Dag 55

Dag 55. Vrydag 14 Maart

Die ritme van die see maak ons rustig wakker. Dis weer ʼn windstil sonskyn oggend. Ons drink koffie en beskuit, gaan wag vir Ewald en Carol om saam ontbyt te maak.

Hulle arriveer net na nege en ons help vir Ewald om sy tent op te slaan, gaan vinnig, hy het een van daai OZ tente wat jy uitgooi en amper net optrek, dan staan hy. Die vrouens is hard besig met hulle breiwerk so tussen die klets deur.

Na ontbyt stap ons na die riviermond se kant toe, wil oor die hangbrug oor die rivier gaan stap. Ons is lus vir stap en vat die Loerie wandelpad, tussen die kampterrein en die restaurant voor by die mond, wat redelik hoog teen die berg uitgaan tot by die Agulhas uitkykpunt, ʼn hout dek waarvandaan jy die mooiste uitsig oor die kamp aan die regterkant tot anderkant die riviermond aan die linkerkant het, met die see wat voor jou uitgestrek lê. Van hier af sien mense gereeld Dolfyne en ook Walvisse gedurende die wintermaande. Die paadjie vat jou deur dele van die woud, fynbos en oor baie stroompies en kom naby die Restaurant weer uit op die teerpad. Dit was ʼn modderspul toe ek en Moeksie laas hier gestap het en jy moes mooi trap om gly-gly die berg uit te kom.

By die restaurant stap jy verby die klein strandjie en vat die 2 km plankiespad al teen die helling van die berg. Die paadjie was laas nog grond toe ek hier geloop het en die hangbrug was gesluit. Die plankiespad is redelik maklik om te loop en klim, daar is BAIE trappies. Oral op die roete is daar Dassies wat op die rotse en in die bome rond klim en in die son sit en bak en ook ʼn verskeidenheid van voëls. Ewald vat dit stadig met sy knieg wat baie moeilikheid gee, rus kort-kort maar vang dan weer op. Die plantegroei hier langs die paadjie is goed bewaar en jy koes hier en daar om nie jou kop te stamp teen die reuse bome hier langs die paadjie nie. Jy klim redelik hoog, tot by die uitkykpunt oor die hangbrug en riviermond, dan vat jy die trappies af na die hangbrug, baie trappies.

Die hangbrug is in 1969 gebou maar is sedertdien heelwat opgradeer en aan gewerk deur Parkeraad wat die instandhouding doen.  Die 77 meter lange brug hang sowat 7 meter bo die water en mens het die mooiste uitsig van hier af oor die rivier wat uit die berg uit kom en ook oor die see. Ons besluit om nie na die uitkykpunt aan die oorkant van die brug te klim nie en sit net ʼn paar minute hier en neem die omgewing in, dis asemrowend. Die staptog terug gaan baie makliker met die twee nuwe bruê wat gebou is om jou al die trappies terug na bo te spaar en sluit later weer by die hoof plankiespad aan, heelwat makliker.

Die roomys by die winkel smaak ekstra lekker as ons terugstap en amper aan die Bosbok ooi kan raak wat hier langs die pad staan. Hulle is redelik volop hier en baie mak. Ons sit rustig by die kamp en kuier, staar na die water wat hoog die lug in skiet as die golwe die rotse tref en die Meeue wat hier by ons op die braaiplek kom sit. Die Swarttobies kom maak ook kort-kort ʼn draai op die rotse hier voor ons waar die Duikers gespreide vlerke in die son sit en bak. Die Bosbok ooi steur haar nie aan ons as sy hier vlak voor ons vreet-vreet verbybeweeg nie. Ons praat oor ons land en al die mooi plekke waarheen ons al was en waarheen ons graag nog wil gaan. Ons is baie bevoorreg.

Die son begin laag sak en ek is weer op my pos, kamera op die driepoot gemonteer en  gefokus op die son wat weer ʼn groot rooi bal word wat oor die see hang en stadig afsak. Dis BAIE mooi as die dag so tot ʼn einde kom en die maan weer sy verskyning uit die Ooste maak.

Die vuur brand hoog as ons almal rondom die braaiplek sit, elkeen met sy eie glasie versnapering wat stadig geniet word. Ons braai steak met knoffelbrood en daar is ʼn lekker slaai ook gemaak. Ons kuier lekker laat om die vuur as ons oor toeka se dae en wat nog als gesels. Na ʼn warm stort is ons kooi toe.

Leave a reply