Ek is eerste op om die halwe drom reg te kry vir die vuur, want vanaand is die aand! Die rooi goggas gaan aandete verskaf, 10 van hulle op die kole. Dis redelik koel met ʼn windjie wat van die seekant af inkom, maar die bos aan die Westekant bied genoegsame beskutting dat ons almal om die vuur kan kuier. Ons het wel baadjies aan en Moeksie met haar kombers. Vanaand word die half gekookte krewe in helftes gesny en op die kole gebraai met ʼn knoffel-botter sousie en suurlemoensap. Moeksie het klaar die mayonnaise en tamatiesous gemeng, ons eie seefood konkoksie. Ek en Anton dop die vleis uit die doppe en suig aan die pote so tussen die wynproe deur. Die leë bakke later die aand is genoegsame bewys dat almal, Moeksie ook, die kreef geniet het.