Na laat opstaan is dit eers koffie, twee of drie vir my, voor ons begin pak. Ons vat dit rustig en is net na 10 uur in die pad. Ons ry deur Oos London en besluit om by Genubie te gaan draai. Ons eet ʼn ligte middagete – en ʼn glasie wyn – op die Beach House Coffee Shop se stoep terwyl ons op die see uitkyk. Dis weer ʼn perfekte windstil dag. Het al van baie mense gehoor dat Genubie ook ʼn lekker vakansieplek is, moet dit nog kom beleef. Ons het al heelwat hier kom inkopies doen as ons by Arend’s Nes in Cintsa gekamp het. Ek wil nuwe plekke ook ervaar en ons besluit om by Morgan’s Baai te gaan kampplek soek maar doen eers aankope en ry by Cintsa in om Anton & Magda die plek te wys.