Dag 32, 33 & 34

Sondag 22 Mei 2022

ROETE : Zambezi Mabula Lodge, D3508, B8, A33, Senyati = 168 km

Ons is vroeg op en met ‘n koffie in die hand begin ek stadig oppak. Ons stop by ontvangs en wil net weer die skipper bedank vir sy moeite. Almal weet van die trofee wat ek gister gevang het en wens my geluk. Hulle sal my dank aan hom oordra.

Dis net na nege as ons by die hek uitry en regs draai op die D3508. Na 20 km draai ons links by die “T” aansluiting op die B8, rigting Botswana. Het hierdie teerpad ook al baie gery, ‘n mooi pad, 58 km tot by die Ngoma grenspos by Botswana. Die grenspos is stil en ons kom vinnig deur, maar eers nadat ons aangepreek is omdat ons nie dadelik ons maskers aangesit het nie. Dit sal nou weer ‘n gewoonte moet raak, in Namibië is die dra van maskers nie verpligtend nie.

Die pad deur die Chobe reservaat is nie meer soos ek hom geken het nie, redelik baie potholes, maar ons ry goed. Ons ry deur Kasane tot by Kazangula waar ons regs draai by die “T” aansluiting op die A33. Van hier af is dit 11 km tot waar ons links afdraai op die Hunters road. Daar is n afdraai vroeër, maar dis ‘n rowwe tweespoor sandpad en hulle beveel aan jy ry hom nie as jy iets sleep nie. Daar is ‘n fooi van 500 Pula as hulle jou moet kom uitsleep. Van waar ons afdraai op die Hunters road is dit net onder die 6 km redelike sandpad tot by die Lodge. Ons stop net na 12 by Senyati se ontvangs. Hierdie plek is baie gewild en het ek so week terug hier bespreek en betaal. 

Die vrou is eers verbaas en sê ons bespreking is nie op hulle stelsel nie. Ek verseker haar ek het bespreek en als betaal. Sy soek weer op die stelsel en sê ons is eers van more af bespreek. Ek en Moeksie kyk vir mekaar en besef ons is een dag vroeg. Gelukkig is daar ‘n oop staanplek vir vanaand en ons verander die bespreking dat ons net die drie aande bly. Ongelukkig is daar nie ‘n staanplek voor naby die watergat beskikbaar nie, maar dis ok, ons gaan die drie nagte hier geniet. Elke staanplek het ‘n lekker groot afdak met ‘n privaat ablusie, opwas area met kragpunte, regtig lekker ingerig. Net na twee is ons kamp reg, ook ‘n staanplek met redelik koelte.

Die eienaar Lulu kom maak ‘n draai en sê daar is nog geld uitstaande op my rekening. Ek sê ek sal later by die kantoor ‘n draai maak, seker ek het die volle bedrag betaal. Ek het nie ‘n uitdruk van my betaling nie, sal hulle Wi-fi gebruik om die bevestiging van betaling aan hulle te stuur. By die kantoor praat die een dame van die wisselkoers en ek moet nog 280 Pula inbetaal. Ek stry eers maar betaal toe die bedrag. Die volgende dag het ek weer met Lulu gaan praat en als vir haar gewys. Sy erken toe ek het als voorheen betaal, hulle sal my die 280 Pula terugbetaal.

Hierdie is regtig ‘n besonderse plek. Ek was al voorheen hier, net ‘n drink kom drink en diere kom kyk toe ons in Kasane gekamp het. Lulu het die dagbesoekers belet, sê hulle misbruik haar fasiliteit net om diere te kom kyk. Aan die voorkant van die kampplekke is daar ‘n groot dubbelverdieping gebou wat op die watergat uitkyk, dis nie toegespan nie en dit is GROOT 5 wêreld die. Aan die bokant is ‘n kroeg en jy kan hier eet ook. Onder is badkamers en ‘n area met stoele om die wild te besigtig. Wat hierdie plek besonders maak is die tonnel onder die grond wat uitloop in ‘n bunker reg by die watergat met grondhoogte uitkykpunte waar jy die wild letterlik kan aanraak, so naby is jy.

Uitsig van die "viewing deck" van die watergat se kant af
Die tonnel
Die "bunker"
Uitkykpunte

Ons stap later die middag af watergat toe en sien heelwat diere. Die olifant wat water drink is ‘n belewenis van hier onder die bunker af, hy is BAIE naby !!

Hier kan ek vir weke aaneen sit en net die natuur en diere geniet, min plekke in die wêreld waar jy dit so kan beleef !

Net voor sewe is ons terug by die kamp en die horison rooi ingekleur word deur die sonsondergang, n mooi prentjie. Die vuur word aangesteek, gaan weer lekker braai vanaand. Dit het effe afgekoel, maar dis lekker. Ons is dit eens, bly ons kamp hier.

Na ete is ek weer af watergat toe. ‘n Hele paar olifante kom water drink en ek moet myself dwing om terug te gaan kamp toe, bang ek mis iets.

Moeksie lê nog en lees as ek kom inkruip. Ons bespreek more se program, moet gaan inkopies doen, ‘n Botswana SIM koop en kyk of ons op n sun set cruise op die Choberivier wil gaan. Moontlik nog vir oulaas ‘n tiervis gaan soek ook.

Maandag 23 Mei 2022

Ek sit en wag vir die son om sy kop uit te steek by die watergat met ‘n koppie koffie in die hand.

