Dag 3 & 4

Saterdag 23 April 2022

ROETE: Grunau, C12, C37, Canyon Roadhouse = 77 km

Dis net na ses as ek en moeksie buite sit en n koppie koffie geniet. Die luggie is koel so vroeg in die oggend.

Daar is geen haas nie en die oppak gaan stadig. Kobus kom maak n draai en vra verskoning dat hy nie gister by ons uitgekom het nie, die sprinkane het hom besig gehou. Hy is teleurgesteld as hy hoor ons ry vandag verder, wou ons so graag n draai deur die plaas gevat het. Ons praat oor die plaas en die distrik en vriend Hermanus Viviers se ouers word ook genoem, n plaas nie vêr van hier af nie. As mens so gesels kom jy agter hoe klein die wêreld is. Vinnig, vinnig ken ons dieselfde mense.

Dis net voor 10:00 as ons by die huis stop om die vleis wat ek bestel het op te laai, lekker hard gevries. Die vrou sê ons kan nog vleis by die padstal koop by die hek. Sy sukkel en my kredietkaart wil nie deurgaan nie, sê ek moet sommer die kamp se gelde ook by die padstal betaal.

Die padstal is goed gestock en ons koop nog wors en ander vleis. Ons ry deur Grunau en draai liks op die C12, n mooi grondpad. Van hier af is dit ongeveer 70 km tot by Canyon Roadhouse waar ons twee nagte gaan slaap. Die omgewing is mooi !

Net na half twaalf draai ons in by Canyon Roadhouse, ook n ou bekende vir ons. Ek het vooraf besluit om aan te sluit by Gondwana Collection Namibië. Die lidmaatskap kos jou R600.00 per persoon en is geldig vir 5 jaar. Met jou lidmaatskap kry ons 40% korting op kamptariewe en op meeste aktiwiteite 25%. My somme het gesê as ek by drie van hulle oorde oorslaap is die R600.00 betaal – werk amper soos ons Parkeraad se wildkaart. Canyon Roadhouse is deel van Gondwana, so die korting maak dit die moeite werd om hier te kamp.

By ontvangs verneem ek eers watter staanplekke is beskikbaar vir die volgende twee aande. No 7, 10 en 12 is beskikbaar, sal gaan kyk en dan laat weet watter staanplek ons vat. Ewald het nie vooraf by Gondwana aangesluit nie en die vriendelike ontvangsdame help hom om gou aanlyn aan te sluit sodat hy ook die korting kan kry. Daar is n houer met plakkers in van al Gondwana se plekke en ons koop eers waar ek al was en ook sommer van die waar ek weet ons gaan oorslaap. Terwyl Ewald besig is met sy admin, ry ek en Moeksie solank om n kampplek te gaan kies.

Ons kyk  na nommer 7, nie te sleg nie. Toe ons by nommer 10 kom met die lekker groot afdak (gewoonlik vir groepe) kyk ons nie eers verder nie, dis ons plek die. Kan die voertuie onder een deel van die afdak parkeer en dan nog lekker beskut kuier onder die res van die afdak. Die ablusie is ook net oorkant die pad, wel n entjie om Lodge toe te stap, maar dis deel van die oefenprogram.

Ek en Moeksie is al vêr opgeslaan as Ewald en Carol aankom. Die grond is redelik hard en ek buig n paar van my reguit penne as ek hulle probeer inslaan. Gelukkig het ek seun Jan Hendrik se koordlose boor saamgebring met n lang concrete punt, dit help so bietjie.

Daar is niks op ons program vir die res van die dag nie, ons kan rustig kamp maak en net ontspan. Dis hoe ek daarvan hou, anders as baie ander toere wat jy heeldag ry, laat by jou plek aankom, vinnig voor donker moet kamp opslaan en weer more oggend voor die son uit is in die pad moet wees. Ek het so beplan dat daar GENOEG tyd is vir rustig wees (as jy wil) en tog ook genoeg tyd om die omgewing te kan verken. Omdat ek en Moeksie al baie in Namibië was, ken ons meeste van die besienswaardighede. Dit is dan ook die rede dat ons hier kamp en nie Ais Ais nie, was al baie daar.

Later die middag stap ek Lodge toe, het bietjie admin wat ek op die rekenaar moet doen en my fb posts doen. Ongelukkig het ons nie opvangs hier by die kampplek nie, sal van die gratis wi-fi gebruik gaan maak by die Lodge. Ewald sit klaar by die kroegtoonbank as ek daar aankom. Hy het ook werk wat gedoen moet word. Die bier wat hy vir my koop proe sommer lekker – nie rerig n groot bierdrinker nie, maar sou koue enetjie dan-en-wan is lekker. Hier sit en vergaap jy jouself aan al die goetertjies rondom jou, veral die ou motors is iets om te aanskou.

