Dag 15 & 16

Donderdag 5 Mei 2022

ROETE : Spitzkoppe, D3716, D1930, C36, C35, D2359, Brandberg White Lady Lodge = 130 km

Almal is redelik vroeg op en ons geniet ‘n lekker koppie koffie. Die pak gaan rustig en ons is net voor nege reg om te ry. Ons vat die 13 km op die D3716 Noord en draai links op die D1930. Van hier af is dit 75 km grondpad en dan nog 4 km teerpad op die C36 tot in Uis.

Die pad is redelik, maar ons moet maar stadig deur die driwwe wat sommige erg uitgespoel en klipperig is. Die landskap is mooi en ons gesels lekker oor die radio. By Uis gooi ons eers brandstof in. Net buite die dorp draai ons regs uit op die C35. Die 13 km tot by ons volgende afdraai is nie ‘n sleg pad nie en ons vorder vinnig. Dan draai ons links af op die D2359 in die rigting van die Brandberg. Dis ‘n lekker breë grondpad met grasvlaktes en die berg wat voor jou troon.

Na 14 km wys die bord ons moet regs afdraai na ons bestemming. As jy 6 km reguit aanry met hierdie pad kom jy by die Brandberg uit met baie besienswaardighede en staproetes. Dis die hoogste berg in Namibië.

Dis net na half twaalf as ons by Brandberg White Lady Lodge inry. Moet sê die eerste indrukke is baie goed. Het baie gelees die afgelope maande oor die plek, veral die olifante wat gereeld hier kuier.

By ontvangs boek ons in vir twee nagte en ek kry al klaar die gevoel twee nagte is te min. Hier kan ek lank rus. Vriend Chris het gesê ek moet vir Sarah en Tertius haar man kom groet, die bestuurders. Sarah was sy sekretaresse by die skool vir baie jare en dogter van die legendariese Sarah De Jager waaroor Carike Keuzenkamp sing.

Ewald en Carol
Hollies en Moeksie
Sarah en Hollies

Ons ry na die kampplekke, jy vat wat beskikbaar is. Hier is Wi-fi en Ewald wil nog eers n paar goed op die selfoon doen en sal later kom soek waar ons kamp. Hier is nog baie plekke oop en ons kan kies en keur. Dis lekker los sandpaaie in en deur die rivierbeddings na die kampplekke toe. Ons stop by een met twee groot doringbome wat ook nie te ver van die ablusie af is nie en begin opslaan. Hier is ook ‘n kraan met ‘n wasbak en ‘n lekker werksblad met klip gebou. Die vuurput is ook net die regte hoogte en lekker groot. Hier gaan ons lekker kuier! 

As Ewald inry sien ek die karavaan se skokbreker het afgebreek en skuur teen die wa. Dit moes op vanoggend se pad gebeur het, al lelike duike en merke op die wa gemaak. Ewald se gemoed is nie lekker as hy die saak so aanskou nie, het reeds die wa laat diens net voor hy gekom het. Sal later kyk wat die skade is en hoe ons dit kan regmaak.

Ons is net na een klaar opgeslaan en ek weet sommer, hier gaan ons lekker kamp ! n Rivierbedding loop net hier agter ons verby en ons het ‘n mooi uitsig na die berg se kant toe. Die sonpanele is uitgesit en werk goed in die Namib son, alles werk mooi.

Ons ondersoek die skade op Ewald se karavaan, die bakwerk het nie te erg seergekry nie, maar die skokbreker sal vervang moet word. As ons rustig by die kamp sit ry Ewald terug Lodge toe om te gaan navraag doen oor hulp met die skokbreker. Tertius sê hy moet die wa more oggend stoor toe bring dan sal hy kyk wat gedoen kan word.

Dis net voor drie as ons Lodge toe ry, daar is gratis Wi-Fi. Ons gaan sit onder n gras sambreel by die swembad en werk bietjie op die rekenaar. Die koue bier is ‘n lafenis en hou nie lank nie. Ek klim ‘n entjie op teen die koppie hier agter my en kry ‘n pragtige uitsig van hier bo af. Die Lodge vertoon soos ‘n oase hier onder met sy pragtige grasperk en tuine.

n Paar gaste waag dit in die swembad, glo dit is buitelanders wat warm kry. Die stokstert meerkatte is mak en hardloop oral na die gaste toe om hulle te vermaak. Ken hulle as hulle mak is, pragtig maar kan soms ook lastig wees.

Ons is later weer terug kamp toe om net rustig te verkeer. Kan sien Ewald is nie lekker nie, sy gedagtes is besig met die skokbreker. As hy nie regkom nie, is dit omdraai vir hulle. Wil nie nou daaraan dink nie, vertrou ons gaan more regkom. 

Dis net na ses as die son in die Weste sak en die vuur aangesteek word. Ons het klaar gestort in die opelug storte met heerlike warm water deur donkies verskaf.

Die stemme van ‘n koor raak al helderder as die plaaslike werkers nader staan en vra of hulle vir ons ‘n liedjie of twee mag sing. Hulle neem stelling in agter die vuur en ek kry hoendervleis as hulle lostrek. Na drie liedjies vertrek hulle en ek steek my kampliggies aan. (Leë koeldrankbottel, kop afgesny met sand in en ‘n kers). Wil vanaand lekker kuier.

