Dag 54

Dag 54. Donderdag 13 Maart

Die besluit is om tot by Tsitsikamma te ry en te gaan kyk of ons plek kry by Stormsrivier mond. Dis net sowat 116 km tot daar en ons is nie haastig om op te pak nie. Eers die gebruiklike koffie, jogurt en vrugte en begin dan, op ons tyd, om op te pak. Ons ry rustig die pad deur Plettenbergbaai, verby Keurboomsrivier en oor die bekende Bloukrans brug, die hoogte Bridge Bungy ter wêreld, 216m met ʼn skoon rekord vanaf die begin in 1997 met geen ongevalle tot op datum nie. Die oudste persoon wat al hier gespring het was 96 jaar oud, ʼn wêreld rekord en die meeste spronge deur een persoon binne een dag, ook ʼn wêreld rekord van 107 spronge in nege ure.

By die ontvangs van die Tsitsikamma Nasionale Park waar jy inboek om by Stormsriviermond te kamp, is ons gelukkig om twee staanplekke langs mekaar voor op die see te kry. Ons bespreek vir die naweek tot Sondag. Anton het intussen met ʼn vriend en oud kollega, Ewald en Carol wat in Kleinbrak kom aftree het gesels en hulle genooi om die naweek saam te kom kamp. Daar is gelukkig nog ʼn staanplek langs ons oop en ons bespreek hom vir Vrydagaand.

Dis die ongelooflikste weer as ons opslaan, sonskyn en windstil. Anton was eers skepties om hier te kom kamp, het kwaai met die wind gestoei ʼn vorige keer en was nie ʼn lekker ervaring nie. Ons was al self hier ʼn paar jaar terug, dit het BAIE gereën daardie Desember en toe ons hier aankom, het baie mense die vorige paar dae moeg geraak vir die reën en modder en opgepak. Ons kry ʼn pragtige staanplek voor op die see met mooi gras en plaveisel, sonder enige modder, vir twee nagte. Dit was perfekte weer vir die twee dae wat ons hier gestaan het, soos nou.

Ons stoele word hier voor langs die braaiplek uitgesit met die mooiste uitsig oor die see, die branders wat teen die rotse hier voor ons breek en water meters hoog die lug in skiet, elke keer ʼn Kodak moment. Dis prentjiemooi.

Die nog vroeg en ek en Anton besluit om die Otter Wandelpad wat hier begin en tot by Nature’s Valley gaan, ʼn entjie te gaan stap, tot by die waterval. Die totale roete is 43 km lank, baie uitdagend en dit neem 5 dae om te voltooi. Die waterval is ongeveer 6 km se stap daarheen en terug. Dis baie mooi en ons kan dit geniet sonder die full-kit wat mens moet dra as jy die vol roete doen, ons het net elkeen ʼn botteltjie water en kamera. Dis nie ʼn maklike roete nie, op en af en heelwat klim en klouter om oor die rotse te kom. Ons stop elke nou en dan en geniet die natuurskoon en gebruik die talle Kodak moments wat gebied word. Dit vat egter nie te lank om by die waterval uit te kom nie en ons spandeer ʼn tydjie hier, neem genoeg foto’s en vat die pad terug. Dis jammer Moeksie is nie ʼn stapper nie, knieë gee probleme, want ek sal graag die Otter eendag wil kom stap.

Die sonnetjie begin laag sak as ons terug is by die kamp, net betyds om die kameras op te stel vir die skilder mooi prentjie wat besig is om te ontvou. Dis ʼn besonderse sonsondergang, die vuurbal wat afsak see se kant toe tussen die hoë rotse aan die see se kant en die berg aan die regterkant. Ek kan nie ophou foto’s neem nie, bang dit gaan nooit weer gebeur nie en wil elke oomblik op kamera vaslê. Die meesterstuk wat ek aanskou laat my klein voel, die rotsformasies op pad waterval toe, die plante, die see, die voorreg om hierdie alles te kan beleef, wat het ek gedoen om dit te verdien, net genade.

As die son in die see verdrink en ek omdraai en terugstap kamp toe, groet die volmaan my wat oor die berg opkom en ek moet eers ʼn minuut of twee staan om dit alles in te neem.

Daar is genoeg hout op die vuur want ons is nie baie haastig om te braai nie, moet die oomblik en die weer geniet. Die braaivleis vanaand is onverbeterlik, moet die speserye wees wat deur moeder natuur gemeng en vandag deur ons oë ingegee is. Die vriendskap van mense wat dit saam met jou deel is daai laaste bietjie spesery waarvan jy nie genoeg kan kry nie. Moeksie en Magda vorder fluks met die breiwerk, moet dalk vra om alles te wys wat al klaar is.

Ons lê ʼn rukkie na die see en luister so deur die gesels voor ons aan die slaap raak. Hier slaap jy lekker, veral as die weer jou goedgesind is soos hy nou doen.

  • Julle moes by Narures Valley ook gaan kamp het…;-)
    En wanneer jy eendag Die Otter stap, sal ek graag saamstap!

  • Leave a reply