Dag 24 & 25

Saterdag 14 Mei 2022

ROETE : Halali, C38, B1, C42, B8, B10, Hakusembe Lodge = 508 km

Ons is vroeg opgepak en reg vir die pad. Ons aanvanklike beplanning was om by ‘n Lodge net buite Namutoni hek te kamp, maar het daarteen besluit. Sal ry en dalk oorslaap tussen Grootfontein en Rundu.

Die 70 km tot by Namutoni is ook maar sinkplaat en redelik sleg, ons vat dit maar rustig. Ons kry uiteindelik een olifant te sien, ook maar weggesteek agter die bome. Ook gelukkig om leeus te sien en heelwat ander diere.

Ons is net voor tien by Namutoni en ry ‘n draai deur die kamp, al ‘n paar keer lekker hier gebly.

Van hier af is dit 170 km teerpad tot in Grootfontein met die B1 en C42 waar ons weer aankope gaan doen en dan nog 260 km teerpad op die B8 tot in Rundu. Die natuurskoon is mooi en ons vorder vinnig tot in Grootfontein waar ons aankope doen. Ons mors nie tyd nie en is weer gou op die pad, wil deurry tot in Rundu. Dis ‘n mooi teerpad en ons ry goed, het hom al ‘n paar keer gery. Padkos, gisteraand se wors en hoender, word sommer in die ry geniet.

Dis net na half vier as ons inry by Hakusembe. Die laaste 5 km waar jy van die B10 afdraai na die Lodge is maar ‘n uitdaging en ons vat dit stadig. By ontvangs moet ons hoor al die kampplekke is bespreek (hier is net 6 – het al hier gekamp). Die man agter die toonbank kan sien ek is baie teleurgesteld en hy sê ons moet net ‘n rukkie wag, hy is nou terug. As ek die glimlag op sy gesig sien toe hy weer inkom weet ek, hy het ‘n plan gemaak. As ons wil kan ons voor die twee kamers kamp wat vir gidse gereserveer word hier oorkant die parkeerterrein. Hy sal een oopsluit en dan kan ons die badkamer gebruik. Daar is ‘n kragpunt ook. Ek aarsel nie en aanvaar dadelik sy aanbod met ‘n lekker handdruk, bly ons hoef nie verder te gaan soek vir kampplek nie. Ek bespreek vir twee aande en bestel sommer twee sakke hout.

Ons trek die waentjie voor die kamers op die pragtige groen gras en voel geëerd dat ons hier mag kamp. Dis ‘n groot kamer met ‘n pragtige badkamer wat ons kan gebruik, hier gaan ons lekker kamp. Die sand is lekker sag en die opslaan gaan gou.

Dis toe ek my visstok en spinners regkry vir vanaand dat ek sien ek het nie staal traces ingepak nie. Ek stap oor otnvangs toe en dieselfde man wat ons ingeboek het sê hy sal vir my reël, ek moet nie bekommerd wees nie.

Net na half ses stap ons Lodge toe om ‘n kouetjie te gaan geniet en die sonsondergang te beleef, dit kan nogal mooi wees van die restuarant se dek af.

Vavaand is dit ‘n varktjop en ‘n gekookte mielie. Moeksie kan sien ek is haastig met die kos, moet nog n tiervis gaan soek na ete. Kon niks vang die vorige keer toe ons hier gekamp het nie. Intussen het ‘n man vir my drie staal traces gebring @ R10 elk, dis al wat hy kan afstaan. ‘n Groot bargain as jy nie het nie en ek gee hom sommer R50 en sê baie dankie. Sal more in Rundu gaan kyk of ek nog ‘n paar kan kry.

Die kos is nog nie behoorlik in my maag nie as ek my visstok en spinners water toe dra. Die lekkerste plek om in die aand te vang is voor een van die huisies met ‘n spot light wat op die water skyn, het ook ‘n klein stukkie “strand” waar jy lekker kan staan en vang. Die water is lewendig en sommer gou het ek ‘n paar tiere gevang, nie baie groot nie, maar dis groot pret en ek is in my element. Nou eers dankbaar ons het hier kampplek gekry.

Dis na elf as ek na ‘n lekker stort by Moeksie inklim, sy is bly ek het ‘n paar visse gevang. Die diepe tevredenheid en genot van die visse laat my gou wegraak.

Sondag 15 Mei 2022

Die viskoors loop hoog en ek is net na ses op die jetty tussen kampplek nommer 5 en 6 waar ek lyn ingooi. Dis ook ‘n lekker plek om te vang, moet net mooi swaai as jy ingooi, anders haak jou lyn die afdak bo jou kop en dit is ‘n gemors. Net na sewe steek die son kop uit tussen die bome aan die oorkant van die rivier. Daar is geen byte nie en ek is redelik gou terug by die kamp, sal later weer kom probeer.

Moeksie is klaar gestort en aangetrek as ek by die kampplek kom. Ons maak ontbyt en ry daarna dorp toe, wil gaan traces soek en kyk wat is op die winkelrakke.

Rundu is ‘n redelike groot dorp en het baie getransformeer van die weermag dae van die tagtigs af. Ons stop by ‘n hele paar winkels maar niemand kan my help met traces nie. Woermann Brock is goed gestock met kruideniersware maar nêrens sien ek vleis wat ek wil koop nie. Gelukkig is ons reg vir die volgende vyf dae voor ons weer sal aanvul op Katima Mulilo. Die “slaghuise” hier langs die pad bly vir ons vreemd, maar dis hoe dit in Afrika werk. Hier is ook heelwat mooi en moderne geboue in die dorp.

Terug by die kamp is ek net na een weer op die jetty en wissel die spinners en lepel af as ek niks vang nie. Einde ten laaste kry ek ‘n tiervis weer met my gunsteling koper lepel.

Die res van die middag spandeer ons rustig by ons kampplek. Dis n baie mooi Lodge hierdie met pragtige grasperke en tuine tussen die huisies.

Vanaand is dit kabeljou op die kole, met dank aan Adri van Eldorado vir die groot geskenk. Ons besluit om vroeg met die vuur te begin en dan eers die son te gaan groet voor ons kom braai.

Ons is net na vyf op die dek en die wyn smaak anders hier, lekkerder as die son op die horison verdwyn. Ons kuier lekker en gesels lekker met ‘n ander couple van Nederland wat in ‘n huisie bly en deur Namibië toer.

Net na ses val die kabeljou op die kole, hy gaan lekker smaak saam met die slaai wat Moeksie gemaak het.

Na ete is ek weer rivier toe, die spot light voor die huisie. Die water is weer lewendig en ek is in my element !! Moeksie kom sluit later by my aan en geniet dit as ek die tiere uittrek. Ek vang ‘n hele aantal kleintjies en twee redelike fighters. Nou kamp ek lekker !!

Dis weer na tien as ek by Moeksie, wat lankal kom inkruip het, inklim waar sy lê en lees. Sy deel my opgewondenheid en ons praat oor die voorreg om te kan doen wat ons doen, geseënd !!

Met my gedagtes wat dwaal by die groot tiervisse wat nog gevang gaan word op die toer, raak ek lekker aan die slaap.

Scroll to Top