Wat ‘n ONGELOOFLIKE ervaring en ek verlang sommer na my drie seuns wat nou hier moes wees, en Swaerie en boetie Jan en sommer almal wat al saam met my visgevang het. Dit gaan klink na ‘n vissermanstorie as ek moet oorvertel wat ek nou hier beleef. Die buurman langsaan, nie ‘n visserman nie, staan nader as hy my uitbundige geroep hoor : Come to papa, come to papa, elke keer as ek een haak. Heelwat het natuurlik ook losgekom met die springslag as ek hom haak. Tiervis het ‘n manier om uit die water te spring, die oomblik as jy hom haak, dan moet jy die lyn heeltyd styf hou, anders is hy weg.