het nogtans ʼn wag vir die aand gereël. Die res is in hand en ek moet nie verder bekommer nie, troos hy, hy sal alles uitsorteer.

Die rustige krabbel van die see oor die rotse hier naby sus ons gou aan die slaap.

 

Leave a reply