Dag 8 & 9

Donderdag 28 April 2022

ROETE : C13, D707, C27 Sossus Oase = 291 km

Ons is almal vroeg uit die vere, die ongeveer 300 km is grondpad en ek weet nie hoe lyk die pad na al die reën van die seisoen nie. Ons drink n laaste koppie koffie en ry terug plaashuis toe om die sleutels te gaan teruggee.

By die grootpad draai ons links terug op die C13 en na 7 km weer regs op die D707. Die eerste deel is redelik goed maar raak later redelik sanderig met dele met redelik klip. Oral langs die pad kan jy sien waar die riviere uit die veld uit gespoel het, moes n gesig gewees het om dit te kon sien.

Na ongeveer 25 km op die D707 sê ek oor die radio die plek aan die linkerkant is Gunsbewys, al baie oor hom gelees. Ongelukkig is die vrou terug Duitsland toe en ek weet nie of die plek nog dieselfde is sonder haar daar nie. Moet maar eendag kom kyk. Later wys ek weer vir Ewald die plek aan die regterkant uit, Namtib, waar ons al lekker gekamp het. Die grasvlaktes al langs die roete bly my verbaas, nog nooit hierdie vlaktes met soveel gras bedek gesien nie. Hier en daar ry ons verby n pan met groen gras bedek, die duine in die Namib-Naukluft Nasionale park in die agtergrond sigbaar.

As ons by Kanaan se bordjie verbyry is ek half spyt ons ry verby, wil nog altyd gaan kyk hoe lyk die plek – dalk n volgende keer. Die pad raak al meer klipperig en die laaste klompie km van die D707 vat ons rustiger, wil nie nou n pap wiel kry nie. Die driwwe is redelik uitgespoel en klipperig, vat hulle maar elke keer stadig. Net as jy weer lekker op spoed is, maak die volgende drif sy verskyning en soms moet ek redelik haastig spoed verminder om te verhoed dat die bakkie en die waentjie nie deurstamp nie. As ons weer by die C27 aansluit, draai ons links en ry die 24 km na Betta redelik vinnig, die pad is redelik.

Van hier af is dit nog ongeveer 140 km tot by Sesriem. Hierdie pad al baie gery, dele kan soms baie mooi wees en dan dele baie klipperig. Ons vorder goed en stop gereeld om die natuur op kamera vas te lê, sal hom nie gou weer met sulke grasvlaktes beleef nie.

Die landskap wat ons nou in ry vertel my ons is nie meer vêr nie, herken die berge en duine.

Dis net na een as ons indraai by Sossus Oasis, ook n wel bekende plek vir my. As ons by die garage – waar jy inboek – navraag doen oor kampplek word ons meegedeel dat al die privaat ablusie staanplekke bespreek is, moontlik net een beskikbaar. Daar is wel n plek beskikbaar by die boskamp, n staanplek nie te vêr van die ablusie af nie. Ons besluit op die boskamp en betaal vir twee nagte. Ek het nog nie in die boskamp gekamp nie en is half opgewonde om hom te gaan beleef.

Hier is n hele aantal kampplekke in die boskamp, sommige baie groot waar die Overlanders kamp. Ons kampplek het gelukkig n groot doringboom vir koelte en n lekker braaiplek met n kragpunt. Die opslaan gaan redelik vinnig en die penne sukkel nie om in die grond in te gaan nie. Onthou toe ek eenmaal by die privaat ablusie staanplekke gekamp het kon ek skaars n paar penne ingekap kry, baie hard en klipperig. Hier gaan ons lekker kamp !!

Ons ry later terug garage toe, die sein hier by die kampplek is swak en daar is gratis Wi-fi. Ons is n rukkie besig en ry later terug kampplek toe, mag nie die sonsondergang mis nie ! Ek sien hoe die trok op die kapplek langs ons stilhou en dis as die jongklomp buitelanders uitklim en tente begin opslaan dat ek by myself dink – vannaand gaan ons moeilik geslaap kry – die Overlanders kan nogal raas en al baie gekry dat hulle die ablusies vreeslik bemors.

As die son laag sak in die weste sien jy oral mense met n kamera in die hand, reg om die “oomblik” vas te vang. Ek steek vuur aan en word deel van die “sonvangers”, dis mooi vanaand. Die paar wolkies in die lug gee die regte kontras vir mooi fotos.

Die Overlanders kuier besonder rustig om hulle kampvuur op die kampplek langs ons en jy hoor hulle skaars.  Moeksie het gaan stort en rapporteer dat die ablusie baie skoon is, nogal verbaas want die Overlanders is reeds daar deur. Dis Ewald en Carol se kosbeurt. Sy gebruik haar oondjie en sit n feesmaal voor met die heerlikste gabakte groente. Tydens ete bespreek ons more se program, Sossusvlei, Dooievlei en Sesriem Canyon moet besoek word, n vol dag. Die windjie stoot nogal en dis nie lank na ete wat almal bed toe is nie.

Ek pak solank n klompie goedjies in die bakkie wat ons more gaan nodig kry vir ons brunch en maak die agterste sitplek leeg, ons almal ry more met my bakkie. 

Vrydag 29 April 2022

Ek is – soos gewoonlik – op voor die son sy kop uitsteek. Die sonsopkoms is ook baie mooi, moet hom vasvang op fotos. Met my tweede koppie koffie in die hand stap ek n entjie weg en aanskou die skildery wat voor my ingekleur word, elke minuut n ander prentjie. Ek kan net in verwondering staar, besig met my eie gedagtes. Ek voel klein en geseënd !

Ons ry oor die grootpad reg oorkant ons kamp en is net voor agt by die kantoor waar ons die ingangsfooi moet betaal na Sossusvlei. Die 60 km tot by Sossusvlei is n mooi teerpad maar die spoedgrens is 60 km/uur. Met n stop hier en daar vir fotos is dit maklik een en n half uur se ry tot daar, selfs langer. Ons is ook nie vêr in nie toe ons eers die lugbalonne wat gereed maak vir hul landing, moet afneem. Glo dit moet nogal iets besonders wees om dit hier te doen, wie weet, dalk eendag.

Hoewel ek redelik fotos van die gebied gesien het wat geneem is tydens en na die reën, is ek verstom oor die baie gras in die veld. Die klomp dooie bome vertel egter die geskiedenis van die groot droogte n paar jaar terug.

Ons besluit om nie by duin 45 te stop nie, sal kyk as ons terugkom. Daar is reeds heelwat mense besig om hom te klim, was ook al n keer of wat daar bo.

Duin 45

n Ent verder is hier n paar gemsbokke langs die pad, eers weer fotos neem.

As ons by die parkeerarea aankom is dit n bedrywigheid, baie voertuie wat parkeer staan en gidse wat kom aanbied dat jy saam op hulle voertuie die sandpad na die vlei moet ry. Ek ken al die storie en blaas die Hilux se wiele af tot 1.5 bar, dis nie baie warm nie en dit behoort voldoende te wees. Toe ek jare terug die slag met my 2×4 hier in is, het ek afgeblaas tot 0.8 bar en het gelukkig nie vasgesit nie. 

Nie te vêr in nie, ry ons by die eerste voertuig verby wat vasgeval het. Gelukkig is daar n gids wat gestop het en aan die man verduidelik hy moet die wiele almal mooi oopgrawe en weer probeer ry. Ons stop by Dooievlei se parkeerarea, gaan hom eers besoek en dan brunch maak by Sossusvlei.

Dis n stewige stappie tot by Dooievlei. n Paar honderd meter voor die vlei gaan ek links teen n duin op, wil hom van bo af weer sien. Die sand is los teen die duin uit en as ek die onderkant van die kruin bereik, moet ek eers asem skep. Die kruin loop nog vêr hier voor my uit tot bo en ek begin wonder of ek nie maar moet terugdraai ondertoe nie. Ek byt vas en vat hom stadig tot bo, n mooi uitsig van hier bo af. Die landskap is ongelooflik !

As ek heel bo op die kruin is, het ek n mooi uitsig oor Dooievlei.

Dooievlei

Ek staan n rukkie en bewonder die omgewing en die vlei, woorde kan dit nie beskryf nie.  Elke keer wat ek al hier was is dit anders, sien elke keer iets nuut raak. Ek maak seker alle items is goed vas in my sakke voor ek die duin afgaan, groot treë teen die skuinste af en dis sekondes toe ek onder staan, BAIE makliker en vinniger af as op. Ons stap in die vlei rond en neem fotos. Elke boomstomp vertel sy eie storie.

Ons stap rustig terug bakkie toe en ry verder tot by Sossusvlei. Hier is baie voertuie maar ons is gelukkig om n lekker ou groot doringboom oop te kry waar ons stop en ons goed aflaai. Ons gaan rustig wees en die stoele, tafel, stoof en ander goed word afgelaai.

Na brunch stap ek af tot by die water in die vlei. Ek het hom al droog gesien en ook met water in, nie so vol soos nou nie. Oral is die tekens van afgelope seisoen se stormwater sigbaar.

Sossusvlei met Big Mama duin regs agter

Na brunch is ons eenstemmig, genoeg duine geklim vir vandag, gaan nie Big Mama aandurf nie. Ons vat die pad terug en praat die hele tyd oor die landskap om ons, dis onbeskryflik mooi.

Ons gaan eers n draai maak by Sesriem Canyon voor ons teruggaan kamp toe. Het verskeie videos gesien wat wys hoe die watermassas hom inspoel. Wil hom weer gaan sien.

Ons is drie uur terug by die kamp en Ewald en ek gaan die swembad aandurf. Die water is fris, maar ek bly n paar minute binne, koel lekker af. Ek en Ewald ry na die garage waar ons brandstof volmaak, spaar tyd vir more oggend. As die son begin sak is almal weer op hul poste met selfoon of kamera in die hand. 

Die windjie roer en ek moet die gasbottel mooi met die skerm toemaak om te voorkom dat die gas doodwaai. Moeksie is besig met n lekker kerrie potjie, net die regte ding vir vanaand.

Na ete sit ons en bespreek more se roete. My oorspronklike plan was om by Kries se Rus oor te slaap maar het intussen verander, wil eerder by Rostock Ritz kamp. Ons gaan ook by Solitair stop vir n ietsie te ete, so ek wil nie te laat wegkom nie, so tussen agt en nege.

NOG ONDER KONSTRUKSIE – KOM LEES LATER VERDER.