Dis nog vroeg as ons in Lambertsbaai aankom en kan eers nie besluit of ons hier in die dorp wil kamp of eerder by Muisbosskerm wil gaan ontspan nie. Ek en Moeksie het al by beide gekamp en die dorp wen, want hier is heelwat te sien en doen. As ons by Muisbosskerm kamp, moet ons die hele tyd in-en-uit ry. Die kampterrein is verlate en daar is nog een ander karavaan in die kamp. Ons kan kies en keur waar ons wil staan en soek maar die boompies op wat beskutting kan gee teen die wind van die see se kant af, want hier het jy dit nodig as hy begin waai. Ek en Moeksie is verbaas om die plek so leeg te sien, ʼn heel ander prentjie as die Desember toe ons laas hier was. Hier kamp die mense groot, ek bedoel GROOT oor Desember. Het al gesien hoe mense ʼn draad heining, kompleet met ʼn voorhekkie, hier om hulle kampplekke span. Ander het ʼn ingeboude braai hier maak staan, kompleet met steenwerk en al. Die hout wat ʼn paar bondeltjies hoog reg rondom van die kampplekke gestapel word sê vir jou die mense kom staan nie net ʼn week of twee hier nie, en hulle hou van braai. Dit is soos baie jare terug by Die Eiland naby Tzaneen waar ons dit ook beleef het, die platbak trok kom ingery met yskaste, wasmasjiene, hangkaste, beddens en matrasse – die hele huis se meubels, lyk dit as hulle begin afpak. Die werkers maak heeldag kamp en net as die vuur laatmiddag lekker brand, kom die oom en tannie in die Mercedes daar aangery, hulle kom kamp vir ʼn paar weke en die werkers kan terug plaas toe.
Very nice.
Dit bly lekker geniet
Ek toer lekker saam en sien die prentjies!!! As Daan naby is lees ek stukkies voor…ons beny julle! Ons het nie vriende wat saam kan toer nie! Hoop ons kamp julle nog iewers raak.