Moeksie is vroeg uit die vere en maak koffie met die oord se reënwater. Hulle het watertenks wat reënwater opvang by elke ablusie. As almal op is, eet ons vrugte en jogurt. Magda en Moeksie was wasgoed en ons is op datum.
Ons ry laatoggend dorp toe en gaan loer in by al die winkeltjies. Moeksie koop ʼn kombers wat lankal op ons lysie is. Ons ry rond en stop by die restaurant voor by die Kowierivier mond op die see. Ons sit buite op die dek want die weer is mooi en ons bestel ʼn bordjie slap-tjips met ʼn glasie wyn, dis al laat genoeg en ons is mos op vakansie. Hierdie is ʼn dorp waarheen ek wil terugkom om ʼn week of twee te kom ontspan, lyk lekker hier.
Op ons pad terug Green Fountain toe stop ons eers by Pick&Pay om ʼn brooddeeg te koop. Die res van die middag is lui-lekker by die kamp. Hoewel daar nie vanaand gebraai gaan word nie moet daar ʼn vuurtjie wees. Dis Moeksie se beurt vir kosmaak en die skaapkerrie is besig om stadig in die pot op die primuskop te prut terwyl Anton die brooddeeg in ʼn pot op die kole het. Dis ʼn gesellige aand, die weer is mooi en ons bespiegel oor die res van ons toer, waar slaap ons môre aand?
Baie dankie Hollies, geniet steeds jou vertellings.