Vrydag 20 Mei 2022
ROETE : Namushasha, C49, B8, D3508, Zambezi Babula Lodge = 167 km
Ons is rustig en drink eers ‘n paar koppies koffie voor ons begin oppak. Dis net 167 km en als is teerpad. Ons gaan eers in Katima Mulilo stop om aankope te doen.
Dis net voor nege as die bakkie by die C49 sy neus Noord druk, weer terug na Kongola en dan regs op die B8 tot in Katima Mulilo. Hier het ons al baie gestop vir aankope en Moeksie kom maklik reg by Pick n Pay. Hier is heelwat ander kruidenierswinkels ook, onder andere n Super Spar en Shoptite, maar ons kom meestal reg by PnP.
Net na elf is ons weer mobiel, nou nog net sowat 30 km om te ry. Dis net na half twaalf as ons by die hek in ry, ken die plek ook goed. Het laas hier gekamp met n toergroep wat ek gebring het, voor Gondwana oorgeneem het, was toe nog Island View Lodge. Het toe ook maar net twee klein tiere gevang en ‘n klomp babers toe ons twee nagte hier gekamp het. By ontvangs boek ons in vir twee nagte en as ek die tiervis trofeë teen die muur sien, bespreek ek sommer ‘n twee ure sunset visvang trip vir later vanmiddag. Gelukkig is ons lid van Gondwana en kry ek 40% korting op die kampfooi en visvang. Hier mag jy nie van die oewer af visvang nie, so ‘n boot is die enigste opsie.
Die kampplekke is heeltemal anders as toe ek laas hier was, elkeen met sy eie privaat ablusie, kragpunte en opwas. Ons kan ongelukkig nie een voor op die rivier kry vir twee nagte nie, wel een beskikbaar vir vanaand, maar moet dan more weer skuif. Ons besluit daarteen, maar ons is happy met die een wat ons kry, lekker skaduryk met pragtige groen gras. Net voor een is ons opgeslaan en reg vir twee dae se lekker kamp.
As Moeksie nog nesskrop kry ek my visgoed reg, hoop ek is gelukkig met die visvang hier. Ons stap later Lodge toe en kyk uit op die Zambezi wat baie hoog vloei. Hierdie is eintlik net n sytak, die Zambezi is so kilometer verder Noord. Die manne sê die vis is min, nog net ‘n paar kleintjies die afgelope paar dae gevang.
Dis net voor vier as ek by ontvangs aanmeld. My skipper wag al vir my, dis net ons twee op die boot. Ons gaan eers troll en kyk of ons iets kry. Hy vra my waarmee gaan ek vang en ek wys hom my meps en die lepels. Ek het ook twee rapalas wat ek vir trolling saamgebring het. Persoonlik verkies ek om te drift en te spin, maar hy sal beter weet hoe dit gedoen moet word. Lyn in die water ry ons rustig tot in die Zambezi en dryf later rustig stroom af terwyl ek begin spin met my koper lepel. Hier is heelwat ander bote ook, maar niks kom uit nie. Ons is later rivier op, tot waar die skipper sê hy al mooi gevang het. Dis aan die onderkant van n gras eiland in die middel van die Zambezi waar ons die boot aan die gras vasmaak langs ‘n ander boot en verder spin. Die water begin lewe kry as die vis oral die water breek en dit skemer begin raak. Een ou op die boot langsaan haak ‘n kleintjie. Ek kry n strike maar hy kom los.
Die son begin vinnig sak en ons moet terugry. Moet sê die skipper het rerig sy bes probeer. Die sonsondergang as ons terugry is prentjie mooi, kan nie genoeg fotos neem nie. Dit was n lekker outing, al kom ek leë hande terug, het darem probeer. Ek het na die weer gekyk, gaan more redelik afkoel en ek sê vir die skipper ek sal nie more weer uitgaan nie.
Terug by die kamp is Moeksie net so teleurgesteld dat ek nie iets kon kry nie, het darem probeer. Dis net na sewe en ek steek vuur aan, vanaand is my gunsteling, lamtjops en ‘n braaibroodjie. Glo dit sal help om die teleurstelling te verwerk.
