Dit was 31 Desember en ons was redelik vroeg al hier op Stilbaai om plek vir die aand te kom soek, maar vergeefs, als is volbespreek en net toe ons uitry, hier by die brug, merk ons die karton boks by die hek na die oop stuk veld waarop staan “Kamp R20 per persoon”. Daar is geen ander kampers nie, net ʼn kar of twee wat eenkant in die veld staan en ʼn man wat naby die ablusie op ʼn stoel langs sy motor sit. Ons ry in en vra die man of ons maar hier kan kamp vir die aand. Is julle seker julle wil hier kamp, vra hy. Dis Oujaar en hier gaan vanaand ʼn moerse party wees, honderde studente gaan die plek betrek en hier party hou tot more in die vroeë oggend ure. Ons sal nie kan slaap nie. Ek en Moeks is nie bang nie en aanvaar die offer om ons waentjie naby die ingangshek teen die draad op te slaan. Soos die dag gevorder het, het die motors begin inry, almal vol jongmense, meeste studente van Stellenbosch. Daar het ook ʼn koswaentjie of twee ingekom en langs ons kom opslaan, take aways vir wanneer die jongklomp honger raak. Die een waentjie leen my kragopwekker en ons kan gratis rib-rolls en hamburgers eet, net soveel ons wil en hulle was rêrig lekker.