‘n Olifant kom later water toe en n kameelperd staan hier naby en wag vir die olifant om klaar te drink voor hy inkom.

Ons ry later Kasane toe, maar stop eers by die vulstasie in Kazungula, het gehoor mens kan hier ‘n SIM koop. ‘n Vrou by een van die stalletjies langs die vulstasie help my om die SIM te registreer, in Botswana werk dit so, moet ‘n SIM registreer. Na ‘n oproep na Gaberone en al my detail wat ek oor die foon gee, is ek op die lug.

In Kasane stop ons by die Spar en kry wat nodig is vir die volgende twee nagte by Senyati en nog twee nagte elders op ons pad terug. Dan stop ons by Kalahari Tours, het hulle al baie gebruik vir ekskursies. As hulle my meedeel dat ons deel van ‘n groep moet wees vir ‘n sun set cruise besluit ons ons gaan dit ‘n mis gee, het dit al baie gedoen. Die twee manne wat hulle gebruik vir visvang is ook nie een beskikbaar nie en ek besluit ek sal maar berus by die grote wat ek gevang het in die Caprivi. Ons ry ook ‘n draai by Big Five (ou Toro Lodge) en is teleurgesteld in die toestand van die kampterrein, bly ons kamp nie hier nie. Hulle is wel druk besig met opgradrings by die Lodge area, sal dan na die kampterein omsien. Was altyd ons gunsteling kampplek.

Terug by die kamp verkeer ons rustig tussen die kamp en die watergat. Die watergat is vol lewe en hier is heelwat mense wat die natuur geniet. Hoor ook van die ou wat met sy fiets deur Afrika gery het tot hier en ook hier kamp, hy is op pad Kaap toe. Wil graag later met hom gesels. Die SIM is in die dongle maar vang net op as jy by die Lodge is, so hy gaan elke keer saam as ons watergat toe gaan vir kommunikasie.

Die trop olifante wat later inkom met heelwat kleintjies verskaf groot vermaak. Daar is ‘n baie klein olifantjie wat soos ‘n nar rondspeel en almal geniet dit om hom dop te hou.

Na ‘n onvergeetlike middag by die watergat is dit tyd om die vuur te gaan aansteek. Ek merk die man met die fiets kamp hier naby ons in ‘n klein tentjie. Ek stap nader en vra hom uit oor sy toer. Hy kom van Johannesburg af, vir ‘n tyd daar gebly en besluit hy wil iets anders doen, toe begin hy fietsry. Hy het al amper letterlik die hele wêreld platgery met sy fiets, Afrika, Europa, Amerika, Australië, ens. Hy beplan ook om oormore verder te gaan, moontlik Nata se kant toe. Hy doen dit net omdat dit vir hom lekker is, min mense weet van hom.

Na ete is ons redelik vroeg bed toe, wat n ongelooflike dag !!

Dinsdag 24 Mei 2022

Ek sit weer by die watergat en wag vir die son, dis ‘n mooi oggend. Heelwat olifante kom weer watergat toe. Dan hoor jy die leeu wat redelik naby brul, klink meer kampplekke se kant toe. Die brul is later baie naby en ek verwag dat hy enige oomblik hier agter die huisie links van my sy verskyning gaan maak. Hy bly buite sig as die brul al verder klink, amper ‘n groot opwinding beleef. Moeksie sluit later by my aan en vra of ek die leeu gesien het. Sy was besig by die kamp toe hy die eerste keer brul, vir haar geklink hy is net hier agter die kampplek. Sy het toe maar gaan wegkruip in die toilet en eers uitgekom toe die brul baie ver klink, redelik benoud gewees.

Ons is terug kamp toe en gaan maak brunch. Ek gesels weer met Peter Gazzard, die fietsryer. Hy wil Kasane toe om uit te vind of daar ‘n bus loop Nata toe more. Hy wil met die bus ry Nata toe en weer met sy fiets terugry hierheen, gehoor mens kry baie olifanta op daai pad. Ek bied aan dat hy saam met ons kan ry, ons gaan Elephant Sands toe. Dis waarheen hy ook wil gaan en sê hy sal wardeer as dit nie te veel moeite is vir ons nie. Ons maak dit so vas, hy moet more oggend agtuur reg wees.

Die res van die dag spandeer ons meestal langs die watergat. Met die regte fotografiese toerusting sal ek maklik vir maande net hier sit en fotos neem, dis my lewe !!

Dis net na vyf as die watergat weer lewe kry. Hier is baie olifante en ‘n groot trop buffels is op pad om te kom water drink. Hier is ook heelwat rooibokke, vlakvarke en kameelperde wat in die veld rondstaan, almal wag vir ‘n beurt om te kom waterdrink. Dis ‘n ongelooflike gesig.

Ons neem swaar afskeid van die watergat, net nog ‘n rukkie sit en die genade beleef. Ons stap kamp toe en maak vuur vir die varktjops en ‘n braaibroodjie. Peter kom net weer bevestig dat dit reg is vir more, hy sal seker maak hy is vroeg opgepak.

Na ete begin ek van die los goed wegpak. Ek moet die agterste sitplek leegmaak om plek te maak vir Peter ook. As ek later gaan inkruip lê ek nog lank wakker en oordink die twee dae wat ons hier was, moes langer gebly het.

Scroll to Top