Dis as ek besig is met my tweede koppie koffie as die man met ‘n plastieksak aangestap kom. Adri moes vroeg ry, daar het renosters op die buurplaas deurgebreek Etosha toe en hy moet gaan help. Hy stuur groete en het laat weet ons moet dit geniet. Ek haal twee kabeljoue, ‘n pak wors en ‘n pakkie tjops uit die sak, ‘n GROOT geskenk.
Die afslaan gaan gou en dis net voor tien as ons by die Lodge stop om te groet. Hanel sê die renosters het gelukkig, saam met ander, weer teruggebreek na die buurplaas. Ons groet en vat die C38 teerpad tot by die Anderson hek van die Etosha waar ons die nodige vorms invul en verder ry na Okaukuejo om te gaan inboek. Ons maak eers weer ‘n draai by die watergat en vat dan die 68 km grondpad na Halali. Daar is ‘n paar springbokke, sebras en gemsbokke naby die watergat.
Die pad is maar vol gate en redelik sinkplaat, so ons vat dit maar rustig. Sien darem redelik diere op ons roete.
Half een stop ons in Halali en gaan boek in. Die kamp is baie stil en ons kan kies en keur waar ons wil staan. Ons kry ‘n lekker koelte staanplek naby die ablusie. Ek is verbaas hoe maklik ek die tentpenne ingeslaan kry, het gedink ek gaan baie sukkel.
Ons spandeer die res van die middag rustig in die kamp en ek is gelukkig om die Gevlekte Koekoek van naby te kon afneem. Ek het by myself gelag as hy soos ‘n kuiken skree en die Spreeu, helfte sy grootte, nie kan voorbly om hom te voer nie. Hier het intussen heelwat kampers ingekom maar die kamp is minder as 40% vol.
Net voor ses is ek en Moeksie, gewapen met ‘n bottel wyn en twee glase in die hand, op pad watergat toe. Hierdie watergat is vir my besonders, ‘n groot afdak uit latte gemaak oor die plate rotse met ‘n paar bankies. Het al baie lekker hier gekuier en mooi diere gesien.
Die derduisende Kweleas kom water drink voor donker en dis ‘n gesig om te aanskou. Hulle sak die watergat toe en voor almal kan sit vlieg hulle weer op. Baie baland in die water en fladder kant toe – almal maak dit nie. Heelwat diere kom water drink, maar die swart renosters is die hoogtepunt as die son op die hoorison wegsak.
Dis net voor sewe as die vuurtjie brand. Vanaand is dit rump steak en n gekookte mielie met slaai.
Na ete stap ek weer watergat toe, net vir oulaas die nag gaan groet. Hier is nog ‘n paar ander mense wat ook dieselfde gedagte het. ‘n Hele paar renosters kom weer in om water te drink.
As ek net voor tien gaan inkruip lê Moeksie nog en lees. Ons gesels oor die dag se ervaringe en beplan om more na brunch ‘n ent te gaan ry en die middag weer by die kamp en watergat te kom rustig wees. Dis as ek die Kweleas in my gedagtes sien dat ek sommer gou wegraak droomland toe.
Vrydag 13 Mei 2022
Ons is vroeg op en die koffie hier proe lekker, moet die omgewing wees wat ekstra smaak verleen. Na nege is ons klaar geëet en ry Oos. Ons sien baie diere , maar die olifante en katte ontwyk ons, nog nie een gesien nie. Die pad is ook maar uitdagend, veral die paaie as jy afdraai van die C38 af.
Ons ry ook na die uitkykpunt waar jy ‘n paar honderd meter in die pan inry, altyd ‘n belewenis. Die “niks” waarna jy staar het sy eie mooi.
Ons is net na een weer terug in die kamp en gaan maak eers weer ‘n draai by die watergat. Rooibokke en renosters kuier rondom die watergat.
Die res van die middag is ons net rustig by die kamp. Heelwat kampers kom in, seker hier vir die naweek. Ek begin solank van die los ietems wegpak, vat more weer pad. Net voor ses is ons weer watergat toe. Die Kwelea swerms lyk soos wolke wat op die watergat toesak, water drink en weer opvlieg en telkens bly daar n paar in die water agter. Die renoster met net een oor lyk koddig as hy op die rotsbank in die water staan en water drink.
Ek kan vir dae net hier sit en die lewe om die watergat geniet, maar die honger sê dit is tyd vir braai. Die maan is amper vol en maak ‘n mooi prentjie in die hemelruim as ons terugstap kamp toe met die son wat vinnig sak in die Weste.
Vanaand moet ons al die vleis wat in die yskas is braai, mag nie vleis uitvat nie. Daar is beamptes by al die hekke wat jou kar deursoek, gaan oor die verspreiding van bek-en-klouseer. Ons braai tjops, hoender vir padkos en ‘n lekker stuk wors. Die braaibroodjies wat Moeksie maak is net wat ek nodig het.
Na agt is ons klaar geëet en ek stap weer terug watergat toe terwyl Moeksie gaan inkruip. Hier is heelwat mense wat die renosters aanskou wat deurlopend inkom om water te drink, op ‘n tydstip sewe gelyk. Dis nie aldag dat jy soveel Swartrenosters sien nie !
Dis na elf as ek by die kamp kom en nog ‘n paar goedjies wegpak voor ek gaan inkruip. Wil nie te laat more wegkom nie.