Dag 13 & 14

Dinsdag 3 Mei 2022

ROETE : Alte Brücke, B2, D1930, D3716 Spitzkoppe = 165 km

Ek is al vroeg op, opgewonde om te gaan soek vir die knippe. Hoop ek kom reg, anders moet ek maar n MacGyver plan maak. Net voor agt spring ek in die bakkie en ry. Dis as ek halfpad hek toe is wat ek die snaakse klapgeluid hoor en dadelik stop. As ek uitkim kom Moeksie aangehardloop en ek besef dadelik wat gebeur het. Die kampyskas bly in die bakkie en as ons langer as een aand staan, sit ek n verlengkoord agter deur die kappie se ruit om 220v krag aan die yskas te gee. Ek het gery sonder om die verlengkoord uit te prop.

Ek is KWAAD vir myself, hoe kon ek dit doen ?! Al baie gedink ek moet n bordjie maak waarop staan “Yskas Koord” en hom op die dash board sit voor die stuurwiel, sal dan nie gebeur nie. Ek sê vir Moeksie ek sal damage control kom doen as ek terug is en gooi die afgebreekte stuk koord agter in die kappie en ry verder.

My eerste stop is Cymot, hulle het nie en verwys my na OL Opposite Lock net verder op in die straat wat my tweede stop sou wees. Die jong dame stap na die rak en sê hulle het net kleintjies, ek moet twee grotes kry. Ek vra waar sal ek nog kan gaan soek en sy sê omdat more ook n vakansiedag is, maak min van die fabrieke oop vandag. Sy vra die eienaar wat agter sy lessenaar sit en ek hoor hy sê daar moet n boks vol oues agter in die stoor wees. Ek stap saam en is verlig om die boks te sien, almal die grootte wat ek soek. Ek krap tot ek drie kry wat nog redelik nuut lyk en betaal R150.00. Ongelukkig het hulle nie sleutels nie, maar dit sal nie pla nie.

Terug by die kamp stel ek eers ondersoek in na die verlengkoord se skade. Die prop het gelukkig net uitgetrek by die waentjie en ek gaan net so een meter koord verloor waar hy afgebreek het agter in die bakkie se canopy. Ek is verlig, kon BAIE groot skade gewees het. Dit gaan vinnig om die knippe te vervang en ons begin pak.

Ons stop by Spar en doen haastig ons aankope. Ek en Ewald stap oor die straat na die slaghuis waar ons vleis aankoop. Ek koop altys vleis hier by Namaqua Meat Market, hulle vleis is lekker. Dis net na elf as ons die grootpad vat.

Dis as ons Swakop uitry met die B2 wat ek en Ewald oor die radio sê ons moet nog by die Maanlandskap en by Goanikontes kom kamp. Ons wou ook nog Henties toe, maar ons tyd was min. Die toppe van Spitzkoppe is baie vêr sigbaar aan die Noordekant op die pad na Usakos. Na 125 km draai ons links af op die D1930, nou nog so 40 km grondpad tot by ons bestemming. Die grondpad is redelik en ons vat hom maar versigtig met die driwwe wat redelik uitgespoel is. Na 30 km draai ons weer Suid op die D3716 en ry die 13 km tot by Spitzkoppe se ontvangs.

Dis net voor twee as ons by die ontvangs stilhou. Daar is baie staanplekke om van te kies en ons sal eers gaan kyk watter een is lekker voor ons kom bevestig. Ons betaal vir twee nagte en ek sê vir Ewald hulle kan hier wag terwyl ek n kampplek gaan soek.

Ek en Moeksie was al hier en gaan soek n lekker plek. Ons “ou” staanplek is beskikbaar maar twee kampers gaan nie lekker daar pas nie. Ons ry half agterom die groot spitskop en aan sy agterkant wag ons plek vir ons. Hier is n lekker groot doringboom en die area rondom is redelik gelyk. Die uitsig van hier af op die koppe is ook baie mooi. Ons haak af en ek ry terug om vir Ewald te gaan haal. Dis wanneer heelwat voertuie met waentjies en daktente by my verbykom dat ek weet, ons was net betyds.

Ewald en Carol is ook ingenome met die plek en ons begin opslaan. Hier gaan ons lekker kuier !

