Dag 35 & 36

Woensdag 25 Mei 2022

ROETE : Senyati, A33, Elephant Sands = 239 km

Ek is baie vroeg op en gaan maak ‘n laaste draai by die watergat. Dis nog donker as ek vir die son sit en wag om op te kom. Hier is nie diere nie, maar die rustigheid is kos vir my siel.

As die son sy kop uitsteek stap ek terug kamp toe en begin oppak. Peter bring sy fiets en ek maak hom stewig bo op die canopy vas. Sy ander bagasie, ‘n paar sakke wat langs sy fiets hang as hy ry, kry plek langs hom op die agterste sitplek. Ons is gelaai en reg om te ry. Ons vat dit rustig terug op die Hunters Road tot by die A33 teerpad waar die bakkie sy neus Suid draai. Ons volgende kamp is sowat 230 km van hier af Nata se kant toe, ongeveer 53 km voor Nata.

Ons het hierdie pad ook al baie gery, met tye was hy goed en met tye was hy baie sleg. Vandag is die pad goed en ons vorder goed so tussen die gesprek met Peter deur. Ek hang aan sy lippe as hy my vertel van sommige van die wedervaringe wat hy al deur is, ongelooflik stories. Hy gaan ook twee aande by Elephant Sands slaap, terugry Kasane toe en dan deur die Caprivi Windhoek toe en dan af Kaap toe. Hy werk nie volgens ‘n tydraamwerk nie, ry tot hy moeg is, slaan tent op en slaap. Hy ry ook meestal baie vroeg in die oggende voor dit te warm is. Hy sal graag teen Desember in die Kaap wil wees, maar niks jaag hom nie.

Die laaste 20 km pad raak redelik sleg met heelwat potholes. Ons het heelwat olifante langs die pad gesien. Die gras is BAIE lank tot teen die pad en jy moet heeltyd wakker slaap, anders kan jy dalk ou grote raakry as hy oor die pad stap. Gesien daar is darem ‘n kampie iewers langs die pad waar werkers besig is om die gras te begin sny. Dis rerig nie lekker om so langs die lang gras te ry en jy weet daar kan enige oomblik ‘n dier voor jou inloop nie. Met al die gesels was die pad baie kort en net voor twaalf draai ons af by Elephant Sands se borde. 

Die tweespoor sandpaadjie is mooi en na 2 km stop ons by ontvangs. Hier is dit first come first serve en jy kan kies waar jy wil staan. Ons boek in vir twee nagte en gaan soek ‘n lekker staanplek. Hier is enkele ander kampers en ons kry ‘n staanplek reg voor met ‘n mooi uitsig oor die watergat waar daar reeds ‘n klomp olifante water drink. Ons is voor een opgeslaan en reg om te ontspan. Dis ook lekker naby die ablusie. Hier is nie krag nie, so die solar word uitgesit. Peter het sy tentjie hier op die staanplek langs ons opgeslaan, moet sê hy is BAIE goed toegerus, veral as jy dink hy ry alles saam op sy fiets !

Hier is ‘n watergat met tenthuisies om die een helfte gebou, die ontvangs aan die anderkant en dan die kampplekke, waarvan die voorstes ook om die watergat geleë is. Hier is geen heinings nie en die diere loop tussen die tenthuisies watergat toe. Hier gaan ons lekker kamp.

Ons stap later Lodge toe om ‘n kouetjie te gaan geniet. Dis ‘n baie netjiese opset met n groot lapa waar jy kan eet, ‘n mooi kroeg en dan ‘n platvorm tot op die watergat waar jy letterlik teen die olifante staan. Hier is gelukkig ‘n lae geëlektrifiseerde draad heininkie met ‘n klompie skerp klippe aan die watergat se kant wat keer dat die olifante nie oorkom nie. Die swembad se water is maar redelik koud, sal dit nie nou aandurf nie. Ons dongle vang nie hier sein op nie, maar hier is gelukkig gratis Wi-fi by die Lodge.

Ons stap later terug kamp toe en gaan geniet die uitsig van ons kamp af, werklik iets besonders. Ons kom agter een van die toegangsroetes vir die olifante watergat toe is net hier agter die ablusie verby, sowat 20 meter van ons kampplek af. Hier kan ek laaaank staan !

Dis ‘n rustige middag en ons geniet die olifante wat soms in groot troppe die watergat kom besoek. Ons sit rustig en wag vir die son om sy kop neer te lê voor ons die vuur aansteek. Vanaand is ons laaste skaaptjops saam met n braaibroodjie.

Dis amper agtuur as ons gou weer Lodge toe stap. Die put-vuur wat hier teen die watergat brand lyk baie gesellig en jy kan hoor die mense kuier lekker.

Na ‘n warm stort is ons net voor nege in die bed. Ons lê nog lank en gesels oor ons ervaringe, die een hoogtepunt na die ander. Ons is geseënd en BAIE dankbaar vir die GROOT genade om dit te kan beleef.

Donderdag 26 Mei 2022

Ek het bietjie ingelê en Moeksie sit al buite, met die son wat al uit is, as ek my kop by die tent uitsteek. Ek maak vir ons koffie en ons geniet die olifante wat reeds by die watergat kuier.

Na brunch stap ons weer Lodge toe om die ou grotes van nader te aanskou en met die Wi-fi met ons mense te kommunikeer. Hier kom jy rerig naby aan die olifante !. Hulle sê die watergat was ‘n paar maande terug droog en moes hulle water aanry met ‘n watertrok om hulle water te gee. Dit moes seker nogal ‘n uitdaging gewees het, soveel olifante daagliks van genoeg water te voorsien ! Hier kom soms leeus ook watergat toe en hier was al wilde honde wat ‘n bok in die kampterein gevang en geëet het.

Die res van die dag spandeer ons op ons kampstoele en geniet die olifante wat deurlopend inkom om water te drink. Moet sê mens voel nogal half ongemaklik as hulle sommer hier voor jou verbystap, gaan stilstaan en jou uitkyk voor hulle verder loop.

Dan kry jy altyd die een of twee wat die watergat as ‘n bad sien en hulle self gate uit geniet.

Dis net voor ses as die son sak en ons vir oulaas Lodge toe stap.

Vanaand steek ons nie vuur aan nie, Moeksie maak vir ons spek-ball (spaghetti bolognese), lankal weer lus daarvoor. Ons gesels vir oulaas met Peter en wens hom sterkte toe met sy omswerwinge, glo ons mag mekaar eendag weer raakloop.

As ons later in die tent rustig raak met die wete dat more ons laaste aand van die toer is, kan jy die hartseer, maar ook dankbaarheid in my stem hoor. Ons moet nie te lank wag voor ons dit weer doen nie !! Ons praat ook oor Ewald en Carol wat dit baie sou geniet het en noem nog vele name van mense wat graag sou wou saamkom – dalk ‘n volgende keer.

Scroll to Top