Dag 29

Donderdag 19 Mei 2022

ROETE : Ngepi, C48, B8, C49, Namushasha = 242 km

Moeksie is lank voor my op, sy het nie lekker geslaap met haar steekplekke wat so brand nie. Ons begin oppak en is net voor nege op die teerpad. Ons draai Noord op die C48, ry tot by Divundu waar ons eers brandstof ingooi. Moeksie is winkeljtie toe en is verbaas met die voorraad op die rakke, baie beter as die vorige keer toe ons hier was. 

Ons ry Oos op die B8 en draai na 230 km regs op die C49 by Kongola. Die pad is mooi en ons stop twaalf uur by Namushasha se ontvangs. Ons was nog nie hier nie en is beïndruk met wat ons sien. Die laaste 4 km is n mooi grondpad tot by die Lodge. Hier staan twee voertuie met off road karavane voor ontvangs met SA nommerplate. 

Dis as ek die dame agter die toonbank vra of hier plek is vir een aand dat sy sê ek is BAIE gelukkig. Die twee couples voor ons het aanvanklik twee staanplekke bespreek, die laaste twee wat beskikbaar was, maar hulle het besluit die staanplekke is ruim genoeg en hulle gaan een staanplek deel. Ek bedank die gaste en is bly ons hoef nie verder te soek vir kampplek nie, die plek is mooi. Hier is net ses staanplekke, maar hulle is BAIE groot en van hulle kan maklik tot 5 karavane huisves.

Ons kan staanplek nommer een kry vir die aand. Die staanplekke het pragtige groen gras, elk met sy eie ablusie en opwas, ‘n lapa afdak, kragpunt, braaiers en ‘n “donkie” vir warm water. Dis rerig BAIE luuks en ruim. Teen eenuur is ons opgeslaan en Moeksie doen bietjie wasgoed.

Ons stap later met die rivierpaadjie Lodge toe. Dis baie boomryk en ‘n groot verskeidenheid voëllewe. Hier is heelwat aktiwiteite wat onder meer visvang, sunset cruises, voëlkyk, ens insluit. Jammer ons kan net een aand oorslaap, sou graag op ‘n visvang trip wou gaan. Die Lodge is pragtig met baie mooi tuine, ‘n ware paradys. Hier moet ons weer kom kuier.

Ons kuier net rustig verder by die kamp en stap later om na die ander kampplekke te kyk. Dis die idiale plek vir ‘n groep mense om n paar nagte hier te kom ontspan. Terug by die kamp wag ons vir die son om sy kop oorkant die rivier te sak.

Die vuur word aangesteek en die “donkie” kry ook hout, gaan lekker stort vanaand. Ons sit onder die lapa en geniet die rustigheid. Ons braai varktjops met n gekookte aartappel.

Dis net na agt as ons n lekker warm stort geniet in die pragtige badkamer. Hierdie is rerig luuks ! Ons raak rustig en bespreek more se roete. Ons besluit op Zambezi Mabula kamp, so 30 km anderkant Katima Mulilo. Ons sê weer vir mekaar dis jammer ons kan nie nog ‘n nag of twee hier kamp nie, sou lekker gewees het.

Scroll to Top