Ons is rustig en na koffie stap ek Lodge toe om die son te sien opkom oor die bome oorkant die rivier. Die voël van metaal op die hek gee ‘n mooi foto as die son deur sy oog skyn.
Dis met gemengde gevoelens wat ons begin oppak, die plek het onder my vel ingekruip. Dis net na nege as ons in die pad is. Dis 160 km teerpad tot waar ons afdraai na Ngepi, dan nog so 4 km sand en tweespoor paadjie tot by die Lodge.
Dis net na elf as ons Suid afdraai van die B8 af by Divundu op die C48. Nog so 17 km dan links op die grond / tweespoor paadjie. Ons was al baie hier en ken die Lodge. Die padtekens langs die tweespoor paadjie is vol humor. Ons stop net voor twaalf by ontvangs en vra of kampplek nommer 20 beskikbaar is. Dis ‘n lekker groot staanplek en jy het lekker toegang tot die rivier vir visvang. Het al lekker tiervis daar gavang. Hy is ongelukkig bespreek en ons kry die nommers wat beskikbaar is. Sal ry en gaan kyk watter een ons vat en vir hulle kom sê.
Ons besluit op staanplek nommer vier, by die ablusie en ‘n lekker stuk gras voor tot teen die rivier. Hier is kragpunte ook, maar krag word voorsien net tussen 06h00 en 20h00 bedags. Sal hier ook kan visvang, sal net my ingooi moet ken anders gaan ek bome vang.
Ons is redelik gou opgeslaan en stap Lodge toe om te sê watter staanplek ons vat. Hier is Wi-fi by die ontvangs en ons kommunikeer met die nodige familie en vriende. Ek stap later na staanplek 20 en is effe bly ons het hom nie gevat nie. Die sloep waar ek altyd visgevang het is redelik toegegroei en visvang met die rivier wat hoog opgestoot het, gaan nie so maklik wees hier nie. Die man wat hier kamp kom van Noord-Wes en kamp al ‘n paar dae. Hy sê die vis is baie stil, nog min gevang en net kleintjies.
Half sewe brand die vuur hoog, gaan lekker braai vanaand. Dis lekker warm en windstil as ons ‘n lekker glasie wyn sit en geniet en op die rivier uitkyk, geseënd. Na ete is dit ‘n lekker warm stort in die opelug storte, al hulle storte is so. Dis n “tuin” wat met riete afgeskort is met ‘n lekker sementblad en n wasbak. Hier kyk jy sterre terwyl jy stort !
Ons lê nog ‘n hele rukkie en gesels oor al die kere wat ons al hier gekamp het en geniet die seekoeie wat hier naby ons raas. Die laaste keer was ons 22 mense wat vir ‘n week hier kom kamp het, bly maar ‘n lekker plek met oorgenoeg aktiwiteite op en om die Lodge om almal besig te hou.
Woensdag 18 Mei 2022
Ek is op lank voor die son sy kop uitsteek, vandag is dit ek en die tiervisse. Moet erken, die ingooi is toe nie so maklik as wat ek gedink het nie, maar ek raak hom gou baas. Die man op nommer 20 het die waarheid gepraat, nie een strike in oor ‘n uur se probeer nie. Sal maar later by die swembad gaan probeer, daar kan jy lekker ver ingooi.
Na brunch begin Moeksie met die wasgoed en ek stap Lodge toe om by die swembad te gaan probeer visvang. Die swembad is ‘n vlot met n draadhok aan die binnekant waarin jy swem om te keer dat die krokodille en seekoeie jou nie pla nie, ‘n anderse ervaring. Ook hier is die vis maar stil. Ek stap later en neem weer die verskillende ablusies en storte af, elkeen met sy eie karakter en pittige bordjies.
Die "swembad"
Die res van die middag is ons net rustig by die kamp en kyk na die buffels, olifante en bokke wat aan die oorkant van die rivier kom water drink terwyl die seekoeie lekker raas hier voor ons kampplek. Ek gooi weer ‘n lyntjie maar die vis is stil. Ons bespreek ons volgende stop en besluit om iewers op die Kwandorivier te gaan plek soek, moontlik Namushasha. Al die naam baie raakgelees. Dis net sowat 240 km van hier af, heelpad teerpad, so ons hoef nie haastig te wees nie.
As die son sy kop laat sak word die vuur aangesteek. Vanaand is dit steak en mielies. Dis weer ‘n windstil aand en ons kuier lank om die vuur en luister na die naggeluide. Ons gaan kruip in en bespreek more se program, nie baie ver om te ry nie en ons raak gou aan die slaap.
Dis net na een as ek Moeksie se benoude gil hoor – iets byt my !!! Ek skrik myself in n ander bloedgroep in en gryp die flits. Moeksie is pen orent en vryf haar maag as sy die beddegoed eenkant gooi en sê dit brand vreeslik. Ek weet nie waar om te soek nie en skyn en voel oral op die bed rond. Dan voel ek iets hards en gooi die “gogga” by die bed af, weet nie wat is die nie maar hoor hoe hy teen die tent se kant val. Kan sien Moeksie is in pyn maar ek moet nou eers die ding gaan soek, moet weet wat haar gebyt het. As ek van die leertjie afklim sit die groot perdeby hier bo my kop op die tent. Ek gryp n kledingstuk hier onder en druk hom dood. Ek is baie gelukkig dat hy my nie ook gesteek het toe ek hom gegryp het en afgegooi het nie, dit was waarskynlik te vinnig vir hom.
My hart klop nog vinnig as ek weer opklim en mooi kyk na Moeksie se sykant net onder haar bors, hy het haar twee keer daar gesteek terwyl sy hom afgevryf het en nog een keer op haar maag. Sy het iets op haar lyf gevoel en hom afgevryf, gedink dis n goggatjie. Ek is verbaas dat hy kon inkom, ons los NOOIT ons tent oop nie. Moeksie smeer salf op en dit vat lank voor ons weer rustig is. Dit was n GROOT skrik vir ons altwee !!