Ons is soos gewoonlik op voor die son sy kop uitsteek. Peter is klaar gepak en reg om te ry. Ons groet hom en begin self oppak. Dis net voor sewe as die son sy kop in die Ooste tussen die tenthuisies oplig.
Kwart voor nege draai ons Suid op die A33, rigting Nata. Gehoor hierdie pad tot op Nata is maar ‘n uitdaging, so ook die pad tussen Nata en Francistown. Ek het toe reg gehoor, die pad is vol potholes en ek moet mooi konsentreer, wil nie nou n band afskryf nie. By Nata draai ons links op die A3, van hier af is dit nog 177 km teerpad tot by ons volgende stop. Die pad is rerig baie sleg, vol GROOT potholes. Daar is ook redelik verkeer op die pad en jy moet kophou as jy n voertuig wil verbygaan, seker maak daar is nie ‘n pothole voor nie. Ons is nie haastig nie en vat dit rustig.
Net na half twaalf draai ons links af met die tweede afrit na Woodlands Stop Over & Lodge. Die eerste afrit, ‘n paar kilometer vroeër, was BAIE steil en sleg. Ons vat die grondpad wat redelik OK is en na 7 km stop ons by ontvangs.
Die man kom groet ons baie vriendelik en sê ons is baie welkom. Ons is die enigste kampers, so ons kan kies waar ons wil staan. Ek is aangenaam verras as ons ‘n kampplek gaan soek, pragtige grasperke en mooi tuine. Ons betaal vir die nag en bestel drie sakkies hout, een vir braai en twee vir ‘n groot vreugdevuur.
Elke staanplek het sy eie netjiese braai, kragpunt, waterkraan en ‘n boma om in vuur te maak. Vanaand gaan ons lekker kuier.
Ons is voor een opgeslaan, net die nodigste uitgehaal want ons wil more vroeg in die pad wees. Ons geniet net die rustigheid by die kamp die res van die middag.
Net na ses is die vure aan die gang, een in die braaiplek en die braaiput kry ook genoeg hout. Wil vanaand lank by die vuur sit, afskeid neem van ‘n ongelooflike toer. Eers word die hoender gebraai saam met wors, genoeg vir padkos vir more ook.
Dis ekstra spesiaal as die nagapies na ete ook kom groet, hulle is te oulik en baie mak.
Ons geniet die stort in die baie netjiese ablusie, wat eerder ‘n saal is, so groot is dit. As Moeksie gaan inkruip sit ek nog ‘n rukkie by die vuur, my gedagtes vol memories.