Ewald en Anton sit al buite met ʼn koffie in die hand as ek my kop by die tent uitsteek. Dis weer ʼn perfekte oggend en daar is nie ʼn windjie wat roer nie. Almal is later op en ons maak reg vir ontbyt. Ewald en Carol moet vandag terug, het ander reëlings wat nog by die huis afgehandel moet word.
Die ontbyt is ʼn feesmaal en as ons klaar geëet het, help ons vir Ewald om op te pak. Ons ander geselskap, Anton se neef Lorette en Maryna is ook in die omgewing en hulle is genooi om vir die dag te kom kuier. Ons sien vir Ewald en Carol af as hy ʼn paar pakke vleis vir ons los om later te braai, hy gaan dit nie saam terugry huis toe nie. Ons was die skottelgoed en kuier rustig verder.