Ons kuier nog lank na ete om die vuur, dis lekker weer. Na ‘n lekker stort gaan kruip ons is, ‘n lekker dag gewees en geseënd om hier te kan wees.
Saterdag 21 Mei 2022
Ek staan later as gewoonlik op en Moeksie sit buite reg met ‘n koppie koffie. Vandag is dit net lekker rustig wees, niks op die program nie. Ons maak later ‘n lekker brunch. Ek braai vir ons n stukkie wors, bak lekker eiers en Moeksie maak roosterbroodjies, die full monty.
Ek stap later weer Lodge toe en kyk na die boot wat hier voor verby dryf. Daar is ses manne wat spin, sê hulle het gister ook heeldag probeer en niks gevang nie. Vandag is hulle laaste dag, so hulle moet maar die tyd gebruik wat nog oor is. Dis net toe dat ek besluit ek moet weer vanmiddag gaan probeer, al is dit net vir ”n uur. Ek hoor by ontvangs en hulle sê my skipper is beskikbaar, sal net voor vyf hier wees.
Ek gaan sê vir Moeksie van my planne wat verander het en sy is nie verbaas nie, kon eintlik nie glo toe ek haar gister sê ek gaan nie vandag uit nie.
Ek kry my visstok reg en is net voor vyf by die boot. Ek sê vir die skipper ons gaan nie vandag troll nie, ons moet reguit ry na die plek waar ons gister die boot vasgemaak het aan die gras, wil net daar gaan spin. Die middag het toe heelwat warmer uitgedraai as wat ek verwag het, hoop ons kry iets.
Dis met my tweede gooi wat ek ‘n strike kry, voel aanvanklik nie baie groot nie. Dan begin hy fight, kan nou voel dis ‘n redelike tiervis. Die skipper sê ek moet hom nie verloor nie, hy kan sien dis ‘n groot vis. Hy kry die skepnet reg en met ‘n redelike gesukkel kry ek die vis naby genoeg dat hy hom kan skep. Dis eers as die vis in die skepnet is dat ek sien wat se monster van ‘n vis ek gevang het. Die skipper kan sy opgewondenheid nie bedwing nie en skreeu van geluk. Hy sê hier het maande laas so grote uitgekom, ek is BAIE gelukkig. Dis as hy amper my selfoon in die water laat val dat ek sien hoe hy bewe, kan amper nie die fotos neem nie. Hy is net so opgewonde soos ek.
Na die fotosessie en weeg is dit tyd om hom te laat gaan. Die 8,2 kg is my persoonlike beste en ek is BAIE dankbaar. Terwyl die skipper die vis weer laat lewe kry in die water gooi ek nog ‘n paar keer. Ek kry weer n strike maar dis ‘n kleintjie wat by die boot loskom. Ek is tevrede en sê ons kan maar terugry, die son sit al laag en dis na ses. Ek bedank hom en gee hom n goeie fooitjie om dankie te sê. Ek kan sien hy deel in my vreugde.
Moeksie deel ook in my vreugde as ek haar die detail vertel en die fotos wys. Sy kan sommer sien ek is BAIE trots. Ek steek vuur aan, vanaand is hoender en slaai. Dis heelwat koeler as gister aand en Moeksie het n baadjie aan. Ek begin ook ‘n paar los goedjies wegpak, wil nie te laat more in die pad wees nie. Ons gaan ry tot by Senyati Safari Camp anderkant Gazungula in Botswana, sowat 150 km in totaal.
Na ete is dit ‘n lekker warm stort voor ek by Moeksie gaan inkruip. Ek vertel weer die storie van die vis en sy sê ek wou nie eers vandag uitgegaan het nie. Gelukkig het ek ! Ek voel geseënd, my beker loop oor van genade om te kan doen wat ons doen. Dit is ‘n dag wat ek vir BAIE lank sal onthou !!