Ek is nie eintlik ʼn vroeë oggendmens nie, behalwe as ek kamp, dan is ek meeste van die tyd op om die dag te sien breek. Weet nie wat dit is nie, maar ek put energie uit die aanskoue van elke sonsopkoms en ondergang. Dis seker die simboliek van “daar is ʼn begin en ʼn einde”, elke dag ʼn nuwe dag. Na ʼn paar koppies koffie het almal ontwaak en ek sit water op die vuur vir die stort, wil vir Magda en Moeksie bederf. Die waterkraan by die wasbak buite die stort droog gou op, was nie laas hier toe ek hier was nie. Ek vul die water aan met ons eie water. Die geluide uit die stort, ʼn hout skerm met beton vloer en ʼn emmer wat jy vol water maak en ophys, bevestig dat hulle bederf voel.
Ons besluit om Mata Mata toe te ry vir die dag, ʼn voldag uitstappie. Op ons pad uit, stop ons weer by die gemsbok karkas wat nou al redelik skoon gevreet is. ʼn Tweede wyfie het ook kom vreet en ou vuilbaard bied goeie Kodak moments saam met die twee welpies. ʼn “Varknek” in ʼn Landcruiser stasiewa, Botswana nommerplaat, wil ons wys hoe dit gedoen kan word en ry deur die veld tot tussen die ander karre en die karkas. Gelukkig is daar ʼn bewaarder in een van die voertuie wat die “varknek” uittrap in sy eie taal en hy het dit so goed gedoen, die “varknek” spin sy Cruiser en vat die pad. Dis wat ek jou noem as jy onbeskof optree in ʼn park, optree asof dit jou plaas is en maak soos jy smaak, ʼn “VARKNEK”.
Weereens, ‘n droom!
Hollies dit lyk na ‘n fantastiese ondervinding, jy sal nie net dalk al die ondervindings plekke, kampe ens vir ons in ‘n bundel kan oopmaak en print, met fotos natuurlik, teen ‘n koste nie?
Die Kgalagadi bly enig in sy soort en besonders!