Dag 26

Maandag 16 Mei 2022

ROETE : Hakusembe, B10, B8 D3433, D3402, Mukuku Lodge = 79 km

Ons is vroeg op en begin stadig oppak. Ons is nie haastig nie, net ongeveer 80 km om te ry vir die dag. Ons ry terug teerpad toe en vat die B10 tot by Rundu en dan die B8 vir 55 km, dis ‘n mooi teerpad. Ons draai links af op die D3433 grondpad tot by die “T” aansluiting, draai regs op die D3402 en die pad is OK. Waar die GPS sê ons moet links afdraai op ‘n tweespoor paadjie sit daar n paar locals wat sê ons moet reguit aangaan en die volgende afdraai vat, hierdie pad werk nie meer nie.

Ons stop 11 uur voor die hek van Mukuku op die oewer van die Kavango rivier. Die hek is nie gesluit nie en Moeksie maak vir ons oop, lyk na ‘n lekker plek. By die Lodge word ons hartlik verwelkom deur die eienaars Hannes an Ankie. Hulle het net 4 of 5 staanplekke en ons is die enigste gaste, so ons kan kies waar ons wil staan. Die plek is pragtig met baie mooi tuine en ruim kampplekke, elk met sy eie ablusie.

Die staanplek naaste aan die Lodge lyk goed, ruim met pragtige groen gras, lekker braaiblad, kragpunte, tafel en baie netjiese ablusie. Ons is in die paradys ! Ons betaal vir een nag maar sal later besluit of ons dalk nog n nag gaan oorslaap.

Ek stap rond en verken die Lodge, hier sal ek maklik ‘n paar aande kom rus. Ek doen navraag oor visvang en Hannes sê die vis is nie baie goed op die oomblik nie, die locals maak ook groot skade met nette in die rivier. Ek moet by die hekkie voor uitstap en langs die rivier afstap om te kyk of daar regtig n geskikte plek is waar ek kan vang. Hier is baie riete oral langs die rivier wat dit nie geskik maak vir visvang van die kant af nie, sal maar moet gaan kyk.

Ek stap amper n kilometer langs die rivier, kan ook nie baie naby kom nie, want dis moeras vir omtrent 30 meter van die rivier af. Ek is effe teleurgestel, het besluit om by ‘n paar plekke langs die rivier te kamp vir visvang en hier gaan ek nie regkom nie. Terug by die Lodge sê Hannes dat hy wel mense met die boot uitvat vir visvang maar hy het familie wat laatmiddag kom kuier en hulle gaan die boot gebruik vir ‘n sun set trip. Ek het ook nie gedink om met n boot uit te gaan nie, wil sommer van die wal af vang.

Die middag is ons net rustig by die kamp en geniet die voël-lewe wat oorvloedig is in die boomreike terein. Dis rerig ‘n baie mooi plek die.

Net na ses word die vuur aangesteek. Die kruiwa hout wat ek bestel het is lekker droog, ons gaan lekker kuier en braai. Vanaand is dit steak en braaibroodjie.

Na ete kuier ons nog lank langs die vuur en besin oor die volgende paar dae. As hier lekker plek was vir visvang van die kant af sou ons nog ‘n aand gebly het, maar ons besluit om more verder te toer. Ons besluit Ngepi is die regte plek, ken hom goed.

Scroll to Top