Dag 6 & 7

Dinsdag 26 April 2022

ROETE : C17, Keetmanshoop, B4, Aus, C13 Tiras Gasteplaas= 316 km

Dis nog voor die son sy kop uitsteek wat ek buite sit en my koffie geniet. Wil eendag terugkom hiernatoe en n paar dae hier kamp. Ek neem eers n paar fotos van die sonsopkoms voor ons begin afslaan, wil tussen agt en nege in die pad wees.

Dis net na agt as ons op die grootpad kom. In Keetmanshoop stop ons weer by die Spar, moet nou genoeg vooraad aankoop vir die volgende ses dae, behoort dan in Swakopmund te wees om weer aanvullings te doen. Ons koop ook ons volgende Super Ahwe voucher, gaan hom dalk nodig kry in die volgende paar dae.

Ons stop net voor twaalf by die garage op Aus om brandstof in te gooi. My oog vang die bordjie aan die oorkant van die straat wat sê kampterein. Dis as ons die winkeltjie instap wat Ewald die dame vra oor die kampplek. Sy sal gou die eienaar kontak, ons kan solank sit en n koffie geniet. Ewald word uitgesorteer, kan sy karavaan by die kampplek los en weer more kom haal. Ek help hom om die karavaan te gaan parkeer, nogal n staanplek met n kragpunt. Die opset hier lyk lekker met n netjiese ablusie, iets om te onthou vir die toekoms.

Ons groet mekaar en vat weer die pad, hulle Luderitz toe en ons Noord op die C13. Die grondpad is redelik goed en ons vorder mooi. Die landskap bly my bekoor, dis nie aldag dat jy hierdie grasvlaktes op hierdie roete sien nie, hom al baie gery.

Die bordjie wys ons moet links afdraai Tirool toe, kan die plaashuis en die kampplekke op n afstand sien. Moeksie klim uit om die hek oop te maak, maar wys hy is met n ketting en slot gesluit. Ek klim uit en hoor die hond in die vêrte by die plaashuis blaf. Dalk is die mense dorp toe, sal so rukkie hier wag. Na twintig minute besluit ek om toeter te blaas, maar geen beweging nie. Sal ek oor die hek klim en plaashuis toe stap of gaan ons aanbeweeg ? Ek het met my beplanning minstens een of twee alternatiewe plekke aangeteken sodat ons opsies het as dit gebeur of ons kry nie kampplek by my gekose plek nie.

Tiras is nog so 20 km Noord en ons besluit om daar te gaan aanklop. Dis half twee as ons by die plaashuis stop. Die vrou groet ons vriendelik en sê sy het kampplek beskikbaar. Haar naam is Anita Koch en sy is die eienaar. Sy verneem eers waarmee ons kamp, wou die boonste kampplek vir ons gee maar sê dit gaan moeilik wees met die weantjie en hy is bespreek vir more aand. Ek sê ons soek plek vir twee aande en dat Ewald en Carol moontlik more aand saam sal kamp. Haar tarief is ook aansienlik goedkoper as jy vir twee nagte kamp in plaas van een aand. 

Sy gee vir ons sleutels en verduidelik ons moet terugry grootpad toe, reguit oorry en die kampplek is so paar honderd meter verder aan, een half teen die koppie op en ons plek is onder langs die koppie. Daar is geen opvangs by die kampplek nie, maar hier by die huis is daar baie goeie Wi-fi sein. Ons is welkom om hier te kom sit as ons wil kommunikeer. Sy sê Tirool is al n geruime tyd gesluit, wonder net hoekom sit hulle nie n kennisgewing op die hek nie.

Ons kamp net onder die koppie aan die regterkant.

