Dag 56

Dag 56. Saterdag 15 Maart

Ewald en Anton sit al buite met ʼn koffie in die hand as ek my kop by die tent uitsteek. Dis weer ʼn perfekte oggend en daar is nie ʼn windjie wat roer nie. Almal is later op en ons maak reg vir ontbyt. Ewald en Carol moet vandag terug, het ander reëlings wat nog by die huis afgehandel moet word.

Die ontbyt is ʼn feesmaal en as ons klaar geëet het, help ons vir Ewald om op te pak. Ons ander geselskap, Anton se neef Lorette en Maryna is ook in die omgewing en hulle is genooi om vir die dag te kom kuier. Ons sien vir Ewald en Carol af as hy ʼn paar pakke vleis vir ons los om later te braai, hy gaan dit nie saam terugry huis toe nie. Ons was die skottelgoed en kuier rustig verder.

Dis net na elf as Lorette en Maryna by ons stop. Stoele word uitgesit en ons kuier soos ou bekendes saam met Anton en die familie. Magda en Moeksie maak later snackies waaraan ons peusel so tussen die glasies wyn deur. Ons begin redelik vroeg met die vuur, wil klaar braai en eet voor dit te laat is vir Lorette-hulle om terug te ry. Die wors word eerste gebraai, in stukkies gesny en as ʼn voorgereg bedien wat ons sommer so met die vingers eet. Ek hou van die speserye in die wors en Anton het dit perfek gebraai, gaar maar nog lekker sappig.  

Ons kuier na ete om die vuur en ek kom agter Lorette en Maryna gaan nie gou ry nie. Ek en Moeksie groet en gaan kooi toe na nog ʼn perfekte dag. Ons raak gou aan die slaap en hoor nie as Lorette en Maryna ry nie.

Leave a reply