Dis as die toeter afgaan en die man kom met n rooi gesig by die mans badkamer uit wat ek weet, hy kon sy nuuskierigheid nie hou nie en moes die bordjie oplig om te kyk wat steek hulle daar onder weg. Die locals wat die ding ken, kyk almal met n groot glimlag na jou as dit jy is wat daar uitkom op die aankondiging van die toeter, weet nie waar om jou kop weg te steek nie.

Terug by die kamp is Moeksie besig om die droë voete te bahandel, die stof kan jou vel lekker uitdroog. Ewald leen ons “wasmasjien”, het n paar goedjies wat hy wil spoel. Dit alles word hier in die koelte onder die afdak gedoen.  n Lekker kampplek wat ons het.

As dit skemer raak, is die luggie koud met n ligte windjie wat waai. Nou is ek eers bly ons het die afdak, ons eie sitkamer wat baie beskut is.

Moeksie het aangebied dat sy vanaand weer sal kosmaak, wil van die gaar vleis wat ons oor die grens gebring het uit die vrieskas uit kry. Dis al half agt as ons lekker in die “eetkamer” sit en eet, kers in n leë 2 liter koeldrankbottel om atmosfeer te gee. Ons gesels oor more se program, gaan bietjie die koppie agter ons klim en die gebied verken en wil later Visrivier Canyon toe, wil hom weer gaan sien. Carol was nog nie daar nie.

Met die koue het almal na ete gaan inkruip, nie nodig om hier buite te sit en bibber nie. Wat n lekker rustige dag was dit nie !

Sondag 24 April 2022

Vanoggend bietjie later gelê as gewoonlik, het lekker geslaap. As ek uikom vir my koffie sien ek vir Ewald halfpad op teen die koppie agter ons. Hy is braaf, want dis koud vanoggend met die wind wat redelik sterk waai. As ek my eerste sluk koffie vat is dit Ewald wat aangestap kom. Hy moet ander skoene kom aantrek vir die klimmery en warmer aantrek.

Na die koffie vat ek en Ewald weer die pad agter toe, reg om die koppie te klim. Ons is net voor nege bo en geniet eers die uitsig. Die voetpaadjie op is nie baie steil nie, maar die los klippe maak dit n effense uitdaging, versigtig wees anders lê jy op die grond !

Ons kampplek in die middel en die ablusie voor regs.

Hier is verskeie staproetes en ek het by n vorige kuier een van hulle gestap. Het toe nogal redelik diere hier gesien: Springbokke, gemsbokke, koedoe en zebra. Die wind waai sterk hier bo en dit voel of ek in Antartika is, vriesend koud ! Ons stap n hele ent op die plato en draai later om, dis onplesierig met die koue wind hier bo.

As ons terug is by die kamp begin ek dadelik met ontbyt, wil nie te laat Canyon toe gaan nie, so elf uur hier ry. Moeksie het gelukkig nog krummelpap wat saamry en dit smaak vorentoe saam met die wors en eier.

Hobas – die ingang na die Visrivier Canyon – is so 16 km Suid van hier af, dan is dit nog 11 km tot by die uitkykpunt. Die pad tot by Hobas is goed, maar van daar af, die 11 km tot by die uitkykpunt, is baie klipperig. Ek moet nog eenmaal hier by Hobas kom kamp, lyk baie rustig om hier te kom ontspan.

Ek was al baie hier maar staan elke keer in verwondering oor die Skepping hier voor my, onbeskryflik en NOOIT dieselfde as n foto nie. As ek hier staan beleef ek so klein ietsie van die grootheid van God se Skepping!

Die Visrivier Canyon is die tweede grootste canyon ter wêreld, naas die Grand Canyon in Amerika. Die canyon vorm deel van die Ais-Ais Richtersveld Oorgrens Park. Ek was bevoorreg om ontbyt in die Grand Canyon in Amerika te kon eet, wat ‘n ongelooflike ervaring !! Het met ‘n helikopter afgevlieg en langs die Colorado rivier geland waar ons ontbyt geniet het.

Ewald wil kopskoonmaak en stap eers die maze voor ons terugry kamp toe.

Ons is net na twee weer terug by ons kamp. Ons stap weer Lodge toe vir Wi-fi en n kouetjie. Die “tuin” by die lodge vang altyd jou oog, die kokerbome en motorwrakke versier die plek.

Dis Ewald en Carol se beurt vir kosmaak vanaand. Ons is almal lief vir braai maar die koue vra weer vir n kookkos, maar eers bewonder ons die son wat stadig sy kop wegsteek agter die koppies aan die westekant en die voetpaadjies se liggies soos vuurvliegies lyk.

Die wyn is deur n vriend se kinders in die Kaap vir ons gegee, n goeie geleentheid om hom vanaand te geniet. Na ete bespreek ons, ons lekker kuier hier en more se program. Ons wil so tussen 8 en 9 in die pad wees.

Ek laai n paar los goed in die bakkie, gee my kans om more nie te vroeg hoef op te staan nie. As ek inkruip is Moeksie reeds in droomland. n Wonderlike 2 dae van rus is verby.