Dag 57

Dag 57. Saterdag 16 Maart

Almal is redelik vroeg op en ons geniet die koppie koffie as ons die verloop van die dag bespreek. Wil oppak en gaan kyk wat op Boesmansrivier aangaan, dalk ons volgende stop. Die oppak gaan vinnig en ons is vroeg in die pad. Hierdie deel van die Kaap tot by Port Elizabeth ken ons almal goed en het al by verskeie plekke hier gekuier en gekamp, so ons bly op die N2 verby PE tot jy anderkant die Addo is waar die R72 regs uitdraai in die rigting van Port Alfred. Eers maak ons brandstof vol op Bluewater Bay en doen aankope by die Spar. Ons ry verder tot by Boesmansriviermond om kampplek te soek. Die Boesmansriviermond kampterrein se hek is gesluit en die gras lyk lank. Dis jammer want ek het al by baie mense gehoor dis ʼn lekker plek, veral oor Desember. Dit neem nie lank om te besluit dat ons gaan aanbeweeg nie.

Op pad na Port Alfred stop ons by die padstal aan die linkerkant, lyk interessant en ons het tyd. Ons drink ʼn koppie koffie en kan nie genoeg praat oor al die interessantighede in die winkeltjie nie – bly ons het gestop.

Die Kampterrein langs die lagoon op Port Alfred lyk na die plek. Ons ry eers in en die plek lyk effe verwaarloos. Die ligging is pragtig hier op die lagoon maar ons besluit om nog te soek. Ons hoor van die plek net buite die dorp en is aangenaam verras toe ons by Green Fountain Farm Resort stop. Ons word vriendelik ontvang en die groen grasperk roep om op gekamp te word. Ons slaan kamp op langs ons eie privaat ablusie en daar is net een ander paartjie – buitelanders in ʼn campervan – op die staanplek langs ons. Die terrein is rêrig baie netjies en ons hou van die uitsig na die Suide wat teen die berg opgaan in die Oceana Beach & Wildlife Resort waar ons kort-kort wild met die vêrkykers opsoek. Die 346 km tot hier was gemaklik en ons het vroegmiddag hier aangekom.

Ons bure lyk krapperig as hulle mor-mor en later hulle campervan skuif, BAIE vêr van ons af. Sou later uitvind die vrou het nie van my pyprook gehou nie. Ons is rustig in die kamp en Anton gaan na die ontvangs waar daar boeke is wat jy kan leen om te lees.

Anton braai die aand Hamburger patties wat Ewald vir ons gelos het. Niemand kan ʼn Hamburger maak soos Moeksie nie en die sous loop langs my lippe af as ek aan die burger smul. Die weer is ons goedgesind, kortbroek en korthemp. Om die kampvuur besluit ons om twee nagte hier oor te slaap en die volgende dag Port Alfred van nader te leer ken. Die aand is warm as ons gaan skuinslê.

Leave a reply