Saterdag 7 Mei 2022
ROETE : Brandberg, D2359, C35, C39, D2743, Ugab Terrace Lodge = 203 km

Ons is vroeg uit die vere en geniet ‘n lekker koppie koffie voor ons die laaste goedjies pak. Die afskeid is nie lekker nie, sal kontak hou en sien wat gebeur.
Ons ry terug tot by die C35, ons draai Noord na Khorixas en Ewald Suid na Uis. Van Uis na Henties is dit 122 km grondpad en die pad volgens Tertius is nie te vrot nie. Dan nog 70 km teerpad tot in Swakopmund – hulle gaan weer by Alte Brücke bly. Die C35 Noord is redelik tot by die brug wat so 35 km Noord is. Van daar werk hulle aan die 70 km pad tot voor Khorixas, gaan glo geteer word van Henties tot in Kamanjab. Ons vorder redelik goed tot by die brug oor die Ugabrivier. Hier begin die padwerke en jy ry op ‘n baie goeie pad langs die ou pad waaraan hulle werk.
Ons stop voor twaalf by die OK Foods op Khorixas, moet vir ‘n paar dae aankope doen. Die vleis op die rak is nie wat ek wil hê nie en die man by die vleistoonbank gaan haal vir my n lekker groot gevriesde rump steak. Hy het ook vir my saddle tjops gesaag wat maar bedenklik lyk, eerder soos nekvleis gelyk. Ek praat met die bestuurder en hy gee my ‘n goeie afslag.
Ons is nog nie behoorlik op spoed buite die dorp nie toe dit my byval ons data gaan verval. Ons draai om en gaan koop eers data by die Mall aan die linkerkant soos jy die dorp inry. Van hier af is dit 52 km teerpad op die C39 tot by die afdraai na die vingerklip op die D2743. Dan nog 18 km grondpad tot by ons slaapplek.
Ons ry redelik vinnig tot by die afdraai na die vingerklip en is geskok in die toestand van die D2743. Baie ERG stof en diep slote oral in en oor die pad gespoel, ons vat dit maar stadig. Half twee draai ons in na die Ugab Terrace Lodge ‘n paar km voor die vingerklip.


Die paadjie vat jou tot by ‘n parkeer area wat wys dat busse en trokke hier moet parkeer. Ek ken nie die Lodge nie en besluit om die waentjie hier af te haak en met die bakkie verder te ry. Ook maar goed so, want dis ‘n smal en steil pad tot bo by die Lodge en daar is nie rerig omdraaiplek vir ‘n waentjie nie. n Jong man groet ons vriendelik en hulle het net drie staanplekke. Gelukkig is nog net een bespreek en ons kan besluit watter van die beskikbare twee ons wil vat. Ons besluit om vir net een nag te betaal, sal eers kyk na die staanplekke en as ons so voel, later vir nog ‘n nag betaal. Ons ry weer af waentjie toe, haak hom en ry na die kampplekke toe. Dis ‘n baie klipperige tweespoor pad en ek wonder hoe gaan die staanplekke lyk.
Die staanplekke is BAIE ongelyk en daar is nie ‘n kat-se-kans dat jy n tentpen hier ingeslaan gaan kry nie. Hierdie staanplekke is eerder bedoel vir Campers en voertuie met daktente. Dit vat ‘n rukkie voor ons finaal besluit op staanplek nommer een. Nou is dit mooi meet en pas om die waentjie so gelyk as moontlik te kry op die klippe. Ek wonder of ons nie eerder verder moes ry en ander slaapplek gaan soek het nie. As die waentjie op sy plek is en die toue met stapels klippe vasgepak is, verander my gevoel. Dis pragtige natuurskoon en ons gaan dit geniet. Elke staanplek het boonop sy eie ablusie. Hier is ook ‘n lekker sementblad met skadunet oor en die uitsig van hier af is mooi.




Nie lank na ons opgeslaan het nie kom n bakkie met ‘n daktent in. Die twee manne staan op nommer 2 net hier bo ons agter die ablusiegebou. As Moeksie ons ablusie se sleutel wat nommer twee gemerk is vir hulle wil gee, sê hulle dis nie nodig nie, hulle sal nommer een ablusie gebruik. Eers as Moeksie mooi verduidelik dat ablusie twee nader aan hulle kampplek is, ruil hulle sleutels.
Dis net na vier as ons die voetpaadjie teen die kop uit aandurf Lodge toe. Dis redelik steil op plekke en die buitebande wat as trappies uitgesit is, werk goed. Bo by die Lodge gaan sit ons op die dek en drink n bottel koue witwyn terwyl ons die landskap bewonder. Ons was voorheen al ‘n paar keer by die vingerklip wat mooi sigbaar is van hier bo af. Ook al by die Lodge verbygery, maar nie geweet dis so besonders hier nie. Hier is heelwat staproetes en ook n zipline waar ‘n foto van jou geneem word met die vingerklip in die agtergrond.




Ons is net voor donker weer by ons kamp en die vuur word aangesteek. Die manne van staanplek twee kom maak ‘n draai en soek inligting oor Botswana. Ek probeer al hulle vrae beantwoord en ons gesels lekker. Dis as hulle al terug is by hulle kampplek dat dit my byval, ek het ‘n boek oor Botswana gekry wat iemand weggegooi het en nie rerig gaan gebruik nie. Ek stap op en die dankbaarheid is duidelik sigbaar as ek die boek vir hulle gee, hugs word uitgedeel.

Een van die manne kom later met n lekker bottel Spier wyn om dankie te sê vir die boek, gaan hulle baie help. As ek en Moeksie gaan inkruip hoop ek die wind kom nie vannag op nie, gaan ons wegwaai.