Magda en Moeksie is al in droomland toe ek en Anton nog laataand om die bosveld TV kuier. Uit die hoek van my oog vang ek die beweging en die volgende oomblik staan hy hier by ons langs die vuur. Jakkals se kind, sê ek vir Anton. Hy is vinnig om my reg te help toe die tweede hond ook sy opwagting maak. Die twee veldwagters volg kort op hulle hakke en kom hurk-sit hier langs die vuur. Die mense daar by Richtersberg het probleme, sê hulle. Die Cruiser waarmee hulle ry se battery is pap en hulle moet more weer vroeg in die pad wees, ons moet gaan help. Dis net na elf toe ek, Anton en die twee wagters in die Hilux klim en die pad, vir die tweede keer die dag, aandurf. Anton glo ek het night vision, want ek ry die pad beter as vroeër vandag en ons is net na twaalf by Richtersberg. Die vier gaste is mense uit Holland wat weer in Suid Afrika kom kuier het, met een van die vrouens wat hier in Suid Afrika grootgeword het en haar vriende oortuig het om die Richtersveld te kom besoek en deur ʼn toer maatskappy in die Kaap die trip bespreek het. Ek word uit dankbaarheid ʼn bier aangebied, ʼn warm een, want hulle het nie yskas geriewe nie. Waarom het hulle nie die rivierwater gebruik as yskas nie, wonder ek, maar besef almal is nie ewe ervare met hierdie dinge nie. Ook maar goed ek kamp nie saam met hierdie mannetjie nie, dink ek by myself. Ons koppel die jumper leads en probeer die Cruiser start – niks – die battery is morsdood. Ek idle die Hilux vir so 20 minute en ons kry die Cruiser aan die gang. Ons stel voor dat die mannetjie die Cruiser die res van die aand moet laat idle of saam met ons terugry na De Hoop sodat ons hom more kan help om aan die gang te kom, want ons gaan NIE more weer die pad hierheen ry om hom te help nie. Hy bedank ons en sê hy sal ʼn plan maak, ons kan maar ry. Die pad terug gaan nog vinniger, weet nou al presies waar elke klip en gat in die pad is.
Nou gaan ons lekker slaap !
Love it!! Ek reis heerlik saam.