Ons is net na drie klaar opgeslaan en ons geniet die rustigheid. Hier is nie krag nie en die sonpanele werk lekker in die warm son. Moeksie sê ek moet die stort regkry, sy wil vanaand n lekker buitestort geniet. Ons stortskerm moet uitgesit word en die watersak moet oor n tak  van die boom opgehys word. Dis as ek die stortskerm oopmaak dat ek lekker begin lag, ek het die strandskerm saamgebring en nie die stortskerm nie. Hy gaan nie werk nie. Gelukkig is die kampplekke hier baie ver uitmekaar uit en sal ons maar in die opelug stort in die donker.

Ons het nie sein hier by die kampplek nie en ek en Moeksie ry ontvangs toe waar daar n lekker kuierplek en kroeg is. Hulle het Wi-fi, maar dis baie duur en ons dongle sal werk. Hier kom-en-gaan die sein ook maar. Ons laai boodskappe af en ry terug kamp toe. Ons moet mooi ry om nie die verkleurmannetjies raak te ry nie, twee gesien op pad terug.

Dis net na vier as ek begin met die vuur, vanaand is weer n spesiale aand. Vanaand is dit staanrib hier tussen die rotse, of sal ek eerder sê : n Rib met n view ! Ewald en Carol het n draai gaan ry om die wêreld te verken.

Dis as die son horison se kant toe beweeg dat die rotse elke paar minute n ander kleur kry. Hier kan ek net sit en die prentjie voor my bewonder, die Skepper se skildery. Dis n mooi einde aan n volmaakte dag, geseënd !

Die rib is besonder lekker, moet die omgewing wees wat die smaak aanhelp. As ek die bene afeet en my vingers skoon lek is ek BAIE bly ons het twee gekoop, sal sommer elke aand een braai.

Na ete bring ek die stort in gereedheid, ketel word gekook en die bakkie se voetmatjie word onder die stortsak gesit, hou jou voete skoon. Ek kan hoor Moeksie geniet die stort hier agter die waentjie en ek sê sy hoef nie spaarsaam te werk met die water nie, ons het genoeg. Sal more weer gaan haal by die kantoor. Na Moeksie is dit my beurt, niks so lekker as n bosstort nie. Carol vat n skottelbad in hulle karavaan as Ewald ook die stort geniet.

Ek gooi nog n paar stompe op die vuur, more is n rustige dag. Wil nog bietjie die hemelruim bekyk, hier waar die sterre nader aan jou voel as meeste ander plekke en ook baie meer is. Net voor ek gaan inkruip gooi ek die kole met water dood, die wind het redelik sterk begin opsteek.

Woensdag 4 Mei 2022

Dis die val van skottels wat my wakker maak. Dis nog donker as ek by die tent uitklim en n sterk wind begroet my. Ewald is reeds buite en tel oral goed op. Gelukkig het niks gebreek nie, maar oral waai skottels en lappe rond. Ons maak alles bymekaar en prakseer n tou oor sy uitvou tent om hom stewig te hou. Dis net na een uur as ons besluit alles is OK en ons sal more om die kamp stap om te sien wat het weggewaai.

Die son het nog nie sy kop uitgesteek as ons buite is nie. Gelukkig het die wind gaan lê. Ek pak alles weer uit op hul plekke en begin n wye draai om die kamp stap. Redelik ver in die veld tel ek n afdroogvadoek op en nog n ent verder n tafeldoek. Lyk na al wat die veld in gewaai is. Oor n lekker koppie koffie bespreek ons die storm van gisteraand, gelukkig geen skade nie en kon erger gewees het. Het al geleer, as jy opslaan, doen dit reg, want die wind gaan waai en dit gaan reën.

Vandag is net n rusdag, sal later bietjie rondry om die koppe en rotsformasies te beskou. Wil ook n draai by die Lodge gaan maak om op te vang met ons selfone. Net na sewe begin die rotse rondom ons kleur kry en die kleur verander elke paar minute. Kan heel dag net hier op my stoel sit en die veranderende prentjie dophou.

