Met die opklimslag terug na die parkeerterrein loop ons in nig Meeu en haar seun Dielies, sy vrou en kind vas. Hy werk in Kanada en het vir sy ma kom kuier. Ons groet vlugtig en gesels ʼn paar woorde. Het hom laas gesien toe hy nog ʼn tjokkertjie was.
Dis net na drie en ons ry hotel toe en gaan dring ʼn melkskommel op die stoep. Die wind is rustig en dis ʼn mooi uitsig hier van die stoep af. Voel of mens die hele dag net hier kan sit en chill met so uitsig. Ek en Anton merk dat daar beweging is by die hawe en sê vir die vrouens hulle moet die Hilux terugry kamp toe, ons sal kom. Ons stap hawe toe en sien die skuit waar hulle die laaste Geelsterte aflaai, dis mooi visse, amper net soos ons gister in Struisbaai gesien het. Ons vra of hulle nie een wil verkoop nie en wil eers nie aanvaar toe ons gesê word dat hulle alles klaar verkoop het.
Moedeloos vat ons die pad terug kamp toe maar net verby die hotel besluit ons ons het te maklik die antwoord aanvaar, draai in ons spore om en stap terug. Al die vis is reeds in groot kratte gepak en die skipper en ʼn netjies geklede man staan en gesels. Ons staan nader en vra ons of ons nie net een vis kan koop nie, waarop die netjies geklede man vra, watter een wil julle hê. Ons vra nie prys nie en kies ʼn redelike een, een wat padkos ook sal verskaf. Een van die manne maak hom vir ons skoon en vlek hom, soos ek daarvan hou. Die paar rand wat ons betaal sal maak dat ek elke dag my kos hier sal kom koop, vars en goedkoop. Die pad terug kamp toe is kort van die opgewondenheid in ons om so lekker vars vis te kon kry. Die vuur word aangesteek en Moeksie moet die sousie regkry. Die sonnetjie is nog nie onder nie en die weer is mooi, reg vir visbraai. Die stoele word uitgesit en ʼn wyntjie vul die glase as ons rustig raak en die middag verder geniet. As die kole reg is, skuif ek en Anton elkeen ʼn voetstoeltjie nader aan die braaier, net ʼn lekker hoogte om die rooster dop te hou en te draai. Die Geelstert is te groot en ons kry net een helfte in die rooster, vanaand sal ons twee keer moet braai, maar ek is vol energie, veral as ek die sousie (botter, knoffel en appelkooskonfyt gesmelt in ʼn bakkie) oor die vis druip en dit in die kole drup en die geur vul die lug. Vanaand kuier ek besonder lekker, moet die uitsien na die varsgebraaide Geelstert wees.