Ons het lekker geslaap en is op voor die son sy kop uitsteek. Dis redelik koud as ons op die stoepie sit met ‘n koffie in die hand en wag vir die son om op te kom.
Ons gaan vanoggend die vingerklip besoek en sal dan terugkom om af te slaan. Het besluit om by Outjo te gaan oorslaap, moet bietjie running repairs doen. Die knip wat die spaarwiel se raam vashou is besig om uit te skeur, sal moet plan maak. Die vingerklip is net 4 km van hier af, so dit sal vinnig gaan.
Hierdie is die enigste vingerklip in Namibië wat nog staan. Daar was jare gelede een (Mukurob) naby Asab in die Suide wat op 7 Desember 1988 omgeval het. Was bevoorreg om hom ook as kind te kon sien. Die huidige vingerklip is 35 meter hoog en die basis is 44 meter in omtrek en ‘n belewenis om te sien.
Ons is net na nege weer terug by die kamp en die afslaan gaan vinnig. Ons vat die 14 km op die D2743 maar rustig. Ons draai regs op die C39 en die 80 km teerpad tot by Outjo gaan vinnig. Dis as ons ‘n ent op die teerpad is dat my oog die sleutel langs my twaksak vang, dis die ablusie se sleutel. Gaan nie nou terugdraai nie en sal op Outjo reëlings tref met hulle hoe ons gaan maak.
Die kampterein net voor jy die dorp inry lyk na net die plek vir een aand. Ons stap deur die terrein en is nie oortuig dat ons hier wil oornag nie. Die grond lyk hard en die staanplekke het min gras. Hier is wel ‘n mooi stuk grasperk langs ‘n groot afdak net langs die ablusie maar dis net vir groepe. As ons weer by die kantoor kom en vir die dame sê ons gaan ander plek soek, sê sy ons moet hier oornag en kan op die lekker groen gras kamp opslaan waar die groepe gewoonlik kamp. Ek vertel die vrou van die sleutel wat ek nie teruggegee het nie. Sy bel onmiddelik die Lodge en ek praat met die man, hy sê dis nie ‘n probleem nie en ek moet net die sleutel hier ingee. Hy sal reël dat iemand die sleutel hier kom kry. Ons trek in en slaan kamp op.
Behalwe die man met sy Land Cruiser hier langs ons is daar niemand anders in die kampterrein nie. Hy doen recoveries en slaap sommer agter in die Cruiser, wag vir ‘n call van ‘n trok of voertuig wat ingesleep moet word.
Dis Sondagmiddag en ons is net rustig in die kamp. Sal more gaan aankope doen en soek vir ‘n groot wasser om die knip wat wil uitskeur te verstewig. Ons gebruik die gratis Wi-fi by ontvangs om op datum te kom met ons kommunikasie.
Dis net na ses as ek die vuurtjie aansteek. Die tjops wat ons in Khorixas gekoop het is amper nekvleis, maar gaan vanaand gebraai word. Dis ons laaste vleis en sal more weer aanvul, het al voorheen baie lekker vleis hier by n slaghuis in Outjo gekoop.
Ons eet lekker en geniet ‘n lekker stort in die baie mooi ablusie. Ons is redelik vroeg bed toe en bespreek more se program. Na aankope sal ons Noord ry tot voor Etosha en kampplek soek. Dis sowat 100 km teerpad tot by die hek van Etosha, so ons gaan nie haastig wees more oggend nie.