Hier kom twee voertuie in en hulle gaan die hoë spitskop uitklim. Die roete na bo begin n paar honderd meter van ons kampplek af. Dink nie ek gaan dit vandag aandurf nie, maar glo die uitsig van daar bo af moet iets besonders wees. Ons begin ontbyt maak, die gewone – gebakte eier op n broodjie saam met gister aand se oorsiet rib – nie dat daar baie oorgebly het nie.

Na ete ry ek en Moeksie Lodge toe. Ons moet nuwe data op die dongle se simkaart laai en kan dit net doen met n selfoon. Die dongle se simkaart word in Moeksie se foon gesit om die voucher se kode in te tik, dan weer terug in die dongle. Ek sukkel om die simkaart uit die dongle uit te kry met die skuifspeld. Ek probeer geduldig maar na n halfuur besluit ek dis eers genoeg, sal later weer probeer. Dit lyk altyd so maklik as die Pakistanies dit doen, steek die skuifspeld se punt in die gaatjie en voila, pop die simkaart uit. Die vorige keer was makliker maar ook eers na n bietjie gesukkel. Besluit ek sal beter oplet in die klas as dit weer gedoen word, kan nie so moeilik wees nie !

Ek en Moeksie ry n paar draaie en bewonder die rotsformasies. As ons terug is by die kamp is Ewald en Carol nie daar nie, ook gaan rondry.

Ons sit net lekker en ontspan hier onder die ou groot doringboom en geniet die rustigheid. Die stilte is hoorbaar. Die twee Neushoringvoëls vermaak ons as hulle hier bo in die takke rondspring en kort-kort af vlieg grond toe om n takkie of klippie op te pik en weer hier bo ons kom sit en speel. Selfs die koringkrieke loop deur.

Ek het nou genoeg tyd op hande en het weer die dongle en simkaart byderhand. Ek inspekteer eers die gaatjie en werk uit wat binne “behoort” te gebeur. Hierdie keer gaan dit maklik. Ek bestudeer weer die meganisme en vang die truuk. Sal nou maklik gaan om weer oop te maak. 

Net voor 4 ry ek en Moeksie weer Lodge toe, gou weer gaan kyk of ons opvangs kry. Die sein is maar swak en ek moet op die rotse by die watertenks staan om n redelike sein te kry. Die een kelner verduidelik dat daar redelike opvangs iewers agter nader aan die koppe is, skynbaar naby die skedel van n dier op die tweespoorpaadjie. Ek kan darem doen wat ek wil doen van hier waar ek staan en gaan nie nou soek na die skedel nie. Ek laat weet die kinders waar ons trek en doen n paar facebook postings.

Ons ry via die swemgat terug en is verbaas om al die locals se kinders hier bo te kry waar hulle heerlik in die water baljaar. Die swemgat is n redelike groot watergat bo op n rotskoppie. Hier is ook honderde voëls wat in en uit vlieg om water te kom drink.

Dis net na vyf as ons terug is by die kamp. Ewald en Carol sit rustig en ontspan onder die ou groot doringbome in die kamp. Hulle was ook vroëer by die swemgat en het lekker rondgery om die koppe te aanskou. Ons sit en gesels oor die wonder van die spitskoppe, regtig iets baie spesiaal en ‘n moet om ten minste een aand hier oor te slaap. Die son se strale verander die grasveld hier langs ons in ‘n koringland.

Die mense begin die koppie doer oorkant bekruip, wil die son sien sak van ‘n hoogte af. Die rotse se kleur verander as die son sy kop wegsteek agter die spitskoppe en jy kan maar net staar, geen woorde kan dit beskryf nie.

Vanaand is ons beurt en die hoender word op die rooster gepak. Moeksie maak n slaai en kook n mielie vir bykos. Daar is nie haas nie en ons sit lank om die vuur voor die kole reg is vir braai. Ons gesels oor ons ervaringe hier en bespreek more se program. Ons gaan nie ver ry nie, net oor die 130 km en dit sal reg wees as ons so rondom nege in die pad kan wees.

Na ete durf Moeksie weer die stort aan. Die geluide wat van agter die waentjie kom sê vir my sy geniet dit. Ek begin n paar items in die bakkie laai as Ewald sy beurt vat om te stort.

Ek lê redelik lank wakker en is dankbaar vir wat ons kan beleef, GROOT genade !

Scroll to Top