Dag 53

Dag 53. Woensdag 12 Maart

Dis voor die son sy kop uitsteek wat ek onder die gazebo sit met koffie in my hand en net oor die baai sit en staar, besig met diep gesprekke binne myself. Die beskuit proe spesiaal vanoggend, weet nie hoekom nie. Die res ontwaak en kom geniet ook die rustigheid met ʼn koppie koffie. Ons gaan eers lekker stort en dan Knysna toe ry om daar te gaan ontbyt eet, aankope te doen en sommer net in die dorp rond te loop.

Dis lekker om sonder verkeer in Knysna rond te ry, nie die mal Desember verkeer wat jou ure lank kan vashou hier in die dorp nie. Ons eet ontbyt in die Wood Mill Walk sentrum en doen van ons aankope ook daar. Die vuurwapen wat gesteel is pla my en ek besluit om polisiestasie toe te stap en net te gaan seker maak die regte verklaring is afgelê. Die persoon daar sê die saak is reg hanteer maar die wapen is nog nie op die register as gesteel gemerk nie. Ek bel die ondersoekbeampte in Johannesburg en noem dit aan hom, waarop hy my gerusstel dat hy nog besig is met die proses. Nou is ek meer gerus en kan ontspan tot ek terug is by die huis om alles af te handel.

Ons stap deur ʼn paar winkeltjies, doen nog aankope en ry na Thesen’s eiland, Leisure eiland en na die Knysna Heads. Eers na die Paquitas Restaurant onder teen die see by die mond van die Knysna Lagoon, waar ons ʼn drankie geniet en daarna op na die uitkykpunt waar jy ʼn asemrowende uitsig oor die Knysna Lagoon aan die een kant en die see aan die voorkant het. Dis werklik besonders.

Terug in Buffelsbaai gaan stap ons ʼn ent langs die see en herroep ek en Moeksie die talle kere wat ons van hier af tot in Brenton-On-Sea gestap het tydens ons vakansies hier, ʼn bier daar gedrink het en teruggestap het. Soms was ons “moeg” en het iemand by die kampplek gebel om ons te kom haal, lekker herinnerings.

Ons steek die vuurtjie aan en ontspan lekker as ons wag vir die kole om reg te kom. Vanaand is dit braaivleis, pap en sous, lankal weer lis daarvoor. Dis ʼn mooi aand en ek en Anton gesels tot laataand.

Leave a reply