Almal is redelik vroeg op en ons geniet die koppie koffie as ons die verloop van die dag bespreek. Wil oppak en gaan kyk wat op Boesmansrivier aangaan, dalk ons volgende stop. Die oppak gaan vinnig en ons is vroeg in die pad. Hierdie deel van die Kaap tot by Port Elizabeth ken ons almal goed en het al by verskeie plekke hier gekuier en gekamp, so ons bly op die N2 verby PE tot jy anderkant die Addo is waar die R72 regs uitdraai in die rigting van Port Alfred. Eers maak ons brandstof vol op Bluewater Bay en doen aankope by die Spar. Ons ry verder tot by Boesmansriviermond om kampplek te soek. Die Boesmansriviermond kampterrein se hek is gesluit en die gras lyk lank. Dis jammer want ek het al by baie mense gehoor dis ʼn lekker plek, veral oor Desember. Dit neem nie lank om te besluit dat ons gaan aanbeweeg nie.