Elke staanplek het ook sy eie ablusie wat bestaan uit ‘n kombuis, opwasplek met warm water, toilet, stort, 220V muurprop, ligte en braai fasiliteite. Die braaiplekke is ’n ronde betonblad wat so 7 stene hoog staan, net hoog genoeg om jou voete op te rus as jy hier langs die vuur kuier. Jy maak vuur in die middel en krap kole uit vir die braai of warmmaak van potte op ‘n driepootjie. Aandete en ontbyt is by die lodge beskikbaar op aanvraag. Hout kan gekoop word en ons koop twee sakke. Swembad is ook beskikbaar.
Gewapen met ons kameras stap ons tot by die damwal. Hier is baie voëls. Barend en Elsa se kameras kliek aanhoudend. Ons sit op die damwal en staar oor die water, elkeen besig met sy eie gedagtes. Wat ‘n ongelooflike voorreg om hier te kan sit, in die natuur, naby jou Skepper !
Ons stap terug kamp toe en die vuur word aangesteek. Die stoele is uit en die bosveld TV het lanklaas sulke mooi programme opgelewer. ‘n Vuur in die bos is my bosveld TV, almal kyk na hom, elkeen ingeskakel op sy eie kanaal. Barend en Elsa vertel om die vuur dat hulle nou maklik gewoond kan raak aan net die beste oornagplekke.