Dis Ewald en Carol se beurt vir kosmaak en die steak word reggekry. Carol maak n groentegereg en slaai en ons eet soos konings.

Ek en Ewald kuier nog om die vuur as die vrouens gaan inkruip. Al waaroor ons praat is die planne om ‘n nuwe skokbreker te kry, moontlik hier te laat aflewer of anders in Swakopmund te gaan kry. Sal more hoor wat Tertius kon reël.

Ek sukkel om my lê te kry, die skokbreker spook by my. Hulle moet nie nou omdraai nie !

Vrydag 6 Mei 2022

Ewald sit al buite as ek my kop net na ses by die waentjie uitsteek. Ons drink ‘n koffie en ek help om die paar los goed eenkant te sit sodat hy net kan haak en die karavaan stoor toe sleep. Dis voor nege as Ewald met die karavaan ry tot by die stoor langs die Lodge.

Moeksie begin vroeg met die wasgoed terwyl ek ‘n tou span tussen die bakkie en die boom vir ophang. Dis ‘n mooi sonskyn dag, so die wasgoed sal gou droog word. Ons wil later ‘n draai met die Ugabrivier op ry en die gebied verken.

Ek stap later af stoor toe om te gaan verneem van die vordering. Tertius en ‘n werker is hard besig om ‘n ou trok skokbreker uitmekaar te kry terwyl Ewald toekyk. Tertius het intussen met iemand in Swakop gepraat – hulle het nie die regte skokbreker in voorraad nie, maar sal een bestel. Ewald het besluit hulle ry terug Swakop toe en afhangende wanneer die skokbreker daar sal wees, sal hulle moontlik in Etosha weer by ons aansluit. 

Ek stap terug kamp toe en ek en Moeksie verken die gebied. Ons ry eers Wes af met die Ugabrivier wat nog redelik nat is op plekke. Ons kry ‘n ander voertuig wat van voor af kom en die man sê ons kan nog so 2 km ry tot waar die water in die rivier lê. Die landskap is mooi en ek dink terug aan vorige toere waar ons in Kaokoland vir kilometers en kilometers in die rivierbeddings gery en oorgeslaap het. Ongelukkig is die olifante ‘n week terug hier gewees en het aanbeweeg – sal maar moet terugkom om hulle te kom sien oor ‘n jaar of wat.

‘n Ent voor ons moet omdraai stop ek eers onder n ou groot doringboom, voel of ek sommer net hier kan kamp. Dis mooi wêreld hierdie ! As die water op die spore begin lê weet ek dis nou tyd om om te draai, wil nie onnodig vassit nie.

Ons draai om en ry Oos in die rivierbedding op. Mens kan maklik 40 km in die rivierbedding op ry. Die paar kilometer wat ons ry is lekker droog en ek geniet my Hilux. Hier is n 4×4 roete wat jou reg rondom die Brandberg vat, sal hom ook nog eendag moet kom ry.

By die kamp is Ewald en die karavaan weer terug. Hulle het die skokbreker gesweis en sal hy kan terugry Swakop toe, maar sal dit rustig moet vat. Die feit dat ons nou alleen moet verder is nie n lekker gedagte nie, hoop maar hy kom vinnig reg in Swakop en sluit weer by ons aan. Ons is weer Lodge toe om op te vang met die Wi-fi en die verfrissende kouetjie wat daarmee saamgaan. Iemand het vir Sarah twee klein meerkatjies gebring wat sy nog moet voed. Die ou meerkat wyfie van die werf het Sarah se hande stukkend gebyt as sy die kleintjies se reuk op Sarah se hande ruik. Sy sal die twee kleintjies maar moet teruggee, die wyfie sal hulle nie aanvaar nie.

Terug by die kamp begin ons stadig los items wegpak, wil nie te laat more in die pad wees nie. Die atmosfeer is anders, dink my planne gaan ook verander. Sal maar more opstaan en kyk waarheen van hier af.

Dis net voor ses as ons weer terug ry Lodge toe. Die koppie agter die swembad het ‘n platvorm en bankies vanwaar jy sit en die sonsondergang aanskou. Met die nodige lafenis in die hand neem ons stelling in saam met heelwat ander gaste. Die uitsig na die Weste is asemrowend en die rotse hier agter ons verkleur soos die son sak.

Die kersliggies word weer vanaand aangesteek. Ewald gee ‘n hele sak vleis en bederfbare items vir ons, hulle sal weer in Swakop aanvul. Ek gaan vanaand tjops braai as afskeidsete met n lekker braaibroodjie.

Na ete gooi ek nog n paar stompe op die vuur, wil nie vroeg gaan slaap nie. Ek en Moeksie besluit om more pad te vat in die rigting van Khorixas en dalk by ‘n ou skoolvrien, Jannie Straus op Kamanjab, n draai te gaan maak. Ek het ‘n SMS vir hom gestuur maar nog niks gehoor nie, sal more weer opvolg. Ons aanvanklike beplanning was om Twyfelfontein om te gaan, Palmwag te besoek en dan Etosha toe te ry. Was al by Twyfelfontein en Palmwag, sal dit volgende keer weer doen.

Die slaap bly lank weg as ek in die bed rondrol en weet Ewald en Carol moet more omdraai.

Scroll to Top