Ons is net voor ses besig met ons eerste koppie koffie. Ek skroef die knip, wat die spaarwiel op die waentjie vashou, af en skrik as ek sien hoe ver die metaal al uitgeskeur het, net betyds gesien anders kan dit groot skade gewees het. Ons begin al die los items wegpak, sal die tent wat nog nat is van die dou kom afslaan as ons terugkom. Net voor agt ry ons die paar honderd meter dorp toe. Die slaghuis wat ons soek het toegemaak en ons stop by OK Foods. Ons moet vir minstens vyf dae aankope doen en ons is beïndruk met wat op die rakke beskikbaar is. Ons stop ook by die Spar en kry die laaste items wat ons nodig gaan kry. Op pad terug kamp toe stop ons by die hardeware winkel en kry die regte wassers wat vir die knip sal werk.
Ek sit die wassers en die knip terug terwyl Moeksie die aankope wegpak. Die afslaan gaan gou en dis na tien as die Hilux se neus Noord draai op die C38. Ons gaan kyk hoe lyk dit by Etosha Safari Lodge, deel van die Gondwana groep.
Net na elf draai ons in by die Lodge. Ons ry ‘n draai deur die kampplek, baie netjies met pragtige grasperke. Hier is ‘n hele aantal kampers wat hier staan. Ons vra die tariewe en besluit om eers na die Lodge oorkant die pad te gaan kyk voor ons finaal besluit. Ons ry oor die grootpad na Eldorado Lodge en word vriendelik verwelkom by ontvangs. Hulle het baie plek en nooi ons om na die kampterein te gaan kyk. Ons het al hier deurgery, jare terug net om te kom kyk vir toekomstige verwysing. Ons hou van wat ons sien en bespreek vir twee nagte.
Ons is die enigste kampers en kry ‘n baie lekker staanplek op die groen gras onder die koeltebome. Hier gaan ons lekker rus. Ons het besluit om more in te ry Etosha toe vir die dag en dan navraag te doen oor beskikbaarheid van kampplek by Halali, wil so 2 nagte daar gaan kamp.
Ons stap later Lodge toe en ontmoet die eienaar Adri Pienaar en sy vrou Hanel. Hulle het werklik ‘n juweel van ‘n plek hier en is die derde geslag op die plaas. Hulle boer met bees en skaap maar hier is baie wild op die plaas, onder andere ook leeus, luiperd, jagluiperd, hiëna en ander roofdiere in groot kampe.
Net na ses stap ons na die uitkyk dek om die son te gaan groet. Hier is elande, blouwildebeeste, gemsbokke, waterbokke en rooibokke wat kom water drink. Ons sien ook die jagluiperds in hulle kamp op ‘n afstand. Nou is ek eers bly ons het hier kom kamp, dis my wêreld die !
Dis sterk skemer as die vuurtjie brand en die leeu in die agtergrond brul, hy klink nie baie ver nie. Vanaand gaan ek lekker slaap met die naggeluide wat soos musiek in my ore klink.
Die varktjop en knoffelbroodjie proe vanaand anders, lekkerder. Seker maar die oop sterrehemel en die naggeluide wat die ekstra smaak gee. Ek lê redelik lank en luister na die nag voor ek wegraak droomland toe. Ons is geseënd !!
Dinsdag 10 Mei 2022
Ons is vroeg op en pak die goed wat ons gaan nodig kry vir die brunch in Etosha. Ons is net voor nege by die hek en kry die nodige vorms. Ons moet by Okaukuejo gaan inboek en betaal. By ontvangs doen ons navraag oor beskikbaarheid van kampplek by Halali en die vrou sê daar is baie plek, nie nodig om te bespreek nie. Ons ry eers na die watergat en ook ‘n draai deur die kampplek. Soos verwag is hier heelwat kampers, seker die gewildste kamp in Etosha, maar ook die duurste. Die watergat het geen diere nie, seker nog te vroeg. Het al baie mooi sightings hier by die watergat gesien toe ons vorige kere hier gekamp het.
Ons het besluit om oor die Gemsbokvlakte te ry tot by die piekniekplek voor Halali, dis sowat 50 km roete tot daar. Ons vat die pad en dit gaan maar stadig, die pad is vol gate en jy kan sien dis BAIE lanklaas geskraap. Ons vertoef lank by een van die watergate op pad en is verstom oor die duisende en duisende Rooibekkwelea’s wat in groot swerms op die watergat toesak, opvlieg en weer kom sit. Aan die oorkant is daar drie Roofarende wat ‘n feesmaal het en die Kweleas sommer met die pote gryp en verslind. Hier is miljoene voëls !! Twee hiënas kom ook nader om te kyk of hulle kan deel in die fees.
Ons sien heelwat wild op pad en stop net na elf by die piekniekplek. Hier is mos nie eintlik piekniekplekke in Etosha nie. Dis net ‘n oop stukkie grond met ‘n toiletgeboutjie, geen stoele of bankies nie. Ons sit die gasbottel langs die bakkie en die gebakte eiers op ‘n broodjie smaak lekker. Die bakkie se vlap werk goed as tafel. Heelwat voertuie kom stop om van die toilette gebruik te maak, kyk ons snaaks aan waar ons besig is om brunch te geniet.
Ons vat die pad al langs die pan terug en sien weer heelwat diere. By meeste van die watergate herhaal die prentjie van die Kweleas wat in hulle duisende op die watergat toesak, opvlieg en weer en weer kom sit om water te drink. Dis as ons op pad is na Okaukuejo wat ons vir mekaar sê ons gaan nie more weer inkom nie, die paaie is sleg en ek kyk meer in die pad om die gate mis te ry en kan nie diere kyk nie.
Die klomp springbokke net Noord van Okaukuejo wat koelte soek in die skaduwee van die bome hier langs die pad is ‘n mooi sighting. Ons is nogal verbaas dat ons nie een olifant gesien het nie, gehoor meeste van hulle is aan die Noorde kant van die pan met al die reën wat hier geval het.
Terug by die watergat in Okaukuejo is daar n paar springbokke wat water suip.
Ons is net na drie weer terug by ons kamp. Vanaand is dit weer ribbietjie en die vuur brand reeds lekker net na vieruur. Eers koel ek af met ‘n Tafel en dan gaan groet ons weer die son waar die Eland en Sebra vir oulaas kom water drink. As ons terug is by die vuur is dit ‘n lekker rooiwyn wat die tonge kielie. Vanaand gaan ons lekker eet !
Ons sit lekker en kuier, so staanrib moet nie gejaag word nie – so tussen drie en vier ure – dan trek jy die vleis van die beentjies af. Moeksie het ‘n krummelpap gemaak, net die regte ding saam met ‘n rib. Die rib is doek sag en dis met blink bekke wat ons die wyn en die feesmaal geniet, kan nie beter nie.
Vanaand lê ek en is effe teleurgesteld in Etosha, hulle sal iets aan die paaie moet doen. Ek is lief vir die plek, maar nie soos die paaie nou lyk nie. Ons besluit more is net ‘n lekker rusdag hier by die Lodge en ons gaan nog een aand hier oorslaap voor ons vir twee nagte by Halali gaan kamp. Ons mis vir Ewald en Carol.
Woensdag 11 Mei 2022
Die rustigheid as ons opstaan bring ‘n saligheid oor jou, dis lekker hier. Ons drink ‘n lekker koffie en begin stadig met die ontbyt. Ek besluit om wors te braai saam met die eiers en maak ‘n vuurtjie, het mos tyd. Die paar stukkies rib wat oorgebly het gisteraand daarmee saam proe heerlik.
Ons stap later weer Lodge toe en gesels met Adri en Hanel, sê hulle moet vanaand ‘n glasie wyn kom drink. Ek komplimenteer hulle met die pragtige tuine hier tussen die kamers agter die ontvangs, regtig mooi.
Die brandstof wat ons spaar deur nie Etosha toe te ry nie gaan gebruik word om vanmiddag na die roofdiere op die plaas te gaan kyk en ons doen die bespreking. Ons verkeer rustig by die kamp en sien nog ‘n woonwa inkom. As Moeksie later gaan skuinslê gaan sit ek by die uitkyk dek en die stilte maak dat ek my eie gedagtes hoor.
Ons meld net voor vier aan by Adri onder die afdak langs die swembad. Dis net ek en Moeksie wat vanmidag gaan diere kyk. Hier is baie fotos teen die mure en hy gee vir ons ‘n detail verduideliking van al die roofdiere wat hy in die kampe het hier op die plaas. Ek geniet sy gesels manier van verduidelik oor als wat hier op die plaas gebeur. Na die gesels stap ons na die parkeerterein waar die trekker en sleepwa reeds wag. Hy verduidelik vir die drywer dat ek mooi fotos wil neem en hy moet nie haastig wees nie. Moet sê hy het WERKLIK als gedoen sodat ek goeie fotos kon neem.
Terug by die kamp is ek en Moeksie dit eens, baie meer waarde vir geld vandag gekry as wat ons Etosha toe sou gaan. Dis as die vuurtjie hoog brand toe Adri en Hanel by ons aansluit. Oor ‘n lekker glasie wyn kom ek agter ons kan maklik vriende raak. Adri is teleurgesteld as hy hoor ons ry reeds more verder, sal graag n vleisie saam wou braai. Ek belowe dat ons weer sal kom kuier om die uitnodiging te voltrek. Hy sê hy sal voor ons ry vir ons ‘n pakkie stuur wat ons op die pad vorentoe kan nuttig.
Ons braai hoender vanaand en Moeksie het ‘n lekker slaai gemaak. Ons kan nie uitgepraat raak oor ons ervaring vandag nie, werklik iets besonders. Sal verseker weer hier kom kuier !
Ons stort lekker en ek kuier nog lank by die vuur as Moeksie gaan inkruip, wil die dag diep in die gedagtes gaan bêre. Ek is bevoorreg om te kan doen wat ons doen, my beker loop oor.