Na ontbyt stap ons na die riviermond se kant toe, wil oor die hangbrug oor die rivier gaan stap. Ons is lus vir stap en vat die Loerie wandelpad, tussen die kampterrein en die restaurant voor by die mond, wat redelik hoog teen die berg uitgaan tot by die Agulhas uitkykpunt, ʼn hout dek waarvandaan jy die mooiste uitsig oor die kamp aan die regterkant tot anderkant die riviermond aan die linkerkant het, met die see wat voor jou uitgestrek lê. Van hier af sien mense gereeld Dolfyne en ook Walvisse gedurende die wintermaande. Die paadjie vat jou deur dele van die woud, fynbos en oor baie stroompies en kom naby die Restaurant weer uit op die teerpad. Dit was ʼn modderspul toe ek en Moeksie laas hier gestap het en jy moes mooi trap om gly-gly die berg uit te kom.