Dis lekker om weer vir Pieter en Linda te sien en dit vat nie lank voor ons fles vat nie. Pieter het my laat oorskakel Captain Morgan Rum toe, baie jare terug. Hy was lank saam met my in verkope en ons het BAIE konferensies en vergaderings bygewoon waar die twee van ons fles gevat het, die lekker ou dae. Ek het vir baie jare Red Heart Rum gedrink voor die oorskakeling, dit gee ʼn man borshare en jou ore suis die volgende oggend as vroulief kla oor die reuk wat jy vir nog baie ure lank uitsweet, en die asem, veral as jy knoffelbrood ook geëet het. Ons drie manne kom al ʼn lang pad saam, sowat twintig jaar al vriende en langer kollegas en die gesels gaan aan waar ons dit laas laat staan het. Die vrouens is ook na aan mekaar en die kuier is lekker.