Met vroeëre navorsing het ek gelees daar is heelwat maniere om die Namib te besoek, waarvan die volgende drie die gewildste is : 1. Die roete vanaf Lüderitz na Saddle Hill en terug. 2. Die roete vanaf Walvisbaai na Meob baai en terug. 3. Die roete vanaf Lüderitz, deur die woestyn, na Walvisbaai. Jy kan dit egter nie op jou eie aanpak nie en moet deur operateurs werk wat konsessies het om die woestyn te besoek. Dalk ook goed so, want anders was die duine al plat gery deur mense wat nie die reëls van die natuur respekteer nie en net ry waar hulle wil.