Ons wag vir die son om hoog te sit voor ons kop by die tente uitsteek. Ek is eers ordentlik wakker na die derde koppie koffie as ek en Anton besin wie waar gaan opslaan, Ben en Antoinette, Chris Neethling en sy meisie Jacqui en Lolla en Soutie kom vanaand saam kamp.
Ons was nog besig met die besinning toe Ben en Anto en tannie Charlotte opdaag. Ben se waentjie staan agter myne teen die heining. Tannie Charlotte het gereël dat sy by ʼn ou vriendin van haar wat hier op Kleinmond bly gaan oorslaap en ek en Ben gaan soek die plek en laai sy ma af. Ons sal haar later die middag weer kom haal voor ons braai.
Ons is net terug toe Chris en Jacqui en net daarna, Lolla en Soutie ook opdaag. Ons wys waar almal moet opslaan en gee hand waar ons kan. Moeksie en Magda gaan maak ʼn draai by die lokale naaldwerkwinkel want Moeksie wil ʼn kombersie maak vir tannie Charlotte. Chris en Jacqui bespreek ʼn kamer by ʼn gastehuis, hulle gaan nie kamp nie, maar saam kuier. Ons kampplekkie is nou vol en die gesels neem ʼn ander toonhoogte aan, dit raak baie gesellig.
Dis net na 12 toe ons op die dek van die Shellfish Restaurant en Shushi Bar sit met ʼn paar bottels wyn wat tussen die twee tafels wat langs mekaar geskuif is, rondgestuur word. Dis besig hier by die hawe want dis waar die Jazz Fees aangebied word. Die groot wit tent onder by die hawe is die hoof attraksie maar ons het besluit om hier op die dek te kuier waar jy die musiek kan hoor en oor alles uitkyk. Ons geniet die miernes van bedrywighede wat onder ons in die straat afspeel en almal is vriendelik as ons van hier bo af groet en skerts met van die feesgangers. Reg onder ons is ʼn verhoog op die sypaadjie waar daar gisteraand en weer vanaand optredes sal wees, van die eetplekke se manier om gaste te lok vir etes en kuier. Die leë bottels wyn wat vinnig ophoop wil sê ons kuier al ʼn paar dae hier en almal geniet die boordjies snacks wat van tyd tot tyd bestel en verorber word.