Saterdag 28 Mei 2022
ROETE : Woodlands, A3, A1, B140, N11, R361, Tolwe = 395 km
Ons is vroeg op en die los goedjies word rustig gepak. Vandag se roete is sowat 395 km, maar ons moet ook deur die grenspos gaan. As ons klaar gepak is, vat ons pad net na agt, terug teerpad toe en draai links Francistown rigting. Die sowat 11 km tot in Francistown gaan vinnig. Ons draai af op die A1 wat ‘n mooi teerpad is. Die eerste deel is ‘n dubbelpad maar meeste van die tyd is die spoedbeperking 80 km/uur.
Ons ry goed en die 166 km tot voor Palapya gaan voorspoedig, het hierdie pad ook al baie gery. Net voor Palapya wys die GPS ‘n kortpad en ons draai links af. Die teerpad is baie sleg en na ongeveer 10 km weet ek, dis nie die regte besluit gewees nie, gaan omdraai. Ons ry deur Palapya en ongeveer 10 km Suid draai ons links op die B140. Van hier af is dit net oor die 100 km tot by die Maartin’s Drif grenspos. Die pad is goed en ons vorder mooi.
Ons is net na een by die vulstasie net voor die grenspos waar ek my laaste Pulas gebruik om petrol in te gooi. Dis meer as R2.50 goedkoper as in SA, so ek maak maar vol. Die grenspos is stil en ons is vinnig deur. Aan die SA kant stop ek eers soos my gebruik is, klim uit die bakkie en soen die grond, ek is lief vir my vaderland.
Nou is dit nog net sowat 100 km tot op die plaas by Tolwe waar ons gaan oorslaap. My ouboet Carel, jongboet Jan en ‘n klomp pêlle jag daar die naweek en hulle het gevra ons moet daar kom oorslaap. Die pad tot op Baltimore is goed maar waar ons links draai Tolwe se kant toe is die 37 km maar ‘n uitdaging. Dis net voor drie as ons by die plaas inry. Ek was al voorheen ook hier, het bietjie biltong kom “oes” ‘n paar jaar gelede.
Ons groet almal, ken meeste van die manne en gaan slaan op langs die huis op die gras. Ons kuier lekker om die vuur as ‘n klomp van die manne weer veld toe is, moet ‘n blouwildebees gaan soek wat gekwes is. Nou is ek bly ek is nie deel van die jaggeselskap nie, nooit lekker om ‘n geweste bok te gaan soek nie.
Dis na son-onder as die manne van die veld af terugkom, niks gekry nie. Aandete is beesstert wat al van vroegmiddag af eers bruin gebraai is en toe in die potte gesit is om stadig te prut.
Almal is moeg en net na ete is almal kooi toe. Ek en Moeksie gesels nog lank in die bed voor ons aan die slaap raak. Nog n volmaakte dag – soos elke ander dag. Ons toer is nou klaar, more net Johannesburg toe ry, die waentjie en die karavaan ruil en dan oor n dag of twee weer die pad vat.