Die krag is af as ons opstaan maar ons gasbottels is gou uit om die gebruiklike koppie koffie te kan geniet. Soms proe die koffie op die primuskop anders as die elektriese ketel, dalk ook maar my verbeelding. Ons verneem dat die krag storie ʼn redelike landwye affêre is en groot dele van die land het loadshedding.
Ons verkeer rustig by die kamp en gaan maak later ʼn draai by die wassery om lakens en handdoeke te was. Die aankoopielysie is opgestel en ons ry Stilbaai toe vir die aankope by Spar. Dis nie moeilik om vanaand se spyskaart uit te werk, as die lekker lamtjops op die winkelrak uitgestal lê nie. Ons ry verder na Stilbaai Oos en gaan ry ʼn draai deur die karavaanpark. Kan amper nie glo dis dieselfde plek wat elke Desember uit sy nate bars nie, nie ʼn enkele kamper in sig nie, verlate. Moet darem byvoeg, dis buite seisoen en ook nog nie naweek nie.
Die middagslapie terug by die kamp is net die regte medisyne, hoewel ek meer gelê en dink het aan Swaer Kobus se mense, Anna, die kinders, familie en vriende, my gebede trek vêr.