Dag 2

Vrydag 22 April 2022

ROETE: Springbok, (N7) Steinkopf, Vioolsdrif, (B1) Noordoewer, Namgate Gasteplaas = 260 km

Ek is net na ses wakker. Moeksie is al buite besig om koffie te maak. Na my tweede koppie begin ek penne uittrek. Die afslaan gaan vinnig, ons kamp nou al langer as n maand in die waentjie en elkeen weet waar om te vat. Ons het ook net die nodigste gister uit die bakkie gelaai.

Ewald en Carol is ook op en begin afslaan en wegpak. Vandag se roete is net teerpad, so dit behoort vinnig te gaan. Dis net na agt as die voertuie se neuse Noord gedraai word, rigting Steinkopf. 

Die 120 km tot op Vioolsdrif gaan vinnig as ons kort-kort oor die radio die landskap bespreek, lanklaas die veld so groen gesien met grasvlaktes wat jou aan die Vrystaat laat dink. Hier het baie reën geval die afgelope twee jaar en ongelukkig het die sprinkane ook die grasvlaktes ontdek. Oral op en langs die pad kom ons hulle teë. Die koringkrieke is volop en ek ry so veel as moontlik dood, soos n speletjie vir n klein seuntjie.

Dis net voor half twaalf as ons die Oranjerivier oorsteek. Die grenspos is stil en die administrasie gaan vinnig. Aan die Namibië kant word jou koors gemeet en jou Covid inentingsertifikate word gavra. (Ons het vooraf besluit om die inentings te kry, nie nodig vir die R800.00 PCR toetse wat nie ouer as 72 uur mag wees nie – spaar ons BAIE tyd en geld). Die man by die laaste hek vra of ons enige vleis het en ek maak reg om uit te klim om die vrieskas (in die waentjie) en yskas (agter in die bakkie) te gaan oopmaak. Hy sê vriendelik dis nie nodig nie, ons moet veilig ry en die land geniet.

Ons ry tot op Noordoewer waar ons by die garage stop om brandstof vol te maak en n Namibiese simkaart te koop vir kommunikasie en data. Die petrol hier is R3.20 goedkoper as in SA en dit rek my begroting aansienlik oor die afstand wat ons deur Namibië gaan ry !!

Ek vra die jong dame agter die toonbank in die winkel wat sal sy aanbeveel ten opsigte van n netwerk en ek verduidelik haar ek gebruik nogal redelik data vir my plasings op fb. Sonder om te aarsel haal sy n simkaart uit en sê dis wat sy aanbeveel, die MTC netwerk. Sy sit die simkaart in Moeksie se foon, registreer die sim en sê die pakket wat vir my sal werk is die Super Ahwe (R65.00 vir 3 Gig data, baie lugtyd en honderde sms’e geldig vir 7 dae) Sy neem ons na die selfhelp masjien waar sy ons help om die voucher te koop, sleutel die kode in en ons is gesort. Ek sit die sim in ons dongle en ons is op die lug !!

Ewald koop ook n simkaart en koop ook n Super Ahwe van R65.00. Hy laai hom in Carol se foon en hulle is ook op die lug. Ek gee hulle my dongle se password en hulle kan my data gebruik, as dit op is (of na 7 dae) sal ons beurte maak om weer n pakket te koop. Ongelukkig sal hulle nie die dongle se data kan gebruik terwyl ons ry nie, die dongle se sein strek net so ongeveer 20 meter. 

Van hier af is dit net 136 km tot by ons bestemming, Namgate Gasteplaas so 5 km voor Grunau. Ons verwonder onsself aan die pragtige landskap en kan nie uitgepraat raak oor die groenigheid en welige grasvlaktes nie. Dis die eerste keer dat ek by Vioolsdrif inkom, nog altyd by Ariamsvlei van Upington se kant af ingekom.

Dis presies twee uur as ons links afdraai na die gasteplaas. Die kort stukkie grondpad tot by die plaashuis is baie mooi geskraap. Ons boek in en ry na die kampterien so paar honderd meter van die plaashuis af. Dis n groot oop stuk grond met kragpunte oral versprei en n groot vuurput in die middel. Die ablusie is aan die oostekant van die terein, baie ruim en BAIE netjies. Ons is die enigste gaste en ons kan kies en keur waar ons wil staan. Die waentjie kom tot stilstand nie te vêr van die vuurput af nie. Die kragpunt hier by ons wil nie werk nie maar ek het 2 x 30m kabels en kan krag vêr gaan haal, wil vanaand lekker om n vuur (of is dit n 5 of n 6) kuier.

Ek het by twee vriende gehoor van die plek, vriend Johann wat tot n paar jaar terug die Grunau hetel besit het en vriend Chris wat goeie vriende is met die eienaar. Hulle verkoop ook vleis hier en ek het n paar weke terug al vlies bestel, sosaties wat ons vanaand gaan braai en n klompie saddle tjops wat ons gaan saamvat. Ek is maar altyd skrikerig om vleis so op n vreemde plek te bestel, het al n bloutjie geloop in Botswana met vleis wat mens nie kon eet nie. Dis een van die redes wat my laat besluit het om hier oor te slaap, braai van die vleis en as dit lekker is, koop nog, as dit sleg is, kanselleer die bestelling.

By die plaashuis is daar gedurig bakkies wat inkom, n wyle vertoef en weer ry. Ek stap laatmiddag oor en ontmoet vir Kobus van der Merwe, die eienaar. Hulle en die plase in die omgewing werk saam om die sprinkane te spuit, die grootste plaag wat hy in sy lewe al beleef het. Die reën die afgelope twee jaar het die ding net vererger, maar dit het darem die veld mooi aangehelp ook. Ek dra my vriende se groete oor en ons gesels lekker. Hy sal later as dinge rustiger raak n draai kom maak.

Terug by die kamp is moeksie klaar gestort, sê dit was hemels ! Ek en Ewald kry hout reg wat ons hier gekoop het, lyk na lekker droë braaihout. Dis half sewe as dit begin skemer raak en daarmee saam raak die lug koel.

Om die kampvuur gesels ons oor die dag, die maklike deurkom by die grensposte, die landskap, die springkane en koringkrieke en bespreek ook die roete van more. Dis nie vêr se ry nie, maar ek wil darem voor 10:00 in die pad wees. Dis n ou beleid van my, as ek nie bespreek het nie, wil ek voor 12:00 by n plek wees sodat as daar nie plek oop is nie, ek nog verder kan ry na n volgende plek. Ek wil nie in die donker op die pad wees en opslaan nie !!

Dis vanaand ons beurt om kos te maak. As die sosaties op die kole is, staan ek kort-kort op, kan nie genoeg van die sonsondergang kry nie. Die skildery op die horison is volmaak en ek voel klein, GESEëND !!

Die sosaties is onverbeterlik, lanklaas sulke lekker sosaties geëet. Moeksie se aarappelslaai wat al n tydjie lank saamry en die boksie beetslaai was die regte keuse vir bykosse. Ons is eenstemmig dat ons nie net die vleis gaan vat wat ons bestel het nie, sal nog heelwat more by hulle padstal langs die hoofpad koop vir ons etes vorentoe.

Dis laataand as ek n lekker stort gaan vat. Lekker warm water en die druk is goed. Moeksie is nog wakker as ek inkruip en ons gesels nog lank oor die dag en wat nog voorlê. Ons is geseënd !!

Klik op “PREVIOUS POST” om volgende dag te lees.