Dag 59

Dag 59. Dinsdag 18 Maart

Na laat opstaan is dit eers koffie, twee of drie vir my, voor ons begin pak. Ons vat dit rustig en is net na 10 uur in die pad. Ons ry deur Oos London en besluit om by Genubie te gaan draai. Ons eet ʼn ligte middagete – en ʼn glasie wyn – op die Beach House Coffee Shop se stoep terwyl ons op die see uitkyk. Dis weer ʼn perfekte windstil dag. Het al van baie mense gehoor dat Genubie ook ʼn lekker vakansieplek is, moet dit nog kom beleef. Ons het al heelwat hier kom inkopies doen as ons by Arend’s Nes in Cintsa gekamp het. Ek wil nuwe plekke ook ervaar en ons besluit om by Morgan’s Baai te gaan kampplek soek maar doen eers aankope en ry by Cintsa in om Anton & Magda die plek te wys.

Die 253 km tot in Morgan’s Baai gaan vinnig en ons is gelukkig om plek te kry in die Morgan’s Baai karavaanpark, voor op die lagoon met ʼn uitsig oor die mond. Daar is nogal heelwat ander kamper hier. Die man by die Hotel waar jy bespreek en betaal is baie vriendelik en ons besluit om twee aande oor te slaap. Ek wou al hier gekamp het maar dit was Desember en hulle was vol, het toe maar by Double Mouth so 5 km met die kus aan gekamp. Dis toe ek na twee dae hier wegry wat ek amper my waentjie verloor het – het net die veiligheidsketting om die hak gesit en die waentjie nie in die hak laat insak nie – en met die wegtrek op die kampplek breek ek die ketting, ook maar goed so want as dit gebeur het met die steil opdraande uit die kampplek uit was die waentjie in die see.

Ons is vroegmiddag opgeslaan en sit lekker in die son met ʼn uitsig oor die lagoon en see en ontspan. Later stap ons langs die see en gaan drink ʼn bier by die hotel. Dis ʼn klein plekkie hierdie en ek geniet die rustigheid.

Die kampvuur brand al vroegaand as ons die uitsig geniet. Dis Anton se beurt vir braai en hy vervolmaak die varktjops en braaibroodjies. Dit moet die vars seelug en die uitsig wees wat die ekstra smaak aan die kos gee, veral as ʼn goeie vriend dit vir jou bedien. Die fles loop ook sommer mooi as alles so goed uitwerk. Die gesels hou aan tot laataand voor ons gaan inkruip. Ons het besluit om nie al die afdraaie in die Transkei te vat nie en gaan met die N2 regdeur ry tot by Port St Johns. Ons was al ʼn paar keer by Koffiebaai en Hole-Inn-The-Wall en sal eerder op ʼn ander geleentheid die Transkei se ander plekke kom opsoek.

Leave a reply