By die kampplek aangekom is ons baie aangenaam verras met die opset. Ons slaan op langs die groot steen struktuur en moet versigtig wees om nie weer n paar menne te buig nie, grond is plek-plek redelik hard. Die struktuur het n opwas, braaiplek, stoele en n tafeltjie binne. Boonop is daar n dak met latte wat lekker skaduwee bied oor die struktuur, dis n groot opset en kan n groot groep akkommodeer. Nou weet ons hoekom ons voor dooiemansdeur moes omdraai by Tirool, hier gaan ons lekker kuier. Die ablusie is rêrig baie netjies met lopende water wat deur sonpanele verwarm word. Dis ons privaat ablusie, die boonste kampplek het sy eie privaat ablusie. Anita was reg toe sy sê ons kan met gerustheid die water drink, lekker boorgatwater en het geen snaakse smaak nie. Aan ons agterkant is n skadunet met n opgeslane tent daaronder, glo jy kan hom huur as jy nie jou eie tent gebring het nie.

Dis voor drie as ons kamp staan en ek en Moeksie rustig sit en die wêreld bekyk, pragtige grasvlaktes omring deur berge. Die springkane en koringkrieke is hier ook n plaag, baie van hulle hier waar ons sit ook.

Ons stap later met die trappies op na die boonste kampplek, ook baie netjies met n besonderse vuurmaakplek en n dek met stoele en n tafel van waar jy n mooi uitsig oor die vlaktes en berge het. Ek verstaan nou wat Anita gesê het, gaan moeilik hier penne inslaan.

Ek ry later terug na die huis toe, wil net vir Ewald laat weet ons is nie by Tirool nie, sal sommer vir hom n pin drop. Anita bied vir my koffie aan en sê ek is welkom om binne by die eetkamertafel te sit en werk. Daar is tuinstoele en n bank buite in die mooi tuin en ek geniet die vars lug buite. Sy vertel my haar geskiedenis, dis n beesplaas, ongeveer 12 000 ha. Haar man is oorlede en haar seun van Windhoek sal oor n paar jaar die plek kom oorneem. Hier is wel gemsbokke en springbokke wat van tyd tot tyd op die plaas voorkom. Hier is verskeie staproetes en ook veldpaadjies wat jy met jou eie voertuig kan ry, tot onder die berge met pragtige rotsformasies.

Sy vertel ook hoe dit gekom het dat sy so sterk Wi-fi sein het, haar buurman op die buurplaas wou nie sukkel nie en het BAIE geld spandeer om sein op sy plaas te kry. Die sein strek tot hier en hy het gesê sy kan met graagte deel in die gratis gebruik daarvan.  

Dis net na sewe as die vuurtjie lekker brand met die hout wat ek by die plaashuis gekoop het. Die rustigheid is oorweldigend as die son sy kop agter die berge wegbêre. Ons mis vir Ewald en Carol, glo hulle geniet Luderitz.

Dis net toe ek die vleis van die rooster afhaal dat die groot swerm springkane hier aanland, duisende van hulle. Ek is verbaas, nie gedink hulle vlieg in die aand nie ! Daar is nog vlamme in die braaiplek en ek “braai” n klomp wat ek met die braaitang vang en ingooi. Daar is te veel, moet maar rustig wees en hulle verduur. Moeksie spuit die op die grond met Fendona, maar dit maak hulle niks. Na ete raak dit n speletjie, brand en spuit almal wat in sig is. Gelukkig lyk dit of die swerm verby is, want daar kom nie nuwes in nie, maar honderde sit teen die stene en op die grond. Moeksie sien sy gaan hierdie oorlog nie wen nie en raak later rustig, ook maar goed so.

Ek dink Moeksie is moeg van die oorlog, want sy gaan vroeg inkruip. Ek gooi nog hout op die vuur, wil nog bietjie bosveld Tv kyk. As ek later in die tent kom, lê Moeksie nog lekker en lees op haar kindle. Ons gesels n rukkie en raak aan die slaap na n wondelike dag.

Woensdag 27 April 2022

Voor die son sy kop uitsteek is ons besig om n koppie koffie te geniet en die dag te sien ontwaak. Die rustigheid en stilte is hoorbaar, net die natuur en jou eie gedagtes. Mens voel klein en hier sal ek lank kan kamp, net weer jouself vind en mens word. Ek wil eers weer na die huis toe ry om seker te maak Ewald het my boodskap gekry van waar ons is. As ek oor die grootpad ry moet daar eers n foto geneem word, die C13 wat hier deur die vlaktes loop tot deur die Tirasberge daar doer in die verte, n mooi gesig. 

Anita nooi my weer in en bied koffie of iets te drinke aan. Ek gaan sit weer by die tafel in die tuin en is bly om te sien Ewald het my boodskap gelees, nou is ek rustig want hy weet waar ons is. Hy het ook n paar fotos gestuur van hulle wedervaringe, maar niks gesê van wanneer ons hulle kan verwag nie. Ek doen my plasings op fb en vat weer die pad terug kamp toe. Ek en Moeksie wil die koppie agter die kampplek uitklim na ete en ook nog na die “boskamp” gaan kyk waarvan Anita ons vertel het.

Ek maak weer die gewone vanoggend, gebakte eier, spek en n broodjie. Ons klim in die bakkie en ry Wes met die tweespoor paadjie aan. Na n kilometer of twee draai ons Suid in die rigting van die berge. Die boskamp is net voor die voet van die berge, netjies versteek tussen die rotse. Dis n basiese maar netjiese opset, sal maklik hier ook kamp. Dis veral die buitestort wat Moeksie se oog vang, kan net lekker wees.

Dis al na twaalf as ons die klimmery begin, verby die boonste staanplek en regs om al teen die koppie op. By tye redelik uitdagend as ek vir Moeksie moet help wat net voor die top sê ek moet alleen verder. Die uitsig van hier bo af is iets om te aanskou, die grasvlaktes en die berge, ongelooflik mooi. Ook n pragtige uitsig oor die twee kampplekke hier onder.

Boonste staanplek liks en ons staanplek regs

As ek en Moeksie terug is by die kamp gaan maak ons weer n draai by die plaashuis, sy wil die boodskappe op haar foon ook opdateer. Daar is niks van Ewald wat aandui of hulle vandag of dalk eers more kom nie, sal maar wag en sien. Ek sê weer vir Nita van Ewald en Carol wat dalk vanmiddag sal kom, anders stop hulle dalk net more hier en ry ons saam verder.

Dis net voor drie as ek n voertuig hoor nader ry, dis Ewald en Carol. Hulle was klaar by die plaashuis en het betaal vir vanaand. Ek wys vir Ewald om sommer hier voor die opening van ons “huis” te parkeer, nie nodig om enige tent of skerm op te slaan nie, so dit gaan vinnig. Ons sit lekker en luister na hulle ervaringe, die besoek aan Kolmanskoppe, die Dias kruis, Shark Island se kampplek, die ou kerk en ook lekker geëet by Barrels. Hulle het by Obelix gastehuis geslaap, ken hom, ook al daar oorgeslaap.

Ons hoor weer n voertuig, die mense van die boonste kampplek wat ingekom het. Dis lekker van die plek, hoewel daar seker drie tot vier voertuie op n kampplek sal pas, het jy alleen gebruik van die hele kampplek en sal Anita nie ander gaste saam met jou plaas nie.

As die son die berge bekruip aan die westekant, maak ons vuur. Dis Ewald en Carol se beurt vir kosmaak en ek is in my noppies toe ek hoor hy het tjops uitgehaal vir vanaand. My gunsteling, tjops en n braaibroodjie. Die gras vertoon soos koringvelde as dit skemer raak, n onbeskryflike prentjie.

Ons kuier nog laat om die kampvuur as ons more se roete bespreek. Sou oorspronklik by Kanaan of dalk Namtib Dessert Lodge oorgeslaap het, maar ek het daarteen besluit, gaan deurry tot by Sossus Oase. Ons gaan wel die ompad met die D707 vat wat volgens my n mooier natuurskoon het as Helmeringhausen om, ken altwee die roetes.

As Moeksie bed toe gaan pak ek n hele klomp goed in die bakkie, wil nie later as agt uur in die pas wees nie. As ek ook inkruip, sê ek en Moeksie vir mekaar hoe lekker dit is om weer vir Ewald en Carol